Aan die einde van verlede jaar is prinses Charlene
Aan die einde van verlede jaar is prinses Charlene met ’n splinternuwe, halfgeskeerde haarstyl gesien toe sy ’n Kersge­skenk­versprei­ding by die paleis in Monaco gehou het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar toe sy verlede maand met ’n nuwe haarstyl haar verskyning maak – so anders, so uitdagend dat dit selfs as “ ’n daad van rebellie” beskryf is – is daar druk bespiegel oor veel meer as haar hare.

Dit was immers te midde van die “ergste krisis” in haar en prins Albert se huwelik, soos ’n bron in die binnekring dit bestempel, dat Charlene op dié sonderlinge styl besluit het.

Vir dié deels Mohikaanse, deels parmantige elfiestyl is haar kop aan die een kant kaal geskeer, met ’n langerige kuif en hare wat glad oor haar agterkop val.

Oor die aardbol heen het dit mense aan die praat en wonder gehad, aan die einde van wat volgens ’n bron vir Charlene “ ’n verskriklike 2020” was.

Nie net was prins Albert (62) verlede jaar die eerste staatshoof wat covid-19 opgedoen het nie; ’n Brasiliaanse vrou het ook onlangs na vore gekom met bewerings dat hy die pa van haar 15-jarige dogter is. Die enkelma eis dat hy ’n DNS-toets ondergaan en ’n hofsaak daaroor word luidens mediaberigte aanstaande maand in Milaan, Italië, aangehoor.

Toe ek vyf of ses was, het ek my ma bly vra waar jy is en waarom jy nie by ons is nie, want ek het vriende wat altyd albei ouers het met wie hulle kan speel, maar ek het nooit ’n antwoord van jou gekry nie.

Volgens nuusberigte het die 34-jarige vrou, wie se naam om regsredes nie genoem mag word nie, na bewering destyds ’n “passievolle” verbintenis met die prins gehad, en dit het op die geboorte van ’n dogter op 5 Julie 2005 uitgeloop. Dit was voor prins Albert met Charlene, ’n boorling van Suid-Afrika, getroud is.

Daar is ook berig dat die dogter volgens die hofdokumente verlede September ’n handgeskrewe nota in Portugees aan Albert gestuur het.

“Toe ek vyf of ses was, het ek my ma bly vra waar jy is en waarom jy nie by ons is nie, want ek het vriende wat altyd albei ouers het met wie hulle kan speel, maar ek het nooit ’n antwoord van jou gekry nie,” lui die nota glo.

“Ek verstaan nie waarom ek sonder ’n pa grootgeword het nie, en noudat ek jou gevind het, wil jy my nie sien nie.”

Afgesien van sy en Charlene se tweeling, Jacques en Gabriella (6), is Albert ook die pa van twee buite-egtelike kinders wat hy onderhou en wat al by hom en sy gesin in die Prins se Paleis kom kuier het.

Maar hierdie geval is anders – indien die bewerings waar is, is die dogter oor wie die vaderskapsgeding nou gevoer word, verwek kort voor Charlene en Albert ’n paartjie geword het.

“Charlene het ’n aaklige 2020 gehad, met die een familiekrisis op die ander, insluitend Albert wat die coronavirus opgedoen het. En nou moet sy regmaak vir hierdie hel,” beweer ’n bron.

Sy wil nie die bewerings glo nie, “maar om dit te verwerk is ’n nagmerrie”, sê die bron.

“Dit is haar ergste krisis sedert sy met Albert getrou het”.

By navraag het die prinses aan Huisgenoot gesê sy sal haar man altyd bystaan.

“My gesin sal altyd my eerste prioriteit wees en ek sal altyd my man, prins Albert, ondersteun.”

Charlene is verlede jaar met ’n kort kuif opgemerk
Charlene is verlede jaar met ’n kort kuif opgemerk toe sy saam met Albert die Monte Carlo-gala vir die gesondheid van die planeet bygewoon het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Charlene, wat op 25 Januarie haar 43ste verjaardag vier, het ook vertel wat haar vir die nuwe haarstyl laat lus kry het.

“Dit was covid en inperking, met geen werk en reisverpligtinge nie. Ek het gevoel dis die ideale tyd om te eksperimenteer en ’n bietjie pret met my hare te hê,” verduidelik sy aan Huisgenoot.

Die Brasiliaanse vrou wat Albert glo wil hof toe neem, beweer in hofdokumente hul romanse het in September 2004 begin toe hy Amerika besoek het en ook ’n draai in Rio de Janeiro gemaak het “om die sosiale lewe te geniet”.

Hulle het mekaar glo op ’n partytjie ontmoet en daarna het hy volgens haar tydens reise na New York ook by haar kom kuier voor hy haar Europa toe genooi het.

In Lissabon, waar sy ’n afspraak met Albert gehad het, het sy glo haar paspoort verloor en Monaco se konsulaat in die Portugese hoofstad het haar toe met dié penarie gehelp. Sy en Albert het volgens haar toe Milaan toe gevlieg waar hulle ’n visum vir Rusland gekry het.

Die vrou het verlede jaar ’n Italiaanse prokureur na die paleis gestuur met ’n foto van haar en haar dogter by die beroemde Christus die Verlosser-standbeeld in Rio.

Daarna het hulle Monaco toe gery waar Albert haar na bewering in ’n spoghotel net buite die prinsdom, die Riviera Marriott, laat oorbly het.

Hulle het later vanaf Nice in Frankryk na Moskou gevlieg, waar Albert haar na bewering aan pres. Vladimir Poetin voorgestel het. Dié het vir “haar ’n drukkie gegee”, word glo in die hofdokumente beweer.

Ná die twee weke lange reis is sy terug na Rio, waar sy in November 2004 ontdek het sy is swanger. Die vrou het verlede jaar ’n Italiaanse prokureur, Erich Grimaldi – hy het toevallig dieselfde van as die regeerders van Monaco – na die paleis gestuur met ’n foto van haar en haar dogter by die beroemde Christus die Verlosser-standbeeld in Rio.

“My kliënt is desperaat,” sê Erich. “Dalk sal die foto Albert help om haar te onthou.”

‘Sy wil nie die bewerings glo nie, maar om dit te verwerk is ’n nagmerrie’

Maar Albert se prokureur, Thierry Lacoste, hou vol die vrou is ’n afperser en bedrieër. Sy sê egter sy is geen fortuinsoeker nie. “Ek het nog nooit vir prins Albert geld gevra nie. Al wat ek wil hê, is ’n DNS-toets sodat my dogter eindelik kan weet wie haar pa is.”

Albert, wat eers op 53 voor die kansel gestaan het, was as vrygesel-prins berug vir sy slag met mooi vroue. Onder sy beroemde eksmeisies tel die model Claudia Schiffer en die aktrise Brooke Shields.

Met twee van sy ekse het hy finansiële skikkings vir hul buite-egtelike kinders bereik. In Mei 2005, kort voor sy kroning as prins van Monaco, het hy bevestig hy is die biologiese pa van Alexandre (nou 17), wie se ma Nicole Coste, ’n voormalige Air France-lugwaardin van Togo in Wes-Afrika, is.

’n DNS-toets in Mei 2006 het bevestig Albert is ook die pa van Jazmin Grace (nou 28). Haar ma is Tamara Rotolo, ’n Amerikaanse eiendomsagent, wat die prins tydens ’n vakansie in die suide van Frankryk ontmoet het.

Jazmin en Alexandre is sedertdien al hartlik by die Prins se Paleis verwelkom.

Albert is ook pa van ­Alexandre, wie se ma van Tog
Albert is ook pa van ­Alexandre, wie se ma van Togo afkomstig is, en Jazmine Grace, wie se ma ’n Amerikaner is. Foto: Instagram (@jazmingrimaldi)

In ’n onderhoud met Harpers Bazaar in 2015 het Jazmin, ’n sangeres, net mooi dinge oor haar halfbroer en -suster, die kinders van Charlene en Albert, te sê gehad.

“Hulle het hierdie pragtige groot blou oë en albei is baie soet,” het sy oor die tweeling vertel.

Ná ’n rits romanses was dit eindelik ’n blonde Olimpiese swemmer uit Suid-Afrika wat Albert se voete onder hom uitgeslaan het. Hy en Charlene het mekaar in 2000 by die Mare Nostrum-swemkompetisie in Monte Carlo ontmoet.

In net 10 jaar het Charlene Wittstock gegroei van
In net 10 jaar het Charlene Wittstock gegroei van ’n Olimpiese swemmer tot ’n bekende naam in Europa en omstreke. Foto: Gallo Images/Getty Images

In ’n onderhoud in 2013 het sy vertel hulle het hul hele eerste afspraak “gesels en gelag” en hul liefde vir sport het hulle by mekaar laat aanklank vind.

Vyf jaar sou verloop voor hul tweede afspraak, en die twee het toe ’n langafstandverhouding aangeknoop.

Toe dit begin ernstig raak, het Charlene uit Suid-Afrika na ’n woonstel in Monaco getrek, en met hul troue op 1 Julie 2011 het sy haar deurlugtige hoogheid die prinses van Monaco geword.

Op hul troudag in 2011. Foto: Gallo Images/Getty I
Op hul troudag in 2011. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die egpaar se verhouding is steeds sterk, vertel paleisbronne.

Charlene is ’n lojale wederhelf en vasbeslote om enige storm te trotseer wat na haar kant toe kom. Sy is reeds tuis in haar koninklike rol en maak haar kinders groot terwyl sy die gasvrou by partytjies, baldanse en gala-dinees is.

Liefdadigheid lê haar na aan die hart en ondanks die teenslae van verlede jaar en die uitdagings van vanjaar wil sy op liefdadigheidswerk bly fokus.

Charlene sê aan Huisgenoot dat sy graag haar bes wil doen om haar liefdadigheidsorganisasie, die Prinses Charlene van Monaco-stigting, in 2021 verder uit te brei.

“Die hele wêreld is nog so onseker oor wat met covid en inperking en beperkings sal gebeur,” sê sy. “Maar daar sal baie op my stigting en die uitbreiding daarvan gefokus word.”

En tussendeur staan sy bankvas by haar man. 

EKSTRA BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, HARPERSBAZAAR.COM, PARISMATCH.COM, MIRROR.CO.UK, TOWNANDCOUNTRYMAG.COM, SCMP.COM, NYPOST.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe