Dié podsending staan as Beer & Babes bekend en is op SoundCloud beskikbaar.

Quinne het Donderdagoggend die skakel na hul eerste episode When We First Met op Instagram gedeel saam met ’n pragtige foto van haar en Ryan. Die paartjie is al 12 jaar getroud en het twee dogtertjies, Charlotte en Lara.

“Ek en Ryan praat al jare lank oor ’n potgooi en ons het besluit nou is die tyd om dit te doen,” het sy aan Huisgenoot gesê. 

Hulle het twee groot passies. Ryan brou bier en Quinne is ’n gekwalifiseerde doula (iemand wat vroue bystaan voor, tydens en ná die geboorte van ’n baba) en hulle wou “saam iets doen, al is ons albei op ons eie pad”.

Die podsending word in die vorm van storievertelling en gesprekvoering oorgedra.

In die eerste episode deel hulle staaltjies oor die tyd toe hulle mekaar ontmoet het. Quinne het in Desember 2003 besluit om sabbatsverlof te neem nadat haar pa in Mei oorlede is. Sy is San Francisco toe, haar pa se gunstelingstad.

Hul ouers het mekaar geken en Ryan se ma het Quinne as ’n “dogter ingeneem” toe sy daar aankom. Op 21 Desember het Ryan by sy ouers se huis ingestap en Quinne het op daardie oomblik “onmiddellik geweet alles in haar lewe gaan verander”.

Luister hier na die podsending.