Die Springbokvleuel Pat Lambie se aanhangers en vriende het gesteier onder die skoknuus dat hy finaal sy rugbystewels gaan ophang.

Die kookwater Lambie het die afgelope naweek sy uittrede op 28 bevestig nadat hy verskeie kopbeserings opgedoen het. Hy het tot onlangs nog vir die Franse rugbyklub Racing 92 uitgedraf. 

Huldeblyke vir Pat het intussen in die sosiale media ingestroom. 

Die voormalige Springbokspeler Bryan Habana (35) het op Instagram geskryf: "Dit is nooit lekker as ’n speler, veral een wat so talentvol en jonk soos Pat Lambie is, halt moet roep as gevolg van ’n besering nie.

"Van ’n jong ouderdom was jy net professioneel en het jy volwassenheid uitgestraal ver verby jou jare. Geluk op alles wat jy bereik het, my vriend. Ek wens vir jou en Kate net alles van die beste vir die volgende hoofstuk. Ek het geen twyfel dat jy selfs groter sukses sal behaal nie.

Die Springbok Tendai ‘Beast’ Mtawarira (33) het hom as ’n ware legende beskryf. "Dit is ’n hartseer dag om van jou vroeë aftrede te hoor. Pat Lambie, ’n ware heer van die spel en een van die beste wat daar nog was. Ek salueer jou. Sterkte met jou nuwe hoofstuk.”

Die Springbok Morné Steyn (34) het saamgestem en geskryf: "Dis hartseer om te sien hoe ’n goeie speler en selfs beter mens moet uittree! Alles van die beste vir jou lewe vorentoe, my vriend".

Die span waar hy sy tande geslyp het, die Haaie, het vir hom dankie gesê vir sy nederigheid en lojaliteit, maar meer as dit, die herinneringe. "Ons wens jou alles van die beste toe vir die volgende hoofstuk," het hulle op hul Facebook-blad laat hoor.

In 2013 het Pat aan Huisgenoot vertel dat rugby hom geleer het om gemaklik te wees met wie hy is. Toe het ons saam met hom gekuier waar hy vrywillig help rugby afrig het vir seuns by die Primêre Skool Eqinisweni (voorheen ’n privaat Rooms-Katolieke skool) in Inanda, KwaZulu-Natal.

"Dit maak nie saak as die kinders nooit professioneel speel nie; rugby leer hulle in hulself glo, en dit is ’n les wat hulle kan saamneem waar hulle ook al gaan."

Pat en sy vrou, Kate, het onlangs hul vyfde huweliksherdenking gevier.

Die paartjie se eersteling word na verwagting in Junie vanjaar gebore, berig Rapport.

"Ek voel steeds dat daar ’n paar goeie speeldae voorlê," het hy Rapport vertel.

"Maar aan die ander kant voel ek verlig om te weet dat ek nie meer bedreig word deur verdere, ernstiger kopbesering nie. My gesondheid en my gesin is nou my prioriteit."