Teen ’n skilderagtige sonsondergang in die Namib kom ’n klein lyfie waggelend oor die duine na sy ma en pa aangehardloop.

Dié mannetjie maak eers later vanjaar sy opwagting, maar die akteurspaar Stefan Ludik (37) en sy vrou, Anelle (33), droom reeds van dié prentjie.

Hul eersteling is op pad, en hulle bars van die opwinding en trots. Stefan, ’n boorling van Namibië, en Anelle se sprokiesbruilof in April vanjaar was soos iets uit ’n sepie.

Die babakamer is gereed. Die babaklere hang die kas vol, en nou moet hul leeutjie net sy verskyning maak. Foto: Martin de Kock

Huisgenoot het eksklusief dié glansryke geleentheid met talle bekende gesigte onder die gaste gedek. En nou, etlike maande later, gesels hulle stralend met ons oor die afwagting op die koms van hul eerste pienkvoet.

Hulle sien in die toekoms somers gevul met waatlemoen en sonbrandroom en blou swemvlerkies in die swembad by hul huis in Randburg, Johannesburg.

Oumas en oupas wat langs die rugbyveld of atletiekbaan staan en die knapie aanmoedig. Die gesin wat liedjies om ’n kampvuur sing. Musiek wat die huis vul en hul seuntjie wat tussen die verfkwaste deur loer na waar Anelle in ’n sonnige hoekie van hul huis sit en skilder.

Maar bo dit alles droom hy van ’n seuntjie wat gelukkig en gesond is, sê Stefan, voorheen dr. Gustav Kemp in Binnelanders en ook die sanger Elvis Se Seun.

Nou sê die sanger-akteur oor sy eerste seun: “Hy moet sy drome najaag.”

Die kleinding is woelig in Anelle, ’n aktrise, se lyf en sy praat graag met haar seuntjie. “Hy’s al so groot soos ’n trossie piesangs. Ek gesels met hom oor alledaagse dinge en sê klaar hoe lief ek hom het,” vertel sy en vryf oor haar boepie.

Die seuntjie sal die eerste kleinkind aan die Ludik-kant van die familie wees en die tweede kleinkind aan die Bester-kant. “Die oumas en oupas is bitter opgewonde,” sê Anelle.

En die verwagte kleinding se naam? Met trots verklap die twee: Hul seun se naam sal Leonard Ludik wees.

Die kleinding is die paartjie se "klein leeu" Foto: Lubabalo Lesolle

Hy is hul “klein leeu”.

Dis maande voor die tyd, maar sy kamer is reeds gereed. Die mure is grys en blou en daar is leeus en ander wilde diere teen die muur.

Anelle het self dié prentjies geskilder. Sy het ook oortjies en snorbaarde uit viltlap geknip en dit in olifante en leeus omgetower.

Wanneer Leonard op sy rug lê, gaan hy in dié ligblou diertjies vaskyk. “Dit was vir my heerlik om sy kamer te versier. Ons het op ’n dieretema besluit, want sy naam het mos ‘leeu’ in,” sê Anelle. Stefan het die naam gekies.

“Dis ’n mooi, sterk en Afrikaanse naam, maar een wat ook in Engels gesê kan word,” sê hy tergend. “Ek mag ons seuntjies se name kies en Anelle die meisiename.”

Die paartjie is vreeslik opgewonde oor hul nuweling wat oppad is. Foto: Lubabalo Lesolle

“Nee! Dis onregverdig; wat as die tweede kind ook ’n seuntjie is?” vra Anelle, maar glimlag liefderik vir haar man.

Hulle wil net twee spruite hê, maar Anelle spot: “As swangerskap so lekker is, het ek sommer vyf kinders.” Sy het geen skete of pyne tydens haar swangerskap nie en gloei behoorlik van blydskap oor die nuweling wat op pad is.

“Stefan is lieflik. Hy sê gereeld vir my hoe pragtig ek lyk en dat hy van my hou met ’n bietjie vleis aan my bene,” sê sy.

Anelle en Stefan het tot nou toe nog minstens drie keer per week saam in die gimnasium geoefen.

“Ek sukkel nou met dinge soos fietsry; daarom gaan ek en Stef begin om in ons buurt te stap.” Anelle is eersdaags weer in 7de Laan te sien as die karakter Suna Bosman.

Die ouerpaar straal van geluk, en Anelle se swangerskap was nog net maanskyn en rose. Foto: Lubabalo Lesolle

“Dis sowat ’n maand en ’n half se storielyn, en dit begin in Oktober. Ek verfilm nou van seweuur soggens tot seweuur saans. Dis harde maar lekker werk. Daarna sal ek eers op Leonard en ma-wees fokus,” sê Anelle, wat ook as agent by die Legends-talentagentskap werk.

Sy gaan minstens drie maande kraamverlof neem sodra Leonard hier is. “My eintlike passie is stemwerk. Dit beteken ek hoef darem nie te vinnig die vetjies te verloor nie.

Ek dink ons vroue sit soms te veel druk op onsself,” sê sy en vat ’n slukkie van haar groentee. Stefan was onlangs nog in Isidingo te sien as Clive en doen ook minstens een optrede per week as Elvis Se Seun.

“Ek gaan aanhou shows doen tot so middel Desember. Dan sal ons oor Kersfees en Nuwejaar by Anelle se ouers in Hartenbos kuier. Daarna gaan ons net rus, swem en ouers wees,” sê hy.

Albei se oë skitter toe hulle oor hul nuwe bondeltjie praat.

“Ek is reg vir die pajamadril – ek sien eintlik daarna uit. Ek kan nie wag om sy lyfie vas te hou nie,” sê Stefan en vat Anelle se hand.

Hul twee Jack Russells, Sooki en Billy, klouter op hul skote, en Pippie, hul chihuahua, staan op haar agterpote en smeek om ook opgetel te word sodat sy saam met die res van die gesin kan sit.

“Hulle is soos ons kinders. Ons kry nou net nog een by,” sê Anelle en tel Pippie op haar skoot. Anelle het Stefan verras met die nuus van hul kleinding, en Stefan bieg die oomblik was so groot, hy kan bitter min van dié dag onthou.

“Sy het gesê sy’s naar en die eerste toets was negatief, toe sê ons vir onsself ons moet ontspan oor die saak. ’n Paar dae later sê sy sy het ’n verrassing vir my. Toe wys sy my die swangerskapstoets. Ek was so opgewonde, ek kan nie eens die res van die dag onthou nie.”

Albei se oë skitter toe hulle oor hul nuwe bondeltjie praat. Foto: Lubabalo Lesolle

Die Ludiks is gereed vir hul nuwe lewensfase. Hul swembad het reeds ’n net op, en hul plan vir die geboorte is uitgewerk.

Dis nou nog net die hospitaalsak wat gepak moet word. “Ek en Anelle is albei effens perfeksionisties; daarom dink ons aan alles. Dinge is al gebabyproof. Alles staan gereed vir Leonard.

Ek praat saans met hom en sê ek kan nie wag om hom te ontmoet nie,” sê Stefan.

Hugo Ludik, Stefan se broer wat in die groep Adam sing, is net so opgewonde oor die kleinding.

“Hy sal nog lekker saam met ons braai en gesels,” sê Stefan. Al weet hulle nog nie hoe die mensie gaan lyk nie, weet Anelle en Stefan hul kind gaan met liefde oorlaai word.

“Ons wil hê hy moet altyd geliefd voel. Hy moet respek en verdraagsaamheid hê en groot droom. Maar die belangrikste is hy moet gesond en gelukkig wees,” sê Anelle en vryf weer teer oor haar boepie.

En wat as klein Leonard eendag ook ’n sanger of akteur wil word? Omdat Anelle en Stefan se ouers hulle albei in ’n beroep van hul eie keuse ondersteun het, sal hulle dieselfde doen, meen Anelle.

“Ek glo nie ons sal hom spesifiek in dié rigting stuur nie, want ons weet hoe cut-throat dit is. Maar dit bly sy keuse, en sy ma en pa sal hom ondersteun in wat hy ook al besluit.”

Die voorspelling wat Huisgenoot etlike maande gelede ná die troue gemaak het, het sowaar waar geword: ’n Pienkvoet is op pad.

En gelukkiger kan dié twee verliefdes nie wees nie. Want binnekort speel ’n seuntjie tussen hulle op die sand in die duine van Namibië.