Die Springbok Franco Mostert en sy vrou, Juan-Ri.
Die Springbok Franco Mostert en sy vrou, Juan-Ri. Foto: Instagram.

Juan-Ri het dié nuus op haar Instagram-profiel gedeel. 

“Ons is baie opgewonde oor die kleintjie wat op pad is. Ons weet dat God groot planne vir die babatjie en vir ons het,” sê sy aan Huisgenoot vertel. 

Juan-Ri is tans 11 weke swanger. 

“Ons weet nog nie wat die geslag is nie. Ek dink nie ek wil weet nie, maar Franco wil baie graag weet. Ons sal seker nog daaroor besluit.” 

Sy sê hulle is ook nog nie seker oor ’n naam vir hul gesin se jongste toevoeging nie. 

“My oudste het vir my ’n naam gegee. Ek wil dit nog nie bekendmaak nie. Ons sal maar moet wag en sien.” 

Die egpaar het twee dogtertjies, Joia-Belle (4) en Jemi-Mílja (2). 

“Ek is heeltemal rustig oor die geslag. Dit maak nie aan my saak of dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie is nie.” 

Die Mostert-gesin, wat gereeld vanweë Franco se rugbyloopbaan oorsee is, is tans in Suid-Afrika waar hulle by Juan-Ri se ouers bly. 

“Dit is baie lekker om terug in Suid-Afrika en so naby aan my ouers te wees. Oupa en ouma help verskriklik baie met die kinders.” 

Franco is tans besig om saam met die Springbokke te oefen. 

“Ons sien ook baie daarna uit om die vyfde lid van die gesin te verwelkom. Ons almal is in ekstase oor die nuwe kleintjie wat op pad is.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe