Marijke en Werner Coetser 

Die Getroud met rugby-akteurspaar het in Maart afgehaak. Marijke vertel hulle is tans by haar ouerhuis in Bethlehem in die Vrystaat.

View this post on Instagram

My beautiful family! In all this chaos in the world, treasure what is important, stop, appreciate what you have and love unconditionally #myfamily #epimaxfamily #mykids #unconditionallove

A post shared by Marijke Coetser (@marijkecoetser) on

 “Ek het oulike Paasfees-aktiwiteite van Pienkvoet-Pret wat ons saam met Juwan gaan doen. Dis Paasfeeskoekies wat ons oor twee dae bak, en elke stap van die proses het 'n Bybelversie wat ons doen, net om weer terug te kom na die ware betekenis van Paasfees,” sê Marijke.

Juwan (9) is Marijke se seun uit haar vorige huwelik. Sy en Werner is ook die ouers van 'n agt maande oue dogtertjie, Layla.  

“Daarna gaan ons lekker Paaseiers vir Juwan wegsteek in die tuin, dis iets waarna hy al heel jaar uitsien. Layla is nog 'n bietjie klein so sy gaan sommer net kyk wat boetie alles doen. Dis koud en dit reën in Bethlehem. Verder gaan ons as gesin saam met my ouers kuier, 'n koffietjie drink en bordspeletjies speel,” laat sy hoor. 

Minki van der Westhuizen

Die reën is vir die televisieaanbieder Minki van der Westhuizen en haar man, die oud-rugbyspeler Ernst Joubert, 'n beslissende faktor in die Paaseier-soektog wat hulle vir hul dogters, Katerien (6), Elise (5) en Elsa (2), beplan. 

“Ek is alreeds aan die beplan vir ons ete vir Paassondag," vertel Minki. “Ek beplan om 'n lekker boontjiebredie te maak met sommer 'n beetslaai en lekker tamatie-en-uie slaai daarby. Ek is ook net lus vir bak en brou in die inperkingsperiode, so ek het besluit ek gaan cupcakes bak of 'n hasie-koek. En ons sal vir seker vir die kindertjies Paaseiers wegsteek.

"Dit lyk of dit gaan reën in die Kaap hierdie naweek, so ons sal dalk sommer al Vrydag die paaseiers wegsteek.”

“Dis nogal vreemd omdat mens vergeet watter dag dit is en watter tyd van die dag dit is. Maar dis nogtans rerig wonderlik om as gesin so baie kosbare tyd saam te spandeer,” vertel Minki oor die staat van inperking wat tans in plek is. 

“Ons is by die Moedergemeente in Stellenbosch en ons het Sondag sommer hul aanlyn preek gekyk. Ons is baie bewus van die oploop na Goeie Vrydag en Jesus se kruisiging en waaroor dit alles gaan," sê Minki. 

“Maar vir my is dit belangrik dat my dogters weet hoekom ons dit doen en hoekom ons Paasfees kan vier,”  sê sy. 

Nadia Beukes

Die aktrise- en televisieaanbieder Nadia Beukes is tans swanger met haar en haar man, die sakeman David de Villiers, se tweede seuntjie.

Nadia en David gaan Paasnaweek saam met hul 18 maande oue seuntjie, Davey, tuis deurbring. 

“Ek dink die belangrikste ding vir my is om tydens hierdie Paastyd opnuut bewus te raak van God se genade, goedheid en guns. Veral in 'n tyd soos hierdie waar COVID-19 'n geweldige impak op die wêreld het, het ek beslis besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees en dit is wat ek graag tydens Paasnaweek sal wil vier.

"Ons gaan sommer net lekker braai, tyd saam spandeer, vir Davey paaseiers in die tuin wegsteek en asem skep,” vertel Nadia.