Sy word die “stoute niggie” genoem en is daarvoor bekend dat sy in Londen se beste kuierplekke uithang. Kitty Spencer is allermins beskeie oor haar glanslewe en deel graag foto’s van haar ervarings op Instagram.

View this post on Instagram

Legend says that if you kiss your sweetheart when you sail under the arch, you will be together forever ????????????

A post shared by Kitty Spencer (@kitty.spencer) on

Maar daar is een ding wat die oudste kind van prinses Diana se broer nie bereid is om in die sosiale media te bespreek nie: haar liefdeslewe.

En dis ’n jammerte, want haar romanse met die skatryk Suid-Afrikaans gebore sakeman Michael Lewis is omtrént fassinerend – en nou is die paartjie boonop ondanks hul groot ouderdomsverskil verloof.

Hulle is maar nog net twee keer saam gesien en vermy dit om in die openbaar oor hul verhouding te praat. Maar daar vind dalk binnekort nog ’n troue met ’n koninklike geur plaas.

Michael (60) het glo die jawoord gevra terwyl hy en die blonde skoonheid in die Moederstad – Kitty (29) se grootwordstad – met vakansie was.

Kitty Spencer
Kitty Spencer en Michael Lewis het tydens hul onlangse vakansie in Kaapstad verloof geraak. Foto: Backgrid/Greatstock

“Hy het haar voor Kersfees gevra om te trou, en sy het haar ma en die res van die familie vertel,” sê ’n ingeligte bron.

Almal is in die wolke, voeg die bron by – al is Michael meer as twee keer so oud soos Kitty en ’n volle vyf jaar ouer as haar pa, Charles Spencer.

“Hulle is almal lief vir Michael,” sê die bron. “Ondanks sy rykdom is hy baie nederig.”

Die twee is in Mei 2019 die eerste keer saam in die openbaar opgemerk toe hulle uit die eksklusiewe The Mark-hotel in Manhattan, New York, gestap het – dieselfde plek waar Meghan, die hertogin van Sussex, se ooievaarstee gehou is.

Op die tweede geleentheid is hulle gesien waar hulle soen toe hulle ’n klub in Saint-Tropez in Frankryk verlaat. Dit lyk asof Kitty van ’n sekere soort man hou: heelwat ouer met báie geld in die bank.

Voor Michael het sy met die ryk Italiaanse eiendomsontwikkelaar Niccolò Barattieri di San Pietro (48) uitgegaan.

Die paartjie is in 2017 ná drie jaar saam uitmekaar toe dit aan die lig gekom het Niccolò het in die aktrise Elizabeth Hurley begin belangstel.

Hy het in 2018 ’n rukkie lank met Liz uitgegaan, en goeie vriende van Kitty sê dit het haar seergemaak. Maar sy het waarskynlik al ná die bohaai met haar lewe aangegaan en haar eertydse minnaar vergewe, want sy het voorheen gesê sy probeer met haar ekse vriende bly.

Dis onduidelik hoe Kittty en Michael mekaar ontmoet het, maar dit het moontlik iets met hul Suid-Afrikaanse wortels te doen gehad.

Hy is in Kaapstad gebore en sy oupa was Meyer Lewis, die sakeman wat die Lewis-meubelkettingwinkel in 1934 begin en 13 jaar later op die Johannesburgse Effektebeurs laat noteer het.

Die familie het van krag tot krag gegaan en die klerekleinhandelaar Foschini oorgeneem, waarna Michael se pa, Stanley, dit dekades lank bestuur het.

Michael is nou die voorsitter van dié kettingwinkelgroep wat in al wat ’n winkelsentrum is. Hy is ook die stigter van die Israeliese biotegnologiemaatskappy ProChon Biotech en besit Whistles, ’n franchise-klerewinkel in Brittanje wat in 2016 deur die Foschini-groep gekoop is.

Kitty het in die Moederstad grootgeword nadat haar gesin in 1995 hierheen getrek het.

Kitty en haar ma
Saam met haar ma, Victoria Lockwood, ’n voormalige model. Foto: Instagram/@kittyspencer

Charles en sy destydse vrou, Victoria Lockwood, het met hul kroos – Kitty, die tweeling, Amelia en Eliza (nou 27), en seun, Louis (nou 25) – verhuis met die hoop dat hul kinders ’n normaler opvoeding sou hê weg van die mediastorm wat losgebars het nadat Diana van prins Charles geskei is.

Kitty Spencer
As dogtertjie saam met ma Victoria en pa Charles, asook haar tweelingsusters, Amelia en Eliza. Sy het ook ’n broer, Louis. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek is baie bly ek het my kinderjare in Suid-Afrika gehad,” sê Kitty, wat op ’n yslike erf in die gegoede Constantia grootgeword het.

Sy was in die nabygeleë privaat skool Reddam House op skool en het toe sielkunde, politiek en Engelse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Charles en Victoria is in 1997 geskei – die jaar van Diana se dood – en Kitty het haar tyd tussen Londen en Kaapstad begin verdeel nadat haar pa teruggetrek het na Brittanje.

Nadat sy haar graad verwerf het, is sy na Florence, Italië, om kunsgeskiedenis en Italiaans te studeer voor sy ’n meestersgraad in luuksehandelsnaambestuur aan die sakeskool van die Regent’s-universiteit in Londen behaal het.

Sowel Kitty as Michael woon nou in Londen – hy om sy Britse sakebelange te bestuur en sy om haar modelloopbaan na te streef.

Kitty het in 2017 haar debuut as model vir Dolce & Gabbana gemaak, maar dit was toe sy haar neef prins Harry se troue met Meghan in 2018 bygewoon het dat sy werklik die oog begin vang het.

Haar smaraggroen Alta Moda-rok van Dolce & Gabbana is met die hand geverf, en daarby het sy ’n Philip Treacy-kadotjie gedra. Sy het asemrowend gelyk en is minder as ’n week later as ’n ambassadeur vir die luukse Italiaanse handelsnaam Bulgari aangestel.

“Dit was beslis onverwags,” sê sy oor haar skielike roem ná haar nefie se troue.

Kitty Spencer
Kitty in die Dolce en Gabbana-rok wat sy op Harry en Meghan se troue gedra het. Foto: Gallo Images/Getty Images

“My Instagramvolgelinge het in een aand van 17 000 tot ’n halfmiljoen gegroei. Ek het gedink ek het iemand anders se foon toe ek die volgende oggend wakker word.

Ek moes my kennisgewings afskakel, want my foon se battery was besig om dood te gaan.”

Sedertdien reis Kitty die wêreld vol vir die een modelverskyning ná die ander en sê sy bring skaars tyd in haar woonstel in Londen deur.

En wanneer sy op Britse bodem is, bring sy waarskynlik die meeste van haar tyd deur saam met haar verloofde in sy huis van R355 miljoen in Wes-Londen. Michael het ’n geskatte netto waarde van R1,4 miljard.

Hy was voorheen met ’n vrou met die naam Leola getroud en hulle het drie kinders wat almal ouer as hul pa se toekomstige vrou is.

Michael se Joodse geloof is vir hom belangrik: In 2011 het sy familie meer as R30 miljoen aan die Universiteit van Oxford in Engeland geskenk om die aanstelling van ’n professor in Israeliese studies te finansier.

Kitty het al openlik gepraat oor haar begeerte om eendag nes te skop en met ’n gesin te begin, maar bygevoeg sy is glad nie haastig nie. “Ek kan sien dat ek in ’n stadium kinders gaan hê,” sê sy.

View this post on Instagram

Milan Fashion Week ?? #EclecticGlam #Bvlgari #MFW

A post shared by Kitty Spencer (@kitty.spencer) on

“Maar ek is maar in my 20’s. Ek het wel vriende van my ouderdom wat kinders kry – en hulle is tog te oulik. Maar ek dink almal moet dié dinge op hul eie tyd doen.”

Dis alles goed en wel, maar haar verloofde raak nie jonger nie . . . 

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, CHEATSHEET.COM, CHEATSHEET.COM, HARPERSBAZAAR.COM