Braam (6), of Braambossie soos sy ma hom noem, was in die wolke oor sy eerste dag van skool, en volgens sy ma kon hy nie anders as om die dag as "super lekker" te beskryf nie. 

“En natuurlik om al die maatjies weer te sien was beslis ’n hoogtepunt. 

“Sy skool doen ongelooflik baie moeite om dit so lekker en leersaam as moontlik te maak en hy het 'n baie oulike juffrou wat mooi na hom kyk,” vertel sy. 

Het jy al vir ons Gr. 1’tjie-kompetisie ingeskryf? Wys ons jou skattige kleinding en kom in aanmerking vir ’n R12 500-kontantbewys en klomp wonderlike geskenkpakke.

Die sangeres en aktrise Sorina Erasmus en haar kro
Die sangeres en aktrise Sorina en haar kroos, Braam en Miana, op die Irene-suiwelplaas in Centurion. Foto: Sharon Seretlo

Volgens Sorina is sy en haar man, Braam Riekert, 'n entrepeneur van verskeie ondernemings, baie gelukkig met die plek waar hulle “klein mannetjie tot ’n groot mensie” kan groei. 


Braam se eerste skooldag, op 15 Februarie, was maar ’n emosionele dag vir albei ouers. “Ek was wel net 'n bietjie méér opsigtelik as pappa met my trane wat my hele masker sopnat gemaak het,” vertel Sorina. 

Aan die ander kant was Braam se sussie, Miana (4), net so trots soos die ouerpaar, vertel Sorina. 

Maar vandeesweek het glad nie so goed verloop vir Braam nie. Sorina moes Woensdag skool toe ry om Braam te gaan haal, want hy’t siek geword.

“[Braambossie het] niks ernstig makeer nie, net ’n magie wat geknor en gegrom het van iets wat hy heel moontlik geëet het,” sê sy.  

Maar danksy Sorina se pamperlang en rus is haar Braambos nou weer perdfris en gesond.

Oorgang 'grootskool' toe

Volgens Sorina was die oorgang na die grootskool redelik maklik vir Braam. 

“Hy het 'n regte palmboom persoonlikheid: hoe meer maatjies, hoe lekkerder speel hy,” vertel sy. 

Volgens Sorina geniet Braam pouses die meeste en om "mamma se geld" te gebruik vir die snoepie.

“Hy was van kleintyd af baie goed in wiskunde en het ’n groot belangstelling daarin. Dit is beslis pappa se gene daai en nié mamma s'n nie,” spot sy.  

“Die tel kom vir hom maklik en dis lekker omdat hy gereeld met syfers in sy kop rondloop en uitwerk hoeveel spaargeld hy kan gebruik vir snoepie,” sê sy.  

Sorina en haar man, Braam. Foto: Sharon Seretlo.
Sorina en haar man, Braam. Foto: Sharon Seretlo.

Volgens Sorina is Miana haar borrelende krulkoppie wat behoorlik blom en net almal altyd wil help. “Sy is weer mal ook koekbak en iets maak in die kombuis. Iets wat mamma glad nie kan doen nie,” verklap die ma van twee. 

Sorina swaai haar borrelende krulkoppie, Miana. Fo
Sorina swaai haar borrelende krulkoppie, Miana. Foto: Sharon Seretlo.

Daarom word daar ten minste een keer ’n week gebak en gebrou in die kombuis by hul tuiste in Centurion. 

“Laas week was dit soetkoekies, dié week is dit piesangbrood, en volgende week is dit melktert. Miskien kan ek en sy 'n bakonderneming begin, aangesien die sangloopbaan tans nie op dreef is nie,” vertel Sorina. 

Die inperking

Vir Sorina was die inperking ’n wonderlike tyd omdat sy lief daarvoor is om haar kinders onder haar vlerk te hou.  

“So ons het gevoel hoe langer en meer ons die kinders by ons kan hê om kaalvoetkinders te wees en net te speel, hoe lekkerder vir ons en beter vir hulle om die jonkheid in die hart te hou.” 

Sorina erken ook dat dit soms 'n uitdaging was met beide haar en Braam se loopbane. “Ons het dit maak werk en was ’n span wat saam deur die lekker en die uitdagende tye gewerk het,” vertel Sorina.  

Hoewel dit reg oor die land moeilik was vir talle ma’s en pa’s om onderwyser te speel, was Sorina een van die gelukkiges.

“My ma (Mariaan Erasmus) was vir langer as 40 jaar ’n Afrikaanse juffrou, so ek was ongelooflik bevoorreg en dankbaar dat sy die leisels met skoolwerk oorgeneem het,” vertel sy. 

Mariaan het verlede jaar afgetree. “En daarom is ek super trots daarop om te noem dat my Moekielief (Mariaan) vir Braambos leer lees het, iets wat mens altyd sal koester.”  

Ouerskap

Volgens Sorina is die beste deel van ouerskap om te sien hoe “ons klein mensies groei en blom daar waar hulle in God se Koninkryk geplant word”.  

En watter raad het sy vir ander ouers wie se kinders nou grootskool toe is?

Let go & let God. Ons kan élke oggend vir God saam met hulle stuur in ons gebede. Én moet ons as ouers altyd die vangnet wees vir die trane en die bewaarder wees van die drome,” vertel sy. 

Pa deel ’n oomblik met Braam jr., of “Braambossie”
Pa deel ’n oomblik met Braam jr., of “Braambossie”, soos sy ouers hom noem. Foto: Sharon Seretlo.

Die pad vorentoe vir die gesin is, volgens Sorina, vol goedheid en guns in God se genade. 

“Ons stap net die pad [van die Here]. Soos ek ook vir my kinders leer, níks kan liefde keer nie en as jy liefde het, het jy alles en sien jy kans vir alles."

Skryf in vir ons My Graadeentjie-kompetisie

Is jou kind vanjaar in Gr. 1? Indien wel, kan jy in aanmerking kom vir kontantpryse ter waarde van R12 500 asook verskeie geskenkpakke. 

  • Die eerste prys is ’n R6 000 kontantbewys geborg deur Freedom Stationery.
  • Tweede prys: R4 000 kontantbewys geborg deur Freedom Stationery.
  • Derde prys: R2 500 kontantbewys geborg deur Freedom Stationery.
  • Vir die oulikste glimlag is daar 10 Pritt-geskenkpakke beskikbaar ter waarde van R1 000.
  • En vir die beste houding kan jou kind een van 10 pare Toughees-skoolskoene ter waarde van R239.95 – R269.95 wen. 
  • Besoek die My Graadeentjie-webtuiste om in te skryf en vir die volledige bepalings en voorwaardes
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe