Danie du Toit
Die Spoegwolf-rocker Danie du Toit is weer verlief. Foto: Instagram/Danie Reënwolf

Kyk 'n mens na foto’s van hom, sien jy hy kan kwalik 'n glimlag versteek. Hoekom dan nié glimlag nie? Sy musiekloopbaan gedy en sy vele sakebelange floreer. Daar het selfs onlangs ’n tweede digbundel uit sy pen verskyn . . . 

Jy sal mooi moet vra, maar dalk, net dalk, sal hy toegee: Daar is tog ’n rede vir sy selfs breër as gewoonlik glimlag, sê die musikant Danie du Toit, hoofsanger van die alternatiewe rockgroep Spoegwolf.

Die rede? Die glimlaggende blondekopskoonheid aan sy sy, natuurlik.

“Ja, ek het iemand ontmoet,” erken die skugter sanger aan Huisgenoot. “Ons is baie gelukkig.”

View this post on Instagram

A post shared by Danie Ree¨nwolf du Toit (@danie_reenwolf)

Danie en die aktrise Marguerite van Eeden het in Oktober verlede jaar hul verhouding beëindig. 

Hy wil die naam van die nuwe vrou aan sy sy nie in die media noem nie, sê Danie. Dis vir hom belangrik om sy verhouding uit die kollig te hou. Maar hy sal toegee: Hulle is “al vir so 'n paar maande” in ’n verhouding.

“Ons het mekaar op Stellenbosch ontmoet en dit gaan regtig baie goed. Ek is baie gelukkig, baie dankbaar en beleef net goeie dinge. My lewe is nou baie rustiger as wat dit eens was, en dis hoekom dit vir my belangrik is om meer uit die kollig te beweeg – veral wanneer dit my en haar betref. Vir lank was my lewe die produk wat ek verkoop het, maar nou wil ek meer onderskeid tref tussen my werk en my lewe.” 

Eintlik is dít die punt, verduidelik hy: Hulle is gelukkig.

“Ek wil haar graag die privaatheid gun wat haar toekom. Sy het tog nooit in die kollig geleef of daarvoor gevra nie, maar ek is dankbaar vir haar,” sê Danie.

Meer oor sy nuwe liefde wil hy nie verklap nie.

Dis nie net in sy persoonlike lewe dat hy weg van die kollig wil beweeg nie, vertel Danie. Hy wil binnekort minder op sy sakebelange fokus en meer fokus op die musiek van Spoegwolf en om “net te skryf”. 

In die laaste jare het hy byna glad nie grond gevat nie. Behalwe Spoegwolf bedryf hy die aanlyn kleremaatskappy Wees Reën en die uitgewersmaatskappy Reënwolf. Drum Restaurant op Stellenbosch behoort ook aan hom en Moskou du Toit, sy broer en mede-groeplid in Spoegwolf.

Dan is daar nou ook ’n heel nuwe onderneming: Hy en Moskou is nou ook in die proses om hul eie aanlyn televisiediens te ontwikkel en is reeds in die proses om ’n sitkom vir dié platform te verfilm.

“Ons werk ons vrek, maar ons geniet elke oomblik,” sê Danie en lag.

Dis juis hoekom hy besluit het om binnekort af te skaal. “Ek wil 'n bietjie van die grid af verdwyn. Kom ons noem dit semi-aftree . . . Ek wil 'n bietjie vlug en die waarheid is ek is eintlik baie opgewonde daaroor. Ek wil terugstaan met sommige van die sakebelange nadat ek dit in bekwame hande gelaat het en net daarop fokus om te skryf en op te tree.”

’n Oomblik lank is hy stil, dan sê hy: “Ek wil ’n rustiger, stadiger lewe nastreef – vir nou.” 

Wat beteken dit alles? 

“Net dat ek vir nou meer wil fokus op my lewe, eerder as die bemarking van my werk. Ek wil terugsit en asemskep en myself vir eers weer net toelaat om te wees.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe