Waarom? Dié vraag het ál meer by Robin Williams gespook toe hy al sowat 35 jaar as vermaakkunstenaar en meer as 60 jaar as mens agter die rug gehad het. Wat bring dit hom nog in die sak om daarmee voort te gaan, en hoekom voel hy verplig om dit te doen?

Hy het toe reeds feitlik al die prestasies behaal waarop hy in sy veld kon hoop, die grootste suksesse gesmaak, die meeste van die belangrike pryse gewen.

Teen 2013 was die werk minder volop as voorheen en nie naastenby so winsgewend nie.

Dit het gelyk of hy aan die vooraand daarvan was om tot sy beroep terug te keer toe hy ’n rol in die nuwe televisie­komediereeks The Crazy Ones kry. Maar ná die uit­sending van die eerste episode was die resensies louwarm.

“Williams lyk flou,” het ’n resensent geskryf.

“En die program ook.”

Kwale steek kop uit

’n Maand later het Robin ’n rits kwale begin ontwikkel. Die erns daarvan het gewissel en oënskynlik het dit nie met mekaar verband gehou nie. Hy het maagkrampe en slegte spysvertering gehad en was hardlywig. Hy het gesukkel om te sien, om te urineer, om te slaap.

Sy linkerarm het begin bewe, sy stem was yler, sy postuur krommer, en soms het dit gelyk of hy versteen waar hy staan.

Sy derde vrou, Susan Schneider, met wie hy in 2011 getroud is, was daaraan gewoond dat hy taamlik senuagtig is, maar nou het dit gelyk of sy angsvlakke die hoogte in skiet.

Robin by sy derde vrou, Susan Schneider. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dit was soos ’n eindelose rits simp­tome, en nie almal sou gelyk kop uitsteek nie,” sê sy.

“Dit was soos om die speletjie slaan-’n-mol te speel. Watter simptoom kom dié maand na vore? Ek het gewonder of my man ipekonders het. Ons het dit op­gevolg en geen antwoord gekry nie, en teen dié tyd het ons al alles probeer.”

Sy medekomediant Billy Crystal sê ­Robin het teenoor hom laat blyk hy is ongemaklik, maar nie hoe erg dit was nie.

“Hy het nie gesond gevoel nie, maar hy het my nie vertel wat aangaan nie,” sê Billy.

“Hy sou sê: ‘Ek’s ’n bietjie broos.’ Ek het nie geweet wat aan die gang is nie, behalwe dat hy nie gelukkig is nie.”

Robin se voorkoms skok vriende

Later daardie jaar het Billy en sy vrou, Janice, Robin genooi om saam met hulle in Los Angeles te gaan fliek. Hulle was geskok toe hulle sien hoe maer en tenger hul vriend lyk.

Oor aandete agterna was Robin stil, onthou Billy.

“Partykeer het hy net uit­gereik, my skouer vasgehou en na my gekyk asof hy iets wou sê.”

Toe sy vriende die aand van hom afskeid neem, het Robin skielik emosioneel geword.

“Hy het my en Janice omhels en begin huil,” vertel Billy.

“Ek het gevra: ‘Wat’s fout?’ Hy het geantwoord: ‘O, ek is net baie bly om julle te sien. Ons het mekaar te lank laas gesien. Julle weet ek is lief vir julle.’ ”

Terwyl hulle huis toe gery het, het hy en Janice ’n rits oproepe van Robin gekry. Hy het aarselend geklink en gesê hoeveel hy hulle waardeer.  

“Alles is piekfyn, ek is net so lief vir julle, tot siens,” het een oproep gelui. Vyf minute later het die foon weer gelui: “Het ek te stroperig geraak? Ons moet mekaar gou weer sien.”

Die akteur Billy Crystal en Robin was baie goeie vriende. Foto: Gallo Images/Getty Images

Beur voort ten spyte van pyn

Vroeg in 2014 was Robin in Vancouver, Kanada, waar Night at the Museum: Secret of the Tomb, die derde rolprent in die gesinskomediereeks, geskiet is.

Al was dit sy eerste fliek met ’n groot begroting in ’n lang ruk, het baie van die mense na aan hom gehoop hy sou dit nie aanpak nie. Vir hulle was dit duidelik hy moet halt roep met sy loopbaan tot die raaisel­agtige siekte onder beheer is.

Maar Robin was vasbeslote om aan te hou werk, selfs al verduur hy pyn.

“Dit was asof hy geen bekommernis gehad het wanneer hy heeltyd werk nie,” sê Cheri Minns, die rolprent se grimeer­kunstenaar.

“Werk het hom aan die gang gehou. Dit was die ware liefde van sy lewe. Bo sy kinders, bo alles. Wanneer hy nie gewerk het nie, was hy ’n dop van homself. En wanneer hy gewerk het, was dit asof ’n gloeilamp aangeskakel word.”

Maar die opvolg van Night at the Museum was “ ’n nagmerrie”, voeg sy by.

“Hy moes nie daardie fliek gemaak het nie. Dis hoe ek daaroor voel.”

Woorde ontwyk hom

Teen die tyd dat hy in Vancouver aangekom het, was sy gewigsverlies ernstig en sy motoriese verswakking moeiliker om weg te steek. Selfs sy eens wonderbaarlike geheue het hom in die steek gelaat; hy het gesukkel om sy woorde te onthou.

“Hy was nie in ’n goeie toestand nie,” sê Cheri. “Hy het aan die einde van elke dag in my arms gehuil. Dit was aaklig.”

Later het sy Robin se bestuurders gebel en vir hulle gesê hy stuur op ’n breekpunt af.

“Ek het vir sy mense gesê: ‘Ek is ’n grimeerkunstenaar; ek het nie die vermoë om wat met hom aan die gebeur is te hanteer nie.’ Hy het na my gekom en my in sy vertroue geneem, maar ek was bang ek sê die verkeerde ding.

“Saans het ek op my rekenaar inligting gesoek oor hoe om met ’n paranoïese mens te praat sodat ek nie iets verkeerds sê nie.”

Susan het in Kalifornië agtergebly, maar was gereeld in kontak met Robin en het lang gesprekke met hom gevoer oor sy onsekerhede wat ál erger geword het.

Onder sy dokter se toesig het hy verskillende antipsigotiese middels begin drink, maar dit het gelyk of elke voorskrif sommige van die simptome verlig terwyl dit ander laat vererger.

'Soos ’n 747-vliegtuig wat sonder ’n onderstel kom land'

Toe Robin vroeg in Mei terugkeer huis toe, was hy “soos ’n 747-vliegtuig wat sonder ’n onderstel kom land”, sê Susan.

“Robin was besig om die kluts kwyt te raak en hy het dit besef,” sê sy.

Hy wou bitter graag “sy brein herlaai”, sê Susan, maar was in ’n spiraal van paranoia vasgevang wat om en om in sy kop gedraai het.

Elke keer wanneer dit gelyk het of hy omgepraat is om sy jongste obsessie te laat vaar, het hy opnuut daarmee behep geraak. Dit was weer vars in sy gedagtes, asof hy vir die eerste keer daarop afkom.

’n Paar dae ná sy terugkeer van Vancouver het Robin een aand uit ’n onrustige slaap wakker geword, doodseker daarvan dat ’n groot slag sy vriend Mort Sahl gaan tref. Hy wou onmiddellik na die komediant se woonstel ry om te gaan kyk of hy veilig is, en Susan moes hom oortuig sy vriend verkeer nie in ­gevaar nie.

Hulle het heelnag daaroor bly praat tot albei eindelik teen halfvier die oggend aan die slaap geraak het.

Die diagnose

Later daardie maand het Robin eindelik ’n verklaring gekry vir die traliewerk van verstrengelde siektes wat hom teister. Parkinsonsiekte is by hom gediagnoseer, ’n aftakelende steuring wat die sentrale senustelsel aanval, motoriese en kognitiewe vaardighede aantas, en eindelik tot die dood lei.

Vir Robin het een van sy diepste, lewenslange vrese waar geword: om te hoor hy het ’n siekte wat hom van sy verstandelike ver­moëns sou beroof en dat hy eindelik ’n leë dop van ’n mens sou wees.

Al is hy bemoedig dat parkinson­pasiënte dikwels hul simptome in toom kan hou wanneer hulle eers ’n middel gevind het waarop hulle reageer, was Robin nie daarvan oortuig nie, vertel Susan.

Hy het die nuus van sy diagnose met sy kinders gedeel – Zak (35), uit sy eerste huwelik met Valerie Velardi, en Zelda (29) en Cody (27), uit sy tweede huwelik met Marsha Garces. Hy het ook sy beste vriende daarvan vertel. Billy onthou hoe Robin die verpletterende nuus aan hom oorgedra het.

Robin in 2005 op die rooitapyt by die Golden Globes saam met sy tweede vrou, Marsha Garces (naasregs), sy skoondogter Alex (links) en kinders, Zak (naaslinks), Cody en Zelda. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Sy nommer verskyn op my foon en hy sê: ‘Haai, Bill.’ Sy stem is skril. ‘Parkinsonsiekte is pas by my gediagnoseer.’ Ek het hom nog nooit so bang gehoor nie,” sê Billy.

“Hy was die dapperste komediant en dapperste kunstenaar wat ek ooit ontmoet het. Maar nou was hy net ’n bang man.”

Simptome

Ná Robin se dood het ’n chirurgiese patologieverslag gewys hy het eintlik aan Lewy-liggaamsiekte (ook bekend as Diffuse Lewy-liggaamsiekte) gely.

Mense met dié toestand toon dikwels die motoriese simptome van parkinsonsiekte en ander neuropsigiatriese verskynsels soos depressie en soms hallusinasies. Hulle ondergaan dikwels drastiese persoonlikheidsveranderings en hul helderheid van verstand kan soos ’n ligskakelaar aan en af flikker.

Maar weens die simptome wat oorvleuel, word ander toestande soms verkeerdelik by die pasiënte gediag­noseer, onder meer parkinsonsiekte. Tragies genoeg was dit die geval met Robin en sou dit hom in sy laaste maande diep ongelukkig maak.

By die huis het Susan Robin se toestand ál meer sien versleg. Wanneer hulle saans probeer slaap het, het hy in die bed rondgerol. Meestal sou hy wakker wees en oor die jongste waanbeelde wou praat wat sy verstand opgetower het.

Robin het vele behandelings beproef om sy siekte in bedwang te kry. Hy het steeds ’n terapeut gespreek, saam met ’n afrigter geoefen en motorfiets gery. Hy was selfs by ’n spe­sialis aan die Stanforduniver­siteit wat hom geleer het om homself te hip­notiseer. Maar elk van dié stra­tegieë kon net soveel vermag.

Intussen het Robin in ’n ander kamer as Susan begin slaap.

Opname in 'n hernuwingsentrum

In Junie het hy hom in die Dan Anderson-hernuwing­sentrum in Center City, Minnesota, laat opneem. Dié inrigting vir die behandeling van ver­slawing is soortgelyk aan die een in Oregon waar hy in 2006 behandel is toe hy weer in alkoholisme verval het.

Sy persverteenwoordigers het aangekondig hy “benut bloot die geleentheid om op sy voortgesette toewyding, waarop hy steeds uiters trots is, te fokus en dit te verfyn”.

Sy verblyf in die rehabilitasiesentrum was Robin en Susan se onelegante kuur vir ’n probleem waarvoor geen oplossing bestaan nie. Ten minste het dit Robin op ’n kampus onder streng toesig afgesonder gehou. Daar kon hy mediteer, joga doen en verder op die 12-stappe-rehabilitasieprogram fokus wat hom hopelik sy siekte sou help bestuur.

Maar van sy vriende het gevoel sy verblyf in ’n kliniek vir dwelm- en drank­rehabilitasie is sinloos terwyl hy aan ’n onverwante fisieke toestand ly.

“As iemand depressief is en medikasie vir ’n mediese toestand gebruik wat depressie kan veroorsaak, sê jy nie net vir hulle om deur die 12 stappe te werk nie,” sê Cyndi McHale, ’n produksieassistent wat deur die jare nou met Robin saamgewerk het.

“Hy het veel meer nodig gehad.”

'Ek het my misreken'

Laat in Julie, kort ná sy terugkeer van die rehabilitasiesentrum, was Susan in die stort toe sy Robin by die wasbak in die badkamer sien staan. Hy het intens na sy spieëlbeeld gestaar. Toe sy aandagtiger na hom kyk, sien sy hy het ’n diep snywond aan sy kop. Hy het dit kort-kort met ’n klein handdoek afgevee wat met bloed deurweek was.

Sy het besef Robin het sy kop teen die houtbadkamerdeur gekap en op hom begin skree: “Robin, wat het jy gedoen? Wat het gebeur?”

Hy het geantwoord: “Ek het my misreken.”

“Hy was kwaad, want teen dié tyd was hy woedend vir homself oor wat met sy lyf aangaan, oor wat met sy verstand aangaan,” het Susan later verduidelik.

“Hy sou soms in ’n beswyming gaan staan en dan versteen. Hy het dit toe pas met my gedoen en was hoogs ontsteld.”

Op Sondagaand 10 Augustus was Robin en Susan saam by die huis toe hy op sy ontwerperspolshorlosies begin fikseer en bang word dit word gesteel. Hy het ’n paar in ’n sokkie geprop en teen seweuur na sy assistent, Rebecca Spencer, en haar man, Dan, se huis 4 km daarvandaan gery om vir hulle die horlosies vir veilige bewaring te gee.

'Nag, my lief'

Nadat hy teruggekom het, het Susan begin regmaak om te gaan slaap. Hy het liefdevol aangebied om haar voete te masseer, maar dié aand het sy gesê dis nie nodig nie en hom in elk geval daarvoor bedank.

“Soos ons altyd gemaak het, het ons vir mekaar ‘Nag, my lief’ gesê,” vertel Susan.

Robin het verskeie kere by hul slaap­kamer in- en uitgestap en in sy kas rondgegrawe. Op die ou end is hy daar weg met ’n iPad om ’n bietjie te lees. Susan het dit as ’n goeie teken beskou – sy het hom toe maande laas sien lees of televisie kyk.

Sy het hom teen halfelf die aand uit die kamer sien stap na die aparte slaap­kamer waar hy geslaap het. Dit was onder in ’n lang gang aan die ander kant van hul huis.

Toe Susan die volgende oggend wakker word, het sy opgemerk die deur na Robin se kamer is nog toe, maar sy was verlig hy kry eindelik die rus wat hy nodig het.

Rebecca en Dan het na hul huis gekom. Toe Rebecca vra hoe dit die naweek met Robin gegaan het, het Susan op­timisties geantwoord: “Ek dink hy raak beter.”

Susan wou eers wag tot hy wakker word sodat hulle saam kon mediteer, maar toe hy teen 10:30 nog nie wakker is nie, is sy by die huis weg om ’n paar sake te gaan afhandel.

Teen 11:00 was Rebecca en Dan ­bekommerd omdat Robin nog nie uit sy kamer gekom het nie. Rebecca het ’n briefie onder die deur van sy slaapkamer ingestoot om te vra of hy oukei is, maar het geen reaksie gekry nie.

Om 11:42 het Rebecca vir Susan ’n teksboodskap gestuur dat sy Robin gaan wakker maak. Met ’n skuifspeld het sy die slot van die slaapkamerdeur oop­gedwing. Toe sy binnegaan, het sy ’n gru-­ontdekking gedoen: Robin het hom met ’n belt opgehang en was reeds dood.

Later die middag het Susan vir Robin gegroet.

In ’n slaap­kamer wat vir tienerseuns gemeubileer is met ’n stapelbed, videospeletjiekonsoles en skoolbenodigdhede het sy langs hom gaan staan.

“Robin,” het sy gesê, “ek is nie kwaad vir jou nie. Ek blameer jou glad nie. Nie in die minste nie. Jy het so hard baklei en jy was so dapper. Ek het jou met my hele hart lief.”

Sy het sy hare gestreel, na sy gesig gekyk en hom ’n laaste keer op sy voorkop gesoen. Sy en ’n polisiekapelaan het by sy lyk gebid voor dit op ’n draagbaar vasgegespe en weggeneem is.

Geen selfdoodbrief is gevind nie. Geen bewys is op Robin se selfoon en iPad gevind dat hy selfdood oorweeg het nie. ’n Toksikologieverslag sou later wys die enigste middels wat met sy dood in sy gestel was, was Mirtazapine, ’n anti­depressant, en Sinemet, wat die simp­tome van parkinsonsiekte verlig.

Susan is in die loop van die polisieondersoek gevra of Robin ooit selfdood met haar bespreek het en sy het gesê hy het nie, nie eens ná sy diagnose nie.

Toe die lykskouer Robin se lyk onder­soek, het hy verskeie “oppervlakkige vertikale en horisontale snywonde” aan sy linkerpols gekry met “ ’n geringe hoeveelheid bloed teenwoordig”. Droë bloed is ook aan ’n knipmes in die slaapkamer gevind en aan ’n waslap wat in die aangrensende badkamer agtergelaat is.

'Djin, jy is vry'

Robin was weg. Afgesien van dié onontkombare feit was niks seker nie en het niks sin gemaak nie. Maar voor sy familie oor sy dood kon rou, moes hulle vir die hele wêreld sê Robin Williams is dood.

Onder die foto’s wat daardie dag die wydste in die sosiale media versprei is, is ’n bittersoet een waarop Aladdin die djin (waarvan Robin die stemwerk gedoen het) omhels. Die byskrif is: “Djin, jy is vry.”

Die foto is van die slottoneel van die Disneyfliek toe Aladdin sy laaste wens gebruik om die djin van sy knegskap in die lamp te bevry en die magiese gees in die lug opstyg.

Sy selfdood het skynbaar alles wat hy voorheen gedoen het in ’n nuwe, onheilspellende lig gehul; die ernstige rolle is skielik intenser en die komiese rolle nou onherroeplik met melancholie getint.  

Die Amerikaanse rolprentresensent Bilge Ebiri het dit heel moontlik die beste in ’n twiet opgesom: “Jy begin as ’n kind wat Robin Williams as ’n snaakse ou sien. Jy word volwasse en besef dan baie van sy rolle gaan eintlik daaroor om die donkerte te verdryf.” 

Robin
'n Geredigeerde uittreksel uit Robin deur Dave Itzkoff.
  • ’n Geredigeerde uittreksel uit Robin deur Dave Itzkoff, uitgegee deur Sidgwick & Jackson, R409 by takealot.com
  • Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandeirng sonder voorafkennisgewing.  
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES