Paramedici is na Luke Perry (52) se huis in Sherman Oaks, Los Angeles, ontbied nadat hy na bewering ’n beroerte gehad het. Hy is toe na 'n hospitaal gebring, berig BBC.

Luke het in die 1990's roem verwerf vir sy rol as Dylan McKay in die trefferdramareeks Beverly Hills, 90210. Hy is deesdae in die Netflix-reeks Riverdale te sien as Archie se pa, Frank Andrews. Hy was in Los Angeles om tonele vir Riverdale te skiet. 

’n Verteenwoordiger van die akteur het aan BBC gesê hy "is in die hospitaal vir waarneming". Geen verdere besonderhede oor sy toestand is bekendgemaak nie.

Die nuus dat Luke in die hospitaal opgeneem is, het op dieselfde dag bekend geword waarop die televisienetwerk Fox aangekondig het hulle gaan ’n nuwe weergawe van die reeks 90210 doen. Die nuwe projek gaan van die oorspronklike sterre bevat, maar Shannen Doherty, wat Brenda Walsh gespeel het, en Luke is glo nie deel daarvan nie. Die "deur is glo wel oop" vir hulle om in die nuwe reeks te speel. Dié reeks sal uit ses episodes bestaan, berig ew.com.

Hul voormalige medesterre Jason Priestley, Jennie Garth, Brian Austin Green, Tori Spelling en Ian Ziering het almal kontrakte onderteken om deel van die projek te wees.

Van Luke se voormalige 90210-sterre het hom in die sosiale media sterkte toegewens.

Shannen (47) het op Instagram ’n foto gedeel van haar en Luke uit die reeks waar hy haar ’n drukkie gee en geskryf: "My vriend. Ek hou jou vas en gee jou my krag. Jy sal hierdeur kom."

"Geen woorde kan beskryf wat my hart voel oor vandag se skokkende nuus nie," het Ian Ziering (54), wat bekend was as Steve Sanders in 90210, op Instagram geskryf by ’n foto van hom en Luke. "Kom ons almal bid vir sy spoedige herstel."

Christine Elise McCarthy (54), oftewel Emily Valentine in 90210, het ook op Twitter ’n "spoedige herstel" vir haar "ou vriend" toegewens. "Jy het uit jou pad gegaan om vriendelik met my te wees tydens my eerste #beverlyhills90210-episode. Ek vertel dit elke keer wanneer iemand my vra hoe dit op daardie stel was." 

Luke was die afgelope ruk nie net op die kassie bedrywig nie. Hy vertolk ook die rol van Scott Lancer in Quentin Tarantino se nuwe fliek, Once Upon a Time in Hollywood, wat later vanjaar uitgereik word. Ander sterre in die fliek sluit in Brad Pitt en Leonardo DiCaprio.

Bronne: BBC.com, CNN.com, EW.com