Lê oorskot iewers in ’n mynskag of het hy die hasepad gekies?

Dié vrae hang in die lug nadat Ralph Haynes, die “mafiabaas” van die Wes-Rand, in 2011 verdwyn het. Nadat hy op daardie dag in ’n helikopter geklim het, is hy nooit weer gesien nie.

Ralph se vriende onthou hom as ’n vrygewige Robin Hood wat armes van groente en geld voorsien het. Sy slagoffers, daarenteen, onthou hom as die meedoënlose skelm wat hulle uit hope geld en besittings verneuk het.

Die boewebaas het ook verskeie beroemde vriende gehad. In ’n plofbare nuwe boek, Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand, waarvan Huisgenoot ’n eksklusiewe uittreksel publiseer, maak die joernalis en RSG-aanbieder Izak du Plessis skokonthullings oor onder meer Ralph se band met die sanger Steve Hofmeyr.

Ralph was bevriend met verskeie bekendes, onder wie Steve Hofmeyr. Foto: Gallo Images/Beeld/Wikus De Wet

Ralph het ’n besonderse vriendskap met Steve gehad, wat by Peet Viljoen begin het. Peet het self ’n sagte plekkie vir bekendes gehad en vir verskeie as prokureur opgetree.

Steve was een van hulle. Hulle het mekaar tydens ’n kinderpartytjie by Joost van der Westhuizen en Amor Vittone ontmoet. En volgens Steve het Peet hom baie gehelp tydens sy en Natasha Sutherland se egskeiding.

In 2007 kom Steve en Natasha se sprokieshuwelik tot ’n einde. Dit volg op die onthulling dat Steve ’n buite-egtelike verhouding met ’n jong aanhanger, Janine van der Vyver, gehad het.

Steve maak die verhouding met Janine af as ’n jong vrou se heldeverering vir hom, net om later te erken hy is wel lief vir haar.

Maar hy besef blykbaar Natasha sou hom kaal uittrek as hulle sou skei, en die twee besluit om te kyk of hulle die huwelik kan red. Dit plaas hom tussen twee vure, want Janine is nie gelukkig nie.

Ralph het Joost van der Westhuizen glo baie gehelp voor hul verhouding eindelik versuur het.

Volgens haar het Steve allerhande beloftes aan haar gemaak, en blykbaar vir haar ’n ring gekoop. Op grond hiervan dagvaar sy hom, en die hele verhaal ontvou van voor af op koerant- en tydskrifvoorblaaie.

Steve knak en beland in die hospitaal.

Volgens Peet het hy Ralph toe aan Steve voorgestel omdat Steve ’n manier gesoek het om Janine “stil te maak”. Maar Peet erken hy weet nie wat die stilmaak beteken nie. Hy vermoed dit het iets te doen met Janine se vriend wat in Krugersdorp bly.

Die versoek sou glo wees dat Ralph die ou moet boelie sodat Janine ophou media toe hardloop. Steve ontken dit. Hy sê sy verhouding met Peet het versuur en hulle is op slegte voet uitmekaar.

En dit is toe dat hy vir Ralph ontmoet nadat Peet hom op sy spoor gesit het. “Ek het in ’n restaurant in Pretoria-Oos gesit,” vertel Steve, “en hierdie enorme ou het na my toe aangehink gekom.

“Hy het voor my kom sit en gesê hoewel dit sy werk is om my vandag uit te vat, het hy vir sy manne gesê hy vat sommer die ou uit wat hom gestuur het,” sê Steve en lag uitbundig. Dit is waar sy vriendskap begin het.

Hy voeg by hy kan nie bevestig dat Peet hom regtig wou uithaal nie, maar dit is die boodskap wat Ralph hom gegee het. Maar Peet hou vol Steve se motief vir sy vriendskap met Ralph was om ten minste vir Janine ’n les te leer.

Volgens Steve het Ralph ’n aaklige werk gehad. Hy was ’n soort skuldinvorderaar vir ryk mense; daarom het hy vyande oral gemaak.

“Maar die deel wat ek van Ralph geken het, was net die goeie deel,” verklaar Steve.

Maar Theuns Jordaan (REGS) het blykbaar een van Ralph se makkers erg omgekrap, onthul die skrywer. Foto: Jacques Stander

“Hy’t ingeloop in hierdie huis... Hy’t altyd vier of vyf selfone gehad en dan pak hy hulle hier uit. Dan lui die foon en hy tel op, ‘Ja, gaan maar voort,’ dan sit hy die foon neer.”

Steve het hom later gevra om nie meer die oproepe voor sy gesin te beantwoord nie omdat hy ongemaklik geraak het. Hy sê Ralph het van toe af sy oproepe buite gaan beantwoord. In daardie tyd is Steve en Natasha geskei.

Sy het die huis leeggemaak. “Dit was so hol soos die Kangogrotte,” vertel Steve. Ralph het een Maandag by die leë huis opgedaag en gesê geen vriend van hom kan alleen in so ’n plek sit nie.

Hy bel Dawie (Lötter) en vier uur later kom twee vragmotors aan. Die meubels het alles uit Dawie se pandjieswinkel gekom. Ralph het ál gereelder daar aangekom.

“Hy’t my alles vertel,” sê Steve. “Ek kon nie glo dis waar nie. Dit was so inspirerend dat ek van die karakters in my boek op sy stories geskoei en die boek Kapabel aan hom opgedra het.”

Steve vertel hulle het by baie mense gestop, maar dit het hom opgeval dat Ralph nooit geld by hulle gekry het nie. Hy het altyd besittings ter waarde van die skuld gevat.

“Op dié manier het Ralph naderhand nie meer plek gehad vir die karre en ander goed by sy huis nie. So hy het van hulle hier aangebring. Hy kom hier aan met ’n Dodge Ram.

’n Spierwit Dodge Ram, dan sê hy, dis joune. En so het ek ses maande met die ding gery. “Kom ek gaan wys jou iets,” sê Steve.

In ’n buitekamer staan ’n Fat Boy-motorfiets. Dit het al ’n dik stoflaag op. “Ralph het my eendag gebel om te vra of hy R250 000 kan leen,” vertel  Steve.

“Ek sê vir hom, jis, Ralph, ek het nie nou soveel geld nie, maar ek sal kyk wat ek kan doen. Ek het geraap en skraap en dit bymekaargemaak omdat Ralph al so baie vir my gedoen het.

“Maar ek het nooit...vir hom goed gevra nie; ek het nie vir hom gevra om mense te gaan m*** nie. Ek kon egter nie vir hom nee sê vir die geld nie.”

Steve vertel hy het geweet hy is in die moeilikheid die oomblik toe hy die geld vir Ralph gee, want hy het geweet hy gaan nie die geld kan terugvra as Ralph dit nie betaal nie. Dit is presies wat gebeur het.

“Met al daai karre en daai reusagtige huis en al die diamante in die kluis kon Ralph my nie terugbetaal nie. “Maar toe kom die motorfiets eendag hier aan. En hier staan hy vandag.”

Die twee het ál meer dikwels saam dinge gedoen. In dié tyd het Steve agtergekom Ralph het ook ’n omgeekant. Hulle het onder andere Ralph se ma besoek.

Steve vertel die woonbuurt het hom aan die buurt van tant Stienie van Agter Elke Man herinner.

Hier het hy agtergekom Ralph voorsien die hele straat weekliks van kos en groente. Dis die deel van Ralph wat hy wil onthou.

Hoe gevaarlik Ralph eintlik is, het Steve agtergekom toe Ralph hom op ’n dag bel oor ’n sekere sanger. Steve wil nie hê ek moet die naam noem nie; hy sê nie eens vir my wie die sanger is nie.

Hy vertel Ralph het hom gebel om te vra of hy die sanger ken en of die ou ’n goeie mens is, waarop Steve toe antwoord: “Ja, ’n baie goeie mens.”

“O, goed,” sê Ralph, “die ou het k** aangejaag en ek het een van my manne opdrag gegee om hom uit te haal.”

“Wat bedoel jy ‘uithaal’?” vra Steve. “Hy het Dawie se girl ges*****. Een van my manne lê in sy tuin, hy gaan hom uithaal,” antwoord Ralph.

‘Die deel wat ek van Ralph geken het, was net die goeie deel’

Steve sê dit het al sy vernuf gekos om Ralph te oortuig om nie die sanger uit te haal nie. Maar hy het dit eindelik reggekry en die man is onttrek. Steve weier om die naam vir my te gee. Toe hy klaar vertel het, sê ek: “Jy praat van Theuns Jordaan.”

Steve het ’n oomblik doodstil gebly en toe gesê: “Dit lyk my jy ken die storie.” Hier is dit dan: Steve het nie die sanger se naam genoem nie.

Maar op grond van vier verskillende bronne by wie ek die storie gehoor het, kan ek onthul dat Theuns Jordaan sy lewe aan Steve Hofmeyr te danke het.

Eindelik kom ons gesprek by die groot partytjie uit. Die een waarvan die foto’s op Rapport se voorblad gepryk het. Volgens koerantberigte was dit ’n orgie van dwelms en seks.

Steve sê as daar so iets was, het hy dit nie gesien nie.

Dat hulle behoorlik dronk geword het, is die waarheid. Een van die foto’s in Rapport is van Steve, Ralph en Joost.

Die opskrif is: “Godfather fuif saam met Steve en Joost.” Steve noem hy het bekommerd geraak oor Joost. Ralph het baie geld aan Joost geleen tot Joost hom nie meer kon terugbetaal nie.

Die volgende ding wat Steve hoor, is dat Joost by (die privaat speurder) Mike Bolhuis was. Dit blyk toe Joost was van plan om sekere inligting oor Ralph aan Mike te verskaf, wat Mike in sy ondersoek na Ralph wou gebruik.

Een oggend bel Joost en oortuig Steve om na Mike se hoewe buite Pretoria te gaan. Daar gekom, vind hy saam met Joost ’n senior polisieman wie se naam hy nie onthou nie, die advokaat Jaap Cilliers en Mike self.

Hulle is op die punt om Ralph vas te trek. Steve het hom vererg. Hy het Joost ook verwyt oor sy verraad.

Vir Mike het hy gesê hy gaan nie ’n dolk in iemand se rug steek wat vir hom net goed was nie en die vergadering verlaat. Ralph was verskriklik in sy noppies oor Steve se optrede.

Daardie gesprek waarin hy Ralph ingelig het oor wat by Mike se huis gebeur het, was die laaste persoonlike gesprek tussen hulle.

Hulle het daarna nog een of twee keer oor die telefoon gesels, maar mekaar nie weer gesien nie. Toe kom die nuus dat Ralph verdwyn het.

“Ek het naderhand van my mense ingespan om te kyk of ’n mens selfoonseine kan opspoor, vlugplanne van die helikopter kry en met mense praat wat hom dalk kon gesien het, maar dit het niks opgelewer nie,” vertel Steve.

Kort ná Ralph se verdwyning kry Steve ’n uitnodiging van Frikkie Lutzkie (die oudverkenningsoldaat, later ’n skatryk sakeman), wat hy nog nooit ontmoet het nie, om by hom te kom eet.

Steve beskryf Frikkie as ’n vreemde karakter, maar hulle het lekker gekuier en die uiteinde was dat Frikkie Steve hand en mond belowe hy het niks met Ralph se verdwyning te doen nie. Of hy hom moet glo, weet hy nie.

Steve het ’n tyd lank vas geglo Ralph het self verdwyn en vir almal wat hom soek ’n streep getrek. Maar toe dit naderhand ses maande word, het hy aanvaar Ralph is dood.

Hoekom sal enige regdenkende mens ’n vriendskapsband met iemand soos Ralph Haynes hê as hy nie deel is van die onderwêreld of daaruit wil voordeel trek nie? “Ek trek sulke weird mense aan omdat ek nie ’n oordeel vel oor wie iemand is nie,” sê Steve.

“En dit het baie te doen met daai karakter wat ek gespeel het, Bruce Beyers, in Agter Elke Man. En ouens soos Ralph, hulle ís Bruce Beyers. Hulle voel veilig by my.” 

Wie was Ralph Haynes? 

Ralph Haynes was ’n berugte figuur in die Wes-Randse onderwêreld. Hy was na bewering een van die laaste lede van ’n bende waarin die apartheidsmisdadiger Ferdi Barnard, steeds agter tralies weens onder meer moord, ’n hooffiguur was.

Die polisie het Ralph weens ’n string aanklagte insluitend diefstal en bedrog gesoek toe hy op 21 Januarie 2011 saam met die sakeman, hokvegter en voormalige recce Frikkie Lutzkie naby Pretoria in ’n helikopter klim.

Hy sou saam met Frikkie tot by dié se huis in Middelburg vlieg, waar hulle bepaalde sake sou bespreek.

Frikkie het vertel hulle het dit wel gedoen en hy het vir Ralph ’n bakkie geleen om mee huis toe te ry. Dié voertuig is verlate en met stukkende vensters tussen Bronkhorstspruit en Kempton Park aangetref.

Die Valke het ten tyde van Ralph se verdwyning gesê hulle vermoed hy wou dit laat lyk asof hy dood is, maar dat hy eintlik na Siprus probeer ontsnap het.

Kommentaar
  • Sy weet nie wie Ralph Haynes of Peet Viljoen is nie, het Amor Vittone geantwoord toe Huisgenoot haar nader. Sy dra ook geen kennis daarvan dat Joost ooit partytjies saam met Ralph bygewoon het nie. “Dit is ’n bose aantyging. Die skrywer wil net my en Joost se name gebruik om sy boek te verkoop. Ek sal beslis regstappe neem as ons beswadder word,” het die sangeres gesê.
  • Theuns Jordaan het by monde van sy woordvoerder, Ronél Brink, laat weet hy is “stomgeslaan” deur die bewerings en weet glad nie waarvan die skrywer praat nie.
  • “Vir Steve kan ek dus net dankie sê vir nugter denke in vreemde situasies, dit alles in ’n bedryf waar mense fiksie en werklikheid gedurig met mekaar verwar,” het die sanger bygevoeg. Nadat Huisgenoot die bewerings in die boek aan Steve Hofmeyr gestel het, was sy repliek: “Hahahaha. Peet het beslis nie vir Ralph aan my voorgestel nie. Ralph het homself voorgestel en toe gekom met ’n interessante storie. Ek en Peet was toe reeds effens vyandig met mekaar en het nie meer gepraat nie.” Die sanger sê voorts dat Ralph nooit iets verkeerds voor hom gedoen het nie. “Ons het gesonde respek vir mekaar gehad; hy het af en toe aangebied om my op te pas, maar nooit amptelik nie. Hy het wel eenkeer ’n voertuig kom aflaai wat ek kon gebruik, maar dit was nooit myne nie.

“Hy was vreeslik lief vir musiek en het my elke Maandag van my lewe gebel. Ek was net bewus van Ralph se reputasie en gefassineer deur die skrikwekkende stories uit sy eie mond. Van dié het ek gebruik in my roman Kapabel. Dit sal jammer wees as niemand noem hoe hy soms pakke kontant in sy ma se buurt tussen behoeftiges uitgedeel het nie. Verder twyfel ek nie dat hy ’n donker kant gehad nie, maar dit het hy vir die onderwêreld gespaar. “Vir my is dit alles amper ’n dekade gelede. ’n Vreemde episode, maar lank vergete. Ek dink hy leef nie. Hy sou my laat weet het.”

  • ’n Geredigeerde uittreksel uit Ralph Haynes: Godfather van die Wes-rand deur Izak Du Plessis (Penguin niefiksie), R250.

Die pryse was korrek teen druktyd en is onderhewig aan veranderinge sonder voorafkennisgewing.