“My geld is nou klaar, en die onkostes het net te veel geraak. Dit is maar moeilik. Ek het gehoop ons gaan dit kan uitry, maar dit is bloot te veel onkostes. So ek weet nie, hy is nou toe, en ek weet nie waar ek nog geld in die hande gaan kry om hom nog te laat loop nie. So dit is nou maar so. Klomp ander restaurante in Namibië is besig om hul deure te sluit,” sê Stefan aan Huisgenoot

Stefan saam Leotjie (regs) en sy poplap Abby (link
Stefan saam met sy dogter, Abby, en seun, Leonard. Foto: Verskaf

Stefan sê hy werk darem nog as bemarkingsbestuurder by Theo Super Spar op die dorp.

“Ek kry darem nog my salaris daar, so ek brand maar die kers aan albei kante. Die besigheid (Dros) lyk my is vir nou eers maar daarmee heen. Ek weet nie hoe ons dit gaan uit-sort nie, maar ek is dankbaar ons is gesond en ons gesinnetjie is darem nog by mekaar, en ek het darem nog ’n werk ook,” sê hy. 

Stefan sê hy het ook baie skuld weens die restaurant. “Ons kyk maar hoe ons dit gaan aanpak.” 

Stefan, wat ook bekend is as sanger in die musiekgroep Elvis se seun, en sy vrou, Anelle, het in Desember 2019 teruggetrek na Stefan se geboorteland.

Stefan het tóé gesê hy het die kollig vaarwel geroep en soek ’n veiliger land vir sy vrou en kinders. 

Anelle, ’n aktrise wat in die sepie 7de Laan te sien was, doen steeds stemwerk vir advertensies. Die egpaar het ’n seuntjie, Leonard (2), en eenjarige dogtertjie, Abby. 

“Dit is baie moeilik om ’n mens se man só te sien,” vertel Anelle. “Stef het vir 15 jaar gespaar en gewerk om die Dros te koop. Dit moes ons neseier wees, en nou dit. Maar ek bly positief. Ek weet onder hoeveel druk hy is, en ek probeer hom net ondersteun deur ’n sonskynstraal te wees wanneer hy by die huis kom. Ons het soveel ander seëninge,” vertel sy.

Stefan se ouers, Susan en Paul Ludik, het vir Stefan en Anelle ’n kleinhoewe in Otjiwarongo gekoop.

“Hulle het net gesê hul kleinkinders kan nie in ’n woonstel grootword nie, so ons trek een van die dae na ’n kleinhoewe. Ons is so opgewonde. Stef is ook mal oor die buitelug, so ek dink dit sal goed wees vir sy siel,” sê Anelle. 

Veral Stefan en Leonard sien uit om na hulle nuwe
Stefan, hier saam met sy seuntjie, Leonard, sien uit daarna om na hul nuwe huis op ’n kleinhoewe te trek. Foto: Verskaf

Stefan bieg dit is ’n verskriklike stresvolle tyd. “Gelukkig hou my vrou my positief, en die kinders is so vrek oulik. Die goed wat Leo’tjie sê, en Abby begin nou loop, so dit hou ’n mens positief.”

Anelle sê al gaan hulle nou deur ’n moeilike tyd, was hulle nog nie vir een oomblik spyt dat hulle die skuif Namibië toe gemaak het nie. 

Ouboet Leonard hou vir Abby vas. Foto: Verskaf
Ouboet Leonard hou vir Abby vas. Foto: Verskaf

“Dit is ’n klein dorpie, maar ons het reeds ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk. Die kinders se skool is die afgelope maand toe, maar dit is heerlik om hulle hier om my te hê,” sê sy. 

Hulle gaan stap elke dag en doen aktiwiteite tuis, sê Anelle. Hulle het al hul eie roetine. Anelle, wat graag skilder, sê sy wil graag kunsklasse vir leerlinge in die dorp aanbied. 

“As daar een ding is wat ek geleer het, is dit dat ons die klein dinge in die lewe moet waardeer. Ons het albei al covid gehad, maar ons is gesond en ons het mekaar en ons kinders.”

Stefan sê hy hoop om meer gereeld die mikrofoon op te tel en te sing. “Ek het kans gekry om sommer daar by die Dros te sing. Ek sing by troues af en toe, en in September het ek nog ’n troue wat ek doen.

“ ’n Mens raak moedeloos, maar ek weet solank ons net mekaar het, is ons oukei.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.