Vanjaar vier Suid-Afrika ’n kwarteeu van demokrasie.

In 1994 het die reënboognasie gehoop op ’n toekoms van versoening, verdraag­saamheid en vooruitgang – dit was die be­gin van ’n gedeelde toekoms ná ’n verdeelde verlede. 

Maar 25 jaar later lyk dit soms of dié droom vir baie mense vervaag het.

Ons samelewing is polities verdeeld en ekonomies onder druk, en sosiaal-maat­skaplike uitdagings is volop.

Dit jaag Suid-Afrikaners alte maklik in verskillende kampe. 

Ons samelewing is polities verdeeld en ekonomies onder druk, en sosiaal-maat­skaplike uitdagings is volop.

Sommige landsburgers meen daar is te min boete gedoen vir apartheid, ander  glo die tragiese nalatenskap van die vorige bedeling leef op verskeie maniere voort, ander meen ons moet die verlede agterlaat.

Soms is die debat hieroor deurdag; dikwels raak dit vurig. 

Vryheid van spraak is een van die belangrikste hoekstene in ons Grondwet, maar openbare meningsverskille ontaard soms in polarisering en selfs haatspraak.

In die weke voor vanjaar se verkiesing op 8 Mei het ’n herrie oor vryheid van spraak en sosiaal-politieke verantwoordbaarheid opnuut gewoed toe Steve Hofmeyr se benoeming vir ’n Ghoema-­musiekprys onttrek is. 

Een van die Ghoemas se hoofborge, MultiChoice, het gedreig om hom te ­onttrek as die musiekvideo vir Steve se lied Die Land vir ’n prys benoem sou word omdat sy politieke uitsprake nie met die maatskappy se visie strook nie. 

Vryheid van spraak is een van die belangrikste hoekstene in ons Grondwet, maar openbare meningsverskille ontaard soms in polarisering en selfs haatspraak.

In dié opspraakwekkende lied sing ­Steve, Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Jay du Plessis en Ruhan du Toit saam oor hul toekomsvisie.

Met die herrie oor Die Land wat steeds eggo en ons sesde demokratiese verkiesing op hande, het Huisgenoot 25 Afrikaanse bekendes – ook Steve – gevra: Wat hoop jy, wat vrees jy, wat bou jy in Suid-Afrika – dié land, ons land? 

1. STEVE HOFMEYR, SANGER

steve hofmeyr,sanger,musiek,afrikaans
Steve Hofmeyr.

WAT HOOP JY? 

Ek was optimisties oor Suid-Afrikaners toe ek in 1992 “ja” gestem het vir vrede, magsdeling en liefde. Maar ek was naïef.

Ek hoop op enige verbetering. ’n Laer moordsyfer. ’n Laer verkragsyfer. Minder afdankings, meer werk, veiliger kinders...

Ek glo nie meer in eenheid nie. Ek glo in verdraagsaamheid tussen eenhede.

WAT VREES JY? 

Dat ons pogings om dinge te beredder verniet is; dat die skip nie meer omgedraai kan word nie.

WAT BOU JY?

Ek betaal belasting. Ek hoef niks meer te doen nie. Dit word verkwis.

My ander werk is primêr onder my eie mense en my eie taal. My maatskaplike plig is daar en kan nie voorgeskryf word nie.

Ek versprei ons storie internasionaal, en as kunstenaar skilder ek ons wanhoop plaaslik. 

2. CHRISTO WIESE, SAKEMAGNAAT

christo wiese,sakeman
Christo Wiese.

WAT HOOP JY? 

Dat ons land word wat ons kan wees. In genl. Jan Smuts se woorde: “Suid-Afrika is ’n besonderse land waar dit nooit so goed gaan soos dit behoort te gaan nie, maar dit gaan ook nooit so sleg soos wat dit kan gaan nie.”

WAT VREES JY?

My grootste vrees is dat ons voorbeelde gaan soek by lande wat misluk het, eerder as by lande wat goed gevaar het, soos Singapoer en Viëtnam.

WAT BOU JY?

Die afgelope paar dekades sien ek dit as my plig om mense moed in te praat en te wys op die groot geleenthede wat daar in Suid-Afrika is.

Ek wys mense daar­op dat hulle moet fokus op geleenthede op ons vasteland en nie net die probleme en uitdagings nie.

3. SHALEEN SURTIE-RICHARDS, AKTRISE

Shaleen Surtie-Richards
Shaleen Surtie-Richards.

WAT HOOP JY? 

Dat mense langs en met mekaar kan lewe. 

WAT VREES JY?

Dat die misdaadsyfer ons onderkry. 

WAT BOU JY?

Ek probeer deur my werk verhoudings met mense bou.

Toe Fiela Se Kind (Shaleen was in die hoofrol van die 1988-fliek) op Upington gewys is, was daar in die inryteater ’n muur tussen die wit en bruin mense.

Ek het gesê as hulle dit afbreek, sal ek die geleentheid bywoon. En hulle het. 

4. LIZZ MEIRING, AKTRISE

Lizz Meiring
Lizz Meiring.

WAT HOOP JY? 

My hoop is dat ons almal verby die verlede kan kyk en in ’n ware demokrasie sal saamleef. 

WAT VREES JY?

Sensuur in die kunste. Kreatiwiteit is nie net in die kunste nie; dis ook in die weten­skap en die ingenieurswese.

Mense moet vry voel om te kan sê wat hulle dink. Ek vrees sensuur van enige aard teenoor enige mens, op enige manier. 

WAT BOU JY?

Ek is baie betrokke by die Teater­bystandsfonds asook liefdadigheidsorganisasies vir werkloses, diere, ou en jong mense.

As spreker en as iemand in die kunste probeer ek altyd hoop en positiwiteit aan die mense oordra. 

5. MAX DU PREEZ, JOERNALIS EN POLITIEKE ONTLEDER

max du preez,joernalis,politieke ontleder
Max du Preez.

WAT HOOP JY?

Dat ons stabiliteit sal behou. Ek hoop die mobilisering van die burgerlike samelewing teen staatskaping, korrupsie en wanbestuur sal groei.

Ek hoop ’n nugter en realistiese proses van grondhervorming, veral in die stede, sal die politieke temperatuur laat daal.

Ek hoop ons kan almal begin insien rassisme skeur ons uit­mekaar en beduiwel ons toekoms.

Ek hoop die regering wat ná die verkiesing aangestel word, sal ’n nuwe visie implementeer wat vertroue herstel, die ekonomie laat groei en ongelykheid daadwerklik aanpak.

Ek hoop ons kan dan beter na ons kinders en jeug kyk.

WAT VREES JY?

Dat die populiste die oorhand kry en ons ekonomie, regsorde en vrye spraak ondermyn en ons verder langs klas-, etniese en ras­lyne gaan verdeel tot ’n punt waar haat en onverdraagsaamheid ons vreedsame naas­bestaan bedreig. 

WAT BOU JY?

Ek stry as burger en as joernalis vir verdraagsaamheid en teen rassisme en waak teen doem­profesieë.  

6. DANA SNYMAN, SKRYWER

dana snyman,skrywer
Dana Snyman.

WAT HOOP JY? 

Op ’n beter, meer verantwoordbare regering en dat ons kan beleef dat beweerde korrupte mense voor ’n hof gedaag word.

WAT VREES JY?

Dat ons lamgelê gaan word deur woede en dat ons drome in wraaksugtigheid verander. 

WAT BOU JY?

Ek probeer so vry­gewig moontlik leef, sonder dat die regterhand weet wat die linker­hand doen.

En onthou, as iemand brosjures by ’n verkeerslig uitdeel, neem altyd een, al word iets simpels daarop geadverteer.

Dit sorg dat die een wat die brosjures uitdeel ’n paar rand verdien. 

7. KIM CLOETE, AKTRISE

kim cloete,aktrise
Kim Cloete.

WAT HOOP JY? 

Ek het baie hoop vir ons land en sy mense, maar ons moet ons verskille met mekaar kan versoen.

En dit is nie ’n maklike taak nie, want ons het 11 ver­skillende tale en kulture.

Tog dink ek ons kan mekaar op ’n menslike vlak verstaan. Ons gaan net verandering in Suid-Afrika bring deur die verhoudings tussen mense. 

WAT VREES JY?

Die geweld wat mense ontlok. Daar moet ’n makliker manier wees om saam in hierdie land te woon sonder dat ’n geveg tussen mekaar uitbreek. 

WAT BOU JY?

Ek bou deur interaksie met mense, want dit is hoe ons hierdie land gaan ver­ander.

As ons net ’n klein bietjie goedheid teenoor mekaar wys, kan ons die land verander.

8. CHRISTO VAN DER RHEEDE, ADJUNK- UITVOERENDE HOOF, AGRI SA

christo van der rheede,agri sa
Christo van der Rheede.

WAT HOOP JY?

Op geleenthede vir almal ongeag hul etnisiteit, godsdiens of politieke affiliasie.

WAT VREES JY?

Dat ons land sal verval in ’n kookpot van rassepolarisering, -haat, -dis­kriminasie en -geweld.

WAT BOU JY?

Dit is my missie in die lewe om Suid-Afrikaners byeen te bring, netwerke en samewerking oor die kleurgrens te vestig, geleenthede te ontsluit en ekonomiese groei en groter welvaartskepping teweeg te bring.

9. DEON MEYER, SKRYWER

deon meyer,skrywer
Deon Meyer.

WAT HOOP JY?

Dat ons ’n storie sal begin skryf wat ons verenig.

Die geskiedkundige Yuval Noah Harari wys in sy boek Sapiens – a Brief History of Humankind hoe kragtig en samesnoerend ’n gedeelde narratief vir ’n land en sy mense kan wees.

Dit is tyd dat ons gesamentlik so ’n verhaal begin vertel wat gebou is op al die waardes en versugtings wat ons almal deel – die smagting na voorspoed vir ons kinders, vrede, liefde, welvaart...

WAT VREES JY? 

Dat die mense wat munt slaan uit ver­deling en polarisasie, vrees en haat ons sal ontneem van die geleentheid om ons gedeelde narratief te kan skryf. 

WAT BOU JY?

Ek soek voortdurend ­liewer na dit wat ons gemeen het, dit wat ons deel, dit wat ons saamsnoer. 

10. ARMAND AUCAMP, AKTEUR

armand aucamp,akteur
Armand Aucamp.

WAT HOOP JY?

Dat ons meer nuuskierig oor mekaar kan wees. Om uit te vind wat in ander kulture binne ons land aangaan; so sal ons mekaar weer begin leer ken.

WAT VREES JY?  

Dat vrees ons oorheers: vrees vir die “ander”; vrees vir ander tale, kulture, godsdienste, rasse en seksuele oriëntasies. Vrees kan ’n samelewing uitmekaarskeur. 

WAT BOU JY?

Ons moet ophou om die idee van ’n beter Suid-Afrika aan die regering en politici oor te laat; dit gaan nie gebeur nie.

Dit begin by elkeen van ons en hoe ons in ons eie lewe ’n verskil kan maak. 

Ek bou deur “dankie” te sê aan dié wat aan ons alledaagse dienste lewer – en dit te bedoel. 

11. KABOUS MEIRING, TV-AANBIEDER

kabous meiring,aanbieder
Kabous Meiring.

WAT HOOP JY? 

Ek hoop ons kan die moddergooiery in die sosiale media, klipgooiery in woonbuurte, geweervuur op plase, dorpe en op die Kaapse Vlakte staak.

Die oplossing lê by ons. Ons moet in ons motors klim en na mekaar toe ry met ’n warm brood onder die arm of ’n koue bier. 

WAT VREES JY?  

Dit frustreer my dat leiers nie oplossings vir almal soek nie.

Hier praat ek van leiers van burgerregteorganisasies, die privaat sektor en natuurlik stadsrade en die regering ook.

Suid-Afrikaners het in negatiewe taal begin praat; ons defi­nieer onsself deur dit wat ons nie is nie in plaas van dit wat ons is.

Ons het die wêreld al baie gewys wat ons definieer; ons kan ons land nie nou in die steek laat nie. 

WAT BOU JY? 

Ek be­ywer my om mense ’n platform te gee om hul sê te sê – mits dit met respek gedoen word.Om iemand stil te maak is om hom ’n geweer te gee.

En die teenpool: Om sonder re­spek te kommunikeer is om daardie geweer te gebruik. 

12. MIKE SCHÜSSLER, EKONOOM

mike schussler,ekonoom
Mike Schüssler.

WAT HOOP JY?

Dat die verarming wat ons die laaste ses jaar gehad het en vanjaar gaan hê, sal verander en mense weer ryker sal word.

Wanneer dit gebeur, sal mense minder baat vind by geweld en rassespanning, en meer werk kan geskep word. Meer werk gee mense hoop en be­teken minder misdade. 

WAT VREES JY? 

Suid-Afrika het reeds 10 miljoen mense sonder werk. Ek vrees dat hierdie getal groter word.

Dit knou die siel van mense – dit is wanhoop.

Dit is nie net ’n verlies aan inkomste nie, ook heenkome, hoop, trots en standvastigheid. Dit breek families en bring depressie. 

WAT BOU JY?  

Ek probeer positief bly vir myself en my gesin, maar ek praat ook reguit as iets nie reg is nie.

Ek ontleed goed wat vir almal belangrik is, maar nie ’n inkomste inbring nie en ek gesels baie met sake-mense en mense met idees. Ek hoop ek help soms.

13. DR. PIET CROUCAMP, POLITIEKE ONTLEDER

piet croucamp,politieke ontleder
Dr Piet Croucamp

WAT HOOP JY?

Ek hoop dat die konsep van die gesin kan herstel.

Te veel kinders leef in gebroke gesinne en te veel vroue dra alleen die lading van ouerskap. 

WAT VREES JY? 

My vrees is dat ons verskille belangriker word as dit wat ons gemeen het.

Ideologie, godsdiens, taal, klas en historiese verskille kan ons finaal van mekaar vervreem.

Op die oomblik het ons net die kompromis van 1996 gemeen. Op die een of ander wyse moet ons meer met mekaar gemeen kry.

Die momentum is nou in die verkeerde rigting.

WAT BOU JY? 

Ek verkies om mense te konfronteer met die teenstrydighede van ons bestaan in hierdie land.

Sonder introspeksie en kritiese denke is medelye ’n hersenskim.

14. SNOTKOP, MUSIKANT

snotkop,musikant
Snotkop.

WAT HOOP JY?

Dat Suid Afrikaners moeite sal doen om mekaar werklik te leer ken. Probeer om minstens een Afrikataal te leer.

Dit klink dalk eenvoudig, maar glo my, dit is ’n teken van re­spek en belangstelling. 

WAT VREES JY? 

Dat ons mekaar vir ewig sal verwyt oor wat alles in die verlede gebeur het en so verdeeld bly, aanhou kwaad wees en in vrees lewe.

My grootste vrees is dat magshonger politici ons verder sal verdeel en opstook teen mekaar, en nog meer haat versprei. 

WAT BOU JY? 

Ek het jare lank as Suid-Afrika se eerste en enigste Sotho-sprekende kwaitokunstenaar die land platgetoer, CD’s uitgereik en liedjies geskryf en opgevoer regdeur Venda tot in KwaKwa en Giyani.

Ek het township-straatkultuur bestudeer deur saam met vriende daar te wees en ek doen dit steeds.

Ek probeer ’n boodskap van eenheid en respek by my optredes versprei, en ook in my persoonlike lewe. 

15. BOUWER BOSCH, AKTEUR EN SANGER

Bouwer Bosch
Bouwer Bosch.

WAT HOOP JY?

Ek hoop ons kan ’n stadium bereik dat ons besef ons het selfs binne al ons kultuur- en velkleurverskille baie meer gemeen en is meer eenders as wat ons anders is. 

WAT VREES JY? 

Die slagoffermentaliteit wat kultuurgroepe en mense toon.

My vrees is dat hierdie mentaliteit ons so kreupel maak dat ons nie weer kan opstaan nie.

WAT BOU JY?  

Die organisasie Liefde Wen doen verskillende opheffingsprojekte. 

Ek is ook betrokke by Afrikaanse musiek-­ontwikkelingsprojekte waarmee ek ’n paar bruin kunstenaars probeer help en saam met hulle skryf.

Ek doen dit om Afrikaans se onthalwe sodat dit kan groei, maar ook om die verlede te help regmaak.

16. RIAAN CRUYWAGEN, NUUSLESER

Riaan Cruywagen
Riaan Cruywagen.

WAT HOOP JY?

My grootste wens vir Suid-Afrika en sy mense is dat ons ná ’n kwarteeu van demokrasie saam sal bou aan die toekoms.

Ons moet ’n toekomsvisie aangryp wat verg dat die moue opgerol word in die strewe om ’n land te vestig met ’n krag­tige ekonomie wat werkgeleenthede skep, armoede uitroei, korrupsievry is, diens van die hoogste gehalte lewer, die veiligheid van elkeen waarborg, rassevooroordeel uitwis en in alle opsigte gelyke geleenthede volgens verdienste aan almal bied. 

WAT VREES JY? 

Verdere polarisasie in die land en toenemende rassespanning.

Die ondeurdagte speel van die raskaart – veral deur politici – sweep gemoedere op en maak die kloof tussen “ons” en “hulle” net ál groter sodat daar van ware versoening en nasie-bou weinig sprake meer kan wees. 

WAT BOU JY? 

Ek doen my uiterste bes om in my daaglikse omgang met alle mense op voetsoolvlak goeie verhoudings te vestig. 

Ek word gereeld aangenaam verras deur die vriendelike reaksie van vreemdelinge wanneer ek hulle tydens my daaglikse fiksheidstappie groet – party knoop selfs ’n geselsie aan.

Ek het geleer ’n vriendelike glimlag kan skanse afbreek.

17. IRSHAAD ALLY, AKTEUR

irshaad ally,akteur
Irshaad Ally.

WAT HOOP JY?

Ek het nog altyd geglo die goeie Suid-Afrikaners is dié wat ’n pad vorentoe maak, wat verder kyk as dit wat hulle ken of wat hulle van jongs af in hul gemeenskap geleer is.

Hulle is in staat om te sê: Jy is steeds my Suid-Afrikaanse broer, suster, oom, tannie – wie of wat hulle ook al is, wat hul geskiedenis is of hoe hulle ook al geleer is om te dink.  

WAT VREES JY?

Ek vrees dat Suid-Afrikaners in kortsigtige meningsverskille verstrengel raak terwyl die toekoms van ons afhang; dat ons in die hede vassit en kortsigtig word.

WAT BOU JY?

Ek probeer ’n goeie pa vir my kinders wees en vir hulle ’n goeie voorbeeld stel, en ’n goeie man vir my vrou.

Menslikheid begin by jou eie huis en daarvandaan sal dit die res van die wêreld bereik.

18. RUDA LANDMAN, TV-AANBIEDER

Ruda Landman At Home
Ruda Landman.

WAT HOOP JY?

Dat ons die eenheidsgevoel wat ons tydens 1994 en die Sokkerwêreldbeker gehad het weer sal terugkry.

WAT VREES JY? 

Presies die teenoorgestelde hiervan. Steve en die EFF se uitsprake staan in die pad van daardie eenheidsgevoel.

Die gevolg is mense trek terug in hul eie enklawes en dit raak ’n geval van “ons” en “hulle”. 

WAT BOU JY?

Ek leer op die oomblik Zoeloe. Ek is ook betrokke by ’n projek met die naam Grad wat gidse gee aan eerstejaarstudente om hulle te help met eenvoudige konsepte soos tyds­bestuur en ’n sakgeldbegroting.

19. SCHALK BEZUIDENHOUT, KOMEDIANT

schalk bezuidenhout,komediant
Schalk Bezuidenhout.

WAT HOOP JY?

Dat dinge in die land net ’n bietjie minder gekompliseerd kan wees.

WAT VREES JY?

Dat Suid-Afrikaners hul humorsin en die vermoë om vir hulself te lag verloor.

WAT BOU JY? 

Humor en satire is my bydrae.

20. DEAN JOHN SMITH, AKTEUR

dean john smith,akteur
Dean John Smith.

WAT HOOP JY? 

Dat ons saam sal staan, sal vergeet van die dinge waaroor ons wroeg en wat onsmaaklik is en mekaar sal aanvaar.

WAT VREES JY?

My grootste vrees is dat mense mekaar so afbreek dat hulle heeltemal in ’n warboel van negatiwiteit verval. 

WAT BOU JY? 

Ek fokus op die mens langs my en om sy lewe ’n bietjie beter te maak, want daardie een dra dit weer oor na die volgende mens en so kan dit versprei. 

21. HANNON BOTHMA, TV-AANBIEDER

Hannon Bothma and his husbands luxurious life in S
Hannon Bothma.

WAT HOOP JY? 

Dat almal trots sal wees op ’n land met gelyke geleenthede en dat niemand so ingedoen en onvergenoegd voel dat hulle vir selfbehoud hoef te roof nie. 

WAT VREES JY?

’n Outokratiese bedeling waarin die wet omseil word en die staat en oortreders nie tot verantwoording geroep word nie. 

WAT BOU JY? 

Ek probeer bande bou deur humor en respek. Asseblief en dankie is baie magtiger as wat ’n mens dink. 

22. HERMANN GILIOMEE, HISTORIKUS

hermann giliomee,historikus
Hermann Giliomee.

WAT HOOP JY?

Dat ons meer uit ons geskiedenis leer.

Genl. Jan Smuts het in 1949 by die onthulling van die Voortrekkermonument verwys na Suid-Afrika se geskiedenis wat vol tragedie en komedie, nederlaag en oorwinning, vreugde en smart en aangrypende menslike belang is.

In dieselfde jaar het hy aan die romanskrywer en historikus Sarah Millin geskryf: “The whole world is moving into a ‘Colour’ phase of history, with results none can foresee and South Africa should dread most. Still, the worst, like the best, never happens.”

Dit moet ons uitgangspunt wees: Die slegste, nes die beste, gebeur nooit.

WAT VREES JY? 

Dat ons ophou om met mekaar te praat en mekaar te probeer vind.

Wit, bruin en swart moet saam praat oor die verlede, die hede en ons gesamentlike toekoms. 

WAT BOU JY?  

Ek skryf oor die geskiedenis.

23. FRANS CRONJÉ, HOOF: INSTITUUT VIR RASSEVERHOUDINGS (IRV)

frans cronje,irv
Frans Cronjé.

WAT HOOP JY?

Dat die regering ideologiese dogma laat staan en so die weg baan vir strukturele hervormings wat eiendomsregte verseker, die arbeidsmark verruim, SEB- en diensbillikheidswetgewing herroep, en ouers en gemeenskappe toelaat om groter beheer oor skole en polisiekantore te verkry.

WAT VREES JY?

Dat die EFF en ANC sal verenig en konstitusionele beskermingsmaatreëls sal kan vernietig. 

WAT BOU JY? 

Die IRV skep druk om die ANC te dwing om af te sien van beleide wat eiendomsregte kan bedreig en burgerlike vryhede kan ondermyn. 

24. NATANIËL, SANGER, SKRYWER EN AANBIEDER

nataniel,sanger,skrywer,aanbieder
Nataniël.

WAT HOOP JY?

Veiligheid vir almal. Geen mens kan reg en ten volle funksioneer en ontspanne en gesond leef terwyl hy onveilig voel nie. 

WAT VREES JY? 

My vrese is vir my peetkinders, my broers en suster se kinders, want ek weet nie hoe hul toekoms hier lyk nie.

Ons is oorgelaat aan die genade van mense wat klaarblyklik nie genoeg reis of lees of kennis neem van hoe ’n suksesvolle plek werk nie.

Ons strate is vuil, ons weier om ons eie sakke winkels toe te vat, en ons kinderverwaarlosing is van die ergste ter wêreld.

Ons tree nie sterk genoeg op teen dié wat diere jag en onwettig handel dryf met horings en eksotiese diere nie. 

WAT BOU JY? 

Ek is hier. Ander mense met dieselfde vrese, ambisies en artistiese doelwitte as ek het lank­al reeds vertrek.

Ek het afhanklikes in my persoonlike lewe, my professionele bestaan en my liefdadigheidswerk. Dit is my eersteprioriteit. 

25. ELANA AFRIKA-BREDENKAMP, AKTRISE EN OMROEPER

elana afrika,aktrise,omroeper
Elana Afrika-Bredenkamp.

WAT HOOP JY? 

Dat ons onthou waarvandaan ons kom en weet ons is êrens heen op pad.

Ons aandag raak so vinnig afgetrek van die wonderlike goed wat ons as Suid-Afrikaners al gedoen het.

Ook dat ons gefokus bly op goed wat land en karakter bou.

WAT VREES JY? 

Dat ons negatiwiteit bo positiwiteit sal kies. Ons moet versigtig wees om nie ’n oordeel te vel oor kwessies waaroor ons nie behoorlik ingelig is nie.

WAT BOU JY? 

Ek is in die bevoorregte posisie om positiwiteit te kan uitsaai op platforms soos die radio, televisie en die sosiale media.

Ek bou aan ’n beter land deur goeie nuus te versprei, ingelig te bly en te stem. 

FOTO'S: LUBABALO LESOLLE, MISHA JORDAAN, DINO CODEVILLA, TUMELO LEBURU, LIZMARIE RICHARDSON, MARTIN DE KOCK, PAPI MORAKE, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, AGRISA, GALLO IMAGES/FOTO24/DENZIL MAREGELE, GALLO IMAGES/RAPPORT/JACO MARAIS, GALLO IMAGES/SUNDAY TIMES/KATHERINE MUICK-MERE, GALLO IMAGES/SUNDAY TIMES/ESA ALEXANDER, GALLO IMAGES/NETWERK 24/DEAAN VIVIER, VIA, KYKNET, INSTAGRAM, YOUTUBE