Voor die oë van die wêreld is hulle glansryke figure wat oën­skynlik in weelde leef en met blink motors rondry. Verskyn hulle op die verhoog of TV-skerm, kan jy hulle altyd deur ’n ring trek. Hulle is immers beroemd en daarom seker ook welvarend . . .

Maar die wrede werklikheid is dat selfs die grootste name in die Afrikaanse musiekwêreld nou swaar trek te midde van die coronakrisis. Die inperking en verbod op sosiale geleent­hede het die meeste bronne van inkomste vir sangers laat opdroog.

Met album­verkope wat wêreldwyd jaar ná jaar daal en die nuwe onsekerheid oor wanneer daar weer konserte en kunstefeeste gehou kan word, lyk die toekoms duister.

Die meeste erken pynlik eerlik: Optredes voor groot skares was hul brood en botter. Nou moet hulle maniere bedink om steeds ’n inkomste te verdien.

Vir party voel dit kompleet of hul loopbaan “op slag dood” is, soos die sangeres Cordelia dit stel.

Ander, soos Jak de Priester, moes noodgedwonge hul hand in die spaar­varkie steek om te sorg vir kos op die gesin se tafel.

Ja, aanlyn konserte bied ’n uitweg, en musiekstroomdienste ook, sê die meeste. Maar dis ’n skrale oes ver­geleke met die inkomste uit optredes in lewende lywe.

Tog klink hoop soos ’n refrein in onderhoude met ons voorste sangers op. “Nou is ons kaalvoet, en COVID-19 is ons Drakensberg, maar ons sal hieroor kom,” sê die sangeres Elizma Theron vasbeslote. En die rapper Early B beaam: “ ’n Mens kry altyd ’n way.”

Huisgenoot het gaan aanklop by van die sangers wat swaar getref is deur die inperking.

Bok van Blerk

Bok van Blerk. Foto: Huisgenoot
Bok van Blerk. Foto: Huisgenoot

“Jy skrik groot wanneer jy besef jy sal maande lank nie kan werk nie,” vertel Bok van Blerk van sy gewaarwording toe die inperking aangekondig is. “Dit voel of jy jou werk verloor het.”

Hy het tydens die inperking met ’n “klein onderneming” begin. “Dis nie net om finansiële redes nie; dis ook om kop te hou. Ek versprei vars vleis uit Bethlehem in die Vrystaat hier aan die Noordkus,” sê die sanger wat op Ballitobaai in KwaZulu-Natal woon.

“Ek kon ’n permit kry en ’n bietjie uitkom. En ag, dis lekker om te voel jy’t ’n doel – dat jy iets lekkers na mense bring. Of dit nou ’n liedjie of ’n vleisie is.”

In dié tyd van “onsekerhede en baie veranderings” bly hy positief. “Ek is opgewonde om te sien wat hieruit gebore gaan word.”

Tog erken die pa van twee: “Onsekerhede is vir niemand lekker nie, veral as jy ’n gesin het.

“Maar ons sal dié moeilike tyd ook oorbrug. Ja, die land gaan ekonomies swaarkry en hierna sal alles waarskynlik op ’n kleiner skaal wees. Maar deur die eeue is dit bewys dat die kunste in sulke tye blom. Ons gaan sterker en mooier anderkant uitkom.”

Riana Nel

Riana Nel.
Riana Nel.

Reeds ’n maand voor haar derde babaseuntjie op 13 Maart gebore is, het Riana Nel ophou optree. En toe hy twee weke oud was, het die inperking begin.

“Dis ’n lang tyd om nie te werk nie,” sê sy.

Riana het intussen weer begin liedjies skryf en sy hou ook aanlyn konserte.

“Ek sou dit nie gedoen het as ek nie ’n bietjie benoud geword het nie,” sê sy oor dié nuwe manier van ­optree.

“Nou is ek mal daaroor.”


’n Pluspunt van die inperking is dat sy nou meer tyd as ooit tevore saam met haar gesin kan deurbring.

“Eintlik werk ek harder as ooit: Om drie kinders onder vier jaar oud te hê en dit sonder hulp, is ’n lekker jol.”

Tog is sy nie gevrywaar van vrese oor die toekoms nie.

“Ek sing en bid elke keer wanneer ek bang is, want dan sien ek hoeveel ek werklik het. Of ek speel countrymusiek in die kombuis – dit maak my happy.”

Snotkop

Snotkop. Foto: Huisgenoot
Snotkop. Foto: Huisgenoot

Die musiekbedryf het tot stilstand gekom, beskryf Snotkop sy ervaring in die inperking.

“Almal weet ons hoofinkomste is konserte,” sê dié veelsydige kunstenaar wat nou sy ander ­talente inspan om die pot aan die kook te hou.

Hy het aanlyn beeldhouklasse begin loop, skilder nou meer en verkoop sy kunswerke aanlyn. Daarby gaan hy voort met sy aanlyn winkel wat onder meer T-hemde en pette verkoop.

“Ek het gelukkig deur die jare ’n paar eiendomme aangekoop wat ek verhuur. Dit bring darem ’n klein inkomste in,” vertel hy.

Die pandemie moet vir baie sangers ’n les wees, meen hy.

“Ons moet ander inkomste ook skep. As jy kan skilder, kook of met eiendom woeker, moet jy sorg dat jy ’n vangnet het.”

Dis vir hom “baie hartseer” dat dorpe, kerke en skole wat die feeste en geldinsamelings gehou het waar sangers opgetree het ook nou daardie inkomste kwyt is.

“Ons moet vasbyt en kreatief raak; dinge sal regkom,” glo hy.

Intussen vra hy dat almal lewe in ons musiekbedryf help blaas.

“Stroom of koop Afrikaanse musiek aanlyn. Laat Afrikaans jou eerste keuse wees, veral nou.”

Cordelia

Cordelia.
Cordelia.

Toe die inperking aangekondig is en sy 17 vertonings moes kanselleer, het dit vir haar gevoel of haar sangloopbaan “op slag dood” is, sê Cordelia.

“Ek dink baie sangers het dieselfde emosie ervaar.”

Daarna moes sy haar “hoë­hakskoentjies uittrek en gumboots aantrek” om finansieel staande te bly.

Sy verskaf nou kon­struksievoertuie, masjinerie en toerusting aan kontrakteurs en myne in die omgewing van Moko­pane in Limpopo.

“Ek is ’n survivor wat my nie deur struikelblokke laat onderkry nie. Ek het ’n pel wat ’n hele vloot beskikbaar het wat ek nou aan kontrakteurs op kontrakbasis verhuur. Ek kan nou aan iemand ’n laaigraaf verskaf en sommer ook vir sy maatskappy sing!” spot sy.

Maar die musiekwêreld vaarwel toeroep?

Nog nooit nie, sê Cordelia.

“Ek is terug agter die mikrofoon sodra ons weer kan optree.”

Robbie Wessels

Robbie Wessels.
Robbie Wessels.

Hy’s “ ’n bietjie bekommerd” omdat vertonings en optredes soos ons dit nog altyd geken het nie gou weer ’n werklikheid gaan wees nie, erken Robbie Wessels.

“Maar ek was nog altyd ’n ou wat van verandering hou. Ek hou van nuwe uitdagings.”

Robbie beplan binnekort ’n aanlyn konsert.

“Ek sal sien hoe dit vaar, maar ek glo nie dit sal die vibe van ’n fees of ’n ander groot konsert vervang nie.

“Ek sal dalk in die vol­gende jaar af en toe aanlyn of, wanneer ons weer mag, iewers langs ’n braaivleisvuur sing. Maar ek sal altyd aanhou sing.”

Suid-Afrikaners gaan ná die pandemie “honger wees” vir nuwe idees en musiekkonserte, voorspel Robbie.

“Ek dink feeste gaan aanhou waar dit opgehou het en net meer opwindend wees.”

Elizma Theron

Elizma Theron
Elizma Theron.

Die inperking is die langste nóg wat sy in die afgelope 15 jaar nie op die verhoog was nie, sê Elizma Theron. En steeds kry sy oproepe om konserte te kanselleer.

“Vir my beteken dit dat ek dalk eers weer volgende jaar gaan optree.

“Musiek is ál wat ek ken. Dis hoe ek geld verdien en tot ons gesin bydra. Daar is dae dat my keel toetrek wanneer ek probeer uitpluis hoe lank dit nog gaan aanhou. En dan besef ek selfs al word die inperking opgehef en ek kan weer optree, kan die publiek dalk nog te skugter wees om so ’n byeenkoms by te woon.”

Haar gesin hou haar positief, sê die ma van twee.

“Dis nie aldag maklik nie, maar dis ’n keuse. Die feit is dit gaan oorwaai. Ons weet net nie wanneer nie.”

Jennifer Zamudio

Jennifer Zamudio.
Jennifer Zamudio.

Sy sou vanjaar haar 20 jaar in die musiekbedryf met konsert­toere deur Gauteng en die Oos- en Suid-Kaap gevier het, sê Jennifer Zamudio. Maar toe kom die coronavirus al haar planne verongeluk.

“Wat dit moeilik maak, is dat shows lank voor die tyd bespreek word. Al lig hulle die inperking vandag, beteken dit nie ek kan môre op die verhoog klim nie.”

Nes ander sangers kan sy nie net uit albumverkope finansieel oorleef nie.

“Dis nou die tyd om te transformeer,” glo sy.

“Die toekoms van musiek lê in digitaal.”

Jennifer beplan om kuberkonserte te hou, maar erken dit gaan ’n groot aanpassing vir haar wees.

“My optredes is gegrond op die energie van die gehoor. My liedjies is polsend en ritmies – die gehoor kan daarop saamdans, en dit is iets wat moeilik kan wees met ’n aanlyn konsert.”

Leah

Leah. Foto: Huisgenoot
Leah. Foto: Huisgenoot

Leah “mis konsert hou”, vertel sy. Voor die inperking het sy tussen een en drie ver­tonings per week gehou. En as dit nie vir die corona­virus was nie, sou sy vier weke lank in die Staatsteater die hoofrol in die pantomime Doringrosie vertolk het.

“Ek dink aanlyn konserte is ’n wonderlike projek, maar al hierdie kreatiewe idees sal nooit dieselfde wees as ’n vertoning voor ’n gehoor nie. Die interaksie tussen die gehoor en dié op die verhoog is baie spesiaal.”


Sowat 95% van haar inkomstestroom het weens die coronakrisis opgedroog. Leah verdien nog geld uit die aanlyn verkope van T-hemde in haar reeks Ek Noem Jou Myne. Sy het ook nou met ’n eie reeks leer­ware saam met ’n vervaardiger van leerprodukte begin.

“Sommige dae is beter as ander,” sê sy. “Maar ons is almal in dieselfde bootjie. Ons moet saamstaan en mekaar ondersteun, al is dit hoe moeilik.”

Early B

Early B.
Early B.

Vir die rapper Early B is dit teleurstellend dat hy nie meer kan optree nie.

“Maar ons moet mense se veiligheid eerste stel. Ek vat maar die bitter met ’n smile,” sê hy.

Geld wat hy voor die pandemie weggesit het, help nou die pot aan die kook hou. Hy beplan ’n aanlyn konsert en werk ook aan ’n nuwe album wat mense “hopelik sal koop en stroom”.

Hy het ná matriek meganiese ingenieurswese studeer en bou graag motors en ­motorenjins. Aanhangers moet dus nie verbaas wees as hulle een van die dae ’n motor sien wat Early B gebou het nie, sê hy.

Tog bly die verlange na die verhoog brand. “Dis die plek waar ek lewendig voel.”


Intussen moet sangers die tegnologie en die sosiale media inspan om die bande met hul aanhangers heg te hou, meen hy.

“Ek dink dit is die antwoord: Ek het destyds oor my eie ervarings geskryf en liedjies en video’s op my foon opgeneem en versprei,” vertel hy oor sy beginjare.

Elandré

Elandré. Foto: Huisgenoot
Elandré. Foto: Huisgenoot

Hy is nie bekommerd oor sy eie toekoms of dié van die Afrikaanse musiekbedryf nie, sê Elandré, want digitale tegnologie gee dit nou “nuwe asem”.

Sy onlangse aanlyn konsert was ’n groot sukses, vertel die sanger.

“Dis ’n uitdaging om die produksie van die verhoog na ’n selfoon te vat, maar snaaks genoeg voel die gehoor nou ’n bietjie nader.”

Daar is beslis hoop vir die bedryf, meen hy.

“Daar is baie sy­straatjies waarin ons nou kan beweeg. Dit verander nie hoe ons kuns skep nie, maar eerder die manier hoe ons dit met ander deel.

“Ek is dankbaar vir elke platform wat ek tot my beskikking het en sal aanhou skryf en sing en sê hoe die lewe uit my oë lyk. Corona ofte nie, ons droom voort.”

Jak de Priester

Jak de Priester.
Jak de Priester.

Hy maak die afgelope twee maande op spaargeld staat om te oorleef. “Ons leef met minder. Ons koop nou net kos,” sê Jak de Priester, ’n pa van drie.

Teen druktyd het hy gereedgemaak vir sy eie aanlyn ver­toning. Maar dit kan nie vir sy verlies aan inkomste uit verhoogoptredes vergoed nie. Aanlyn konserte is ook nie lewensvatbaar nie, meen hy.

“Ek moet omtrent 100 sulke konserte deur die jaar doen om regtig die lewe te kan lei wat ek in hierdie stadium lei.”

Hy reken om soos van ouds konsert te hou gaan nie voor volgende jaar weer ’n werklikheid wees nie.

“Maar dit maak my nie bekommerd oor die toekoms nie – dit maak my net bekommerd oor 2020.”

Al moet hy nuwe planne beraam, sal hy altyd aanhou sing, sê Jak, wat vroeër skoolgehou het.

“As ek dalk ’n ruk lank weer onderwys moet gaan gee, sal ek. Ek sal doen wat ek moet om die pot aan die kook te hou.”

Danie du Toit (Spoegwolf)

Spoegwolf.
Spoegwolf.

Die groep Spoegwolf het nooit musiek gemaak om geld te maak nie, sê Danie du Toit, hul hoof­sanger en kitaarspeler.

“Ons maak musiek vir die vreugde van die saak.” Danie is mede-eienaar van die restaurant Drum op Stellenbosch saam met sy broer en mede-Spoegwolf-­groeplid, Moskou.

Bestellings vir wegneemetes daar stroom so vinnig in dat hy dit self help aflewer.

Ook Spoegwolf se eerste aanlyn vertoning in Mei was ’n reuse­sukses. Die aanvraag was so groot dat hul webtuiste nie die internetverkeer kon hanteer nie.

“Ons het nie eens naastenby gedink ons sal soveel mense kan lok nie,” sê Danie.

Oor oorlewing in dié uitdagende tyd is hy filosofies.

“Daar sal altyd in die lewe ’n klomp dinge met ons gebeur; ’n mens kan dit nie beheer nie. Jy kan kies hoe jy daarop reageer, en ek kies om positief te bly.”

PLATEBASE SE PLANNE

Baie sangers sukkel weens die inperking om kop bo water te hou, bevestig die grootbase van platemaatskappye.

“Sangers maak die meeste van hul inkomste uit vertonings,” sê Kobie Koen, uitvoerende hoof van Vonk Musiek.

Terwyl A-lys-sangers tussen R14 000 en R30 000 per vertoning kon vra, wissel die tarief van opkomende kunstenaars van R6 000 tot R7 500.

“Van ons sangers het voor die pandemie drie tot vier vertonings per week gedoen om te oorleef.”

Met albumverkope wat wêreldwyd daal namate stroomdienste en digitale platforms soos YouTube ál gewilder word, dra dit maar net tot ’n tiende van ’n sanger se inkomste by, sê Kobie.

Vonk Musiek het nou ’n aanlyn platform vir sy sangers, onder andere Jan Blohm, Dozi en Juan Boucher, geskep waar aanhangers teen ’n maandelikse tarief na vertonings kan kyk.

Coleske Artists, wat sangers soos Karlien van Jaarsveld, Elvis Blue en Riana Nel in sy stal het, het ’n soortgelyke stroomdiens.

“Ons het in die afgelope maand sowat 15 vertonings gedoen en beoog om teen die einde van die jaar oor die 100 vertonings op ons platform te hê,” sê Arnold Coleske, hul hoof.

Selfs ná die inperking verwag hy dat dit tyd sal neem vir die kunste om te normaliseer.

Mense gaan steeds huiwerig wees om byeenkomste by te woon, en ons gaan vir die afsienbare toekoms met ons stroomdiens aangaan.”

Al is die gewilde Afrikaans Is Groot-konsertreeks vanjaar van die baan, beplan hulle ’n aanlyn weergawe met agt of nege van hul sangers.

“Digitale konserte bied ’n oplossing, maar die inkomste wat sangers hiermee verdien, kan nie vergoed vir wat hulle in hierdie tyd verloor nie,” sê Ernst Kleinhans, hoofbestuurder van Select Musiek, wat sangers soos Robbie Wessels, Manie Jackson en Elandré verteenwoordig.

Tydens die inperking is baie sangers se enigste konstante bron van inkomste hul musiek wat gestroom word en die tan­tieme wat radiostasies hulle betaal.

“Die standaardberekening is dat ’n liedjie 1 200 keer gestroom moet word om dieselfde inkomste te genereer as die verkoop van een album,” skets Ernst die dilemma.

Almal moet nou kreatief dink om finansieel te oorleef, sê hy. “Ons het met ’n digitale teater, My Hart Klop Teater, begin waar sangers digitale konserte kan hou en die publiek teen afslag­pryse die konserte van hul gunstelingsangers in hul eie huis kan geniet.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.

FOTO'S: JACQUES STANDER, LUBABALO LESOLLE, DARREN STEWART, GALLO IMAGE/GETTY IMAGES, INSTAGRAM (@RIANANELOFFICIAL, @CORDELIA_LOUISE), FACEBOOK (JAK DE PRIESTER, ROBBIE WESSELS, ELIZMA THERON, JENNIFER ZAMUDIO, EARLY B)