Eers het sý die vrawerk gedoen. Maar twee jaar nadat Anelle Bester besluit het om “Suid-Afrika se hotste ou” te vra om haar na die première van haar fliek Sonskyn Beperk te vergesel, het hý die vrawerk gedoen – en dit terwyl hy gekniel het met ’n diamantring in sy sak . . .

“Ek het nog altyd gedink hy is verskriklik mooi,” sê Anelle (34) met ’n laggie in die rigting van haar verloofde, die sanger en akteur Stefan Ludik (36), wat as die singende Elvis Se Seun menige knie lam maak.

A post shared by Elvis se Seun (@elvisseseun) on

“Maar sy hart maak hom nog mooier. Hy is 100 keer so mooi aan die binnekant.”

Stefan se groen oë blink toe hy hier op die stoep van hul huis in Randburg na die donkerkop-aktrise loer.

“Op skool was haar bynaam Smiley,” vertel hy oor Anelle.

“Sy lag regtig altyd. Iets wat vir my veral van haar uitstaan, is haar liefde vir haar ouers en familie – daardie gehegtheid van ’n gesin; die ondersteuning en lojaliteit wat hulle vir mekaar het.”

Vir Anelle is dit Stefan se hart wat hom so mooi maak. Stefan sê vir hom staan veral die liefde uit wat sy vir haar familie het.

Stefan is self geheg aan sy ouers, Paul en Susan (albei 57), wat in Windhoek woon, en aan sy jonger broer, Hugo (34), ’n lid van die sanggroep Adam.

Terwyl Anelle die borrelende een is, is hy stiller.

“Ek is ’n introvert; sy hou van gesels. Ek hou daarvan dat sy ’n bietjie meer praat en ek waarneem. Ek dink dis juis ons verskille wat ons so na mekaar aantrek. Ons wys mekaar ’n ander sy van die lewe,” sê hy.

Dis regtig ’n voorreg “om jou maat, jou pot se deksel, te kry”, voeg ’n stralende Anelle by.

“Partykeer moet ’n mens langer wag. Ons is nie een meer 25 of 30 nie, maar die gewag was die moeite werd.”

Hul paaie het vir die eerste keer in 2012 op die stel van Binnelanders gekruis toe Anelle die rol van Tineke Mostert losgeslaan het. Stefan het toe nog dr. Gustav Kemp in dié kykNET-sepie gespeel.

“Ek het hom by die ateljee op die bank sien sit en hallo gesê. Hy het vir my geglimlag en gegroet, maar was stil en op sy plek,” onthou Anelle.

Sy het toe nog in Pretoria gewoon, maar wou Goudstad toe trek ter wille van haar werk. Toe hoor sy by ’n gemeenskaplike vriendin Stephan soek ’n huurder vir die tuinwoonstel op sy eiendom. Sy het hom gebel, maar die woonstel was toe reeds verhuur.

Gelukkig het sy sy nommer gehou, want vier jaar later sou sy dit weer nodig kry.

Dit was kort voor die Gautengse première in Februarie 2016 van die romantiese drama Sonskyn Beperk, waarin Anelle die vroulike hoofrol teenoor Neels van Jaarsveld vertolk.

“Ek het besef ek kan nie alleen na my eie fliekpremière gaan nie,” vertel sy.

“Ek het probeer dink wie die hotste ou in Suid-Afrika is wat ek kan saamvra.” Die antwoord? “Stefan Ludik!”

Sy het besluit om ’n kans te waag en hom gebel.

“Ek wil vir jou ’n baie random ding vra,” het Anelle begin.

Voor sy verder kon praat, het hy geskerts: “Wil jy hê ek moet jou Valentyn wees?”

Dit was kort voor Valentynsdag, en 2016 was juis ’n skrikkeljaar. Hy het dadelik ingestem toe sy hom as haar metgesel na haar fliekpremière nooi.

Datenight ?? #futurehubby #myperson #happyheart #inlove

A post shared by Anelle Bester (@anelle_bester) on

“Ek het haar van Binnelanders se dae onthou. Ek het nog altyd gedink sy is baie oulik en spontaan,” vertel Stefan.

“Ek het aan die einde van die aand selfs ’n piksoentjie gekry, wat ek glad nie verwag het nie,” onthou Anelle. ’n Paar dae later het hy vir haar ’n boodskap gestuur en gevra of sy ’n Virgin Active-lid is.

“Ek dog toe: ‘Nou dink hy ek’s vet dat hy dit vra?’ ” lag Anelle.

“Ek sê toe vir hom: ‘Dis ’n bietjie random, maar ja, ek is.’ ”

Stefan het geantwoord: “Meer random as jy wat my na ’n fliekpremière nooi?”

Hulle is daarna een middag saam gim toe. Ná die oefensessie het hulle ’n glas wyn by sy huis gaan drink. Nog kuiers, oefensessies en afsprake sou volg, en van toe af is hulle onafskeidbaar. Sy kan nie onthou dat hy haar ooit amptelik gevra het om sy meisie te wees nie, vertel Anelle laggend.

“Hy het my darem gevra om te trou.”

Stefan het beplan om die jawoord te vra tydens hul somervakansie by die see in sy geboorteland, Namibië, maar eers wou hy ouers vra. Hy het sy kans waargeneem toe Anelle se ouers, Paul (67) en Agnes (62) Bester, wat op Hermanus woon, begin Desember in Johannesburg kom kuier.

Anelle se ouers, Agnes en Paul Bester, was verheug toe Stefan kom ouers vra.

Anelle en haar ma was in die kombuis besig toe Stefan gou haar pa se toestemming vra. Hulle het later ’n vuur aangesteek en ’n wyntjie gedrink. 

“Ek besef toe my ma en pa is verskriklik vrolik,” onthou Anelle.

“Hulle het skielik begin dans op die maat van Zorba the Greek (se temaliedjie). Ek dink toe: ‘Dalk is dit die wyntjie.’ ”

Eers later sou sy uitvind dit was die dag dat Stefan ouers gevra het. Intussen het Stefan se ma hom stilletjies gehelp om die grootte van Anelle se ringvinger te kry.

Sy het Anelle gebel en gesê sy wil graag as Kersgeskenke vir haar en Hugo se meisie, Danieka du Plessis (25), “eg Namibiese ringe” laat maak.

Op Oujaarsaand was hulle saam met Stefan se gesin en vriende by ’n spitbraai op Langstrand, tussen Swakopmund en Walvisbaai.

Teen middernag is almal na die duine, waar vuurwerk afgeskiet is. Die nuwe jaar het aangebreek, en nadat almal mekaar oor en weer gelukgewens het, het Stefan vir Anelle eenkant toe geroep. “Liefie, ek is baie lief vir jou. Kan ek jou ’n vragie vra?” het hy gesê.

Eers het Anelle gedink hy maak net ’n grap.

“Toe skielik word ek koud en dink: ‘Is dit nou dit?’ ” Stefan het gekniel en haar die jawoord gevra. Trane van blydskap het gevloei terwyl sy ja gesê het.

Stefan het Anelle op Lang­strand in Namibië die jawoord gevra.

Hulle wil “ ’n aardse troue hê”, met so 100 gaste.

“Ons is albei baie lief vir die natuur; daarom sal dit sag, natuurlik en groen wees,” vertel Anelle oor hul groot dag in April op Zwavelpoort, naby Pretoria.

“Die diens sal buite wees en die plek kyk uit oor Pretoria se dale.”

Simon Rademan, wat ook haar rok vir haar en Stefan se eerste afspraak na haar fliekpremière geskep het, sal haar trourok ontwerp.

“Hy het toe al vir my ma gesê: ‘Sjoe, Stefan sal darem ’n mooi skoonseun maak,’ ” onthou Anelle.

Dis vir hulle lekker dat hulle albei in die vermaakbedryf is.

“Ons gun mekaar regtig alles. Die lelikste ding in ’n verhouding is jaloesie,” sê sy.

Sy sal luister wanneer hy vir haar ’n nuwe liedjie speel; hy sal haar haar woorde help leer of na haar opnames vir stemwerk vir die radio en TV luister.

Stefan, wat destyds as Werner in Egoli te sien was, wil vanjaar tussen sy sangoptredes deur meer aandag aan TV-werk bestee. Die aantreklike paartjie oefen graag saam en gaan stap gereeld saam met hul honde, twee Jack Russells, Sooki en Billy, en ’n chihuahua, Pikkie.

My heart is full. ?? #namibia #holidays #myperson #inlove #fiance

A post shared by Anelle Bester (@anelle_bester) on

Met dié dat albei so familievas is, beplan hulle ’n eie gesin? Albei knik. Dan sê Anelle: “Ons sal graag dieselfde liefde wat ons ontvang, wil uitdeel . . .”