Sien ’n mens haar op die kassie, kan jy maklik dink dié aktrise gaan ewe ligvoets deur die lewe as een van die lawwe karakters wat sy vertolk.

Maar Chanelle de Jager is nes haar karakter in die nuwe fliek Stroomop al deur diep waters. Albei haar ouers is aan kanker oorlede toe sy in haar vroeë 20’s was.

Daarna het die pyn van ’n miskraam en ’n moeilike egskeiding in haar 30’s op haar gewag. Ja, op 38 weet sy hoe dit voel wanneer die lewe jou stroomop stu.

Maar in sak en as sit?

Nie dié aktrise, wat veral as die spitsvondige Des du Pondt in die destydse M-Met-sepie Egoli onthou word, nie.

“My werk is my seëning,” sê Chanelle vrolik. “My skippie het ingekom en ek is skielik ontsaglik besig.”

Sy is nou te sien in Stroomop, waarmee Ivan Botha sy regisseursdebuut maak. Sy verloofde, Donnalee Roberts, het saam met hom die draaiboek geskryf vir dié fliek, wat op 9 Augustus uitgereik is.

Dit handel oor vyf vroue wat mekaar in ’n terapiegroep ontmoet en vir “avontuurterapie” op die Oranjerivier gaan roei. Toe hul boot omslaan en die water hulle meesleur, word hulle uitgedaag om hulself te herontdek terwyl hulle om oorlewing spartel.

Van links is Armand Aucamp, Ilse Klink, Simoné Nortmann, Ivan Botha, Donnalee Roberts, Carla Classen en Chanelle.

Chanelle speel Adrie, ’n ma van drie wie se “bene wankel onder die druk daarvan om die perfekte ma en vrou met ’n volmaakte lyf te wees”, vertel sy waar ons op ’n winteroggend gesels in ’n restaurant in Woodstock naby die Kaapse middestad.

Haar karakter het onder meer probleme met haar gewig en Chanelle was nie skaam om lyf te wys nie. “Ek het dit gedoen vir elke vrou wat met hul selfbeeld sukkel,” vertel sy.

Hier staan ek steeds; dieselfde vrou, net ’n bietjie ouer en wyser

“Ek was nog nooit ’n klein, fyn meisie nie. Dit was soms moeilik. Met die sosiale media is die druk groot op ’n vrou om in ’n broek te pas, maar ons moet besef hoe wonderlik ons lyf is en dat ons soms padding kort, want ons moet mense met dié liggaam maak.”

Adrie mis haar jong dae. “Sy aanvaar nie sy is in ’n ander lewenseisoen nie. Dit gaan oor selfaanvaarding en hoe sy volgens haar eie standaarde moet leef.” Vroue huil wanneer hulle uit die teater kom, vertel Chanelle.

“Hulle vertel my die karakter het hul lewe verander. Die rol het geen pretensie nie. Dis rou. Dis eg en eerlik.”

Dit het ook háár lewe verander, sê sy. Nadat sy dae lank oor klippe geloop en blase aan haar hande gekry het tydens verfilming by die onherbergsame Noord-Kaapse nedersetting Onseepkans, glo sy sy is tot enigiets in staat.

“Ek’s ’n ander mens ná die rol.”

Sy wou altyd ’n aktrise word en het kleintyd gereeld voor die spieël toneelgespeel, vertel Chanelle, wat in Mbombela (toe Nelspruit) grootgeword het. Sy was net 19 toe sy die rol van Des in Egoli losslaan – en dit nadat haar dramajuffrou aan die Pretoriase Akademie vir Dramakuns, wyle Milla Louw, haar eers vir ’n oudisie by 7de Laan gestuur het.

“Ek het dit nie gekry nie en ’n week later het sy my na die Egoli-oudisie gestuur . . . en die res is geskiedenis.”

Sy het so ’n groot indruk op kykers gemaak dat mense haar vandag nog op straat as die snaakse, flambojante Des erken.

Sy is bekend vir haar rol as Des du Pondt in die sepie Egoli, wat op M-Net uitgesaai is.

Maar saam met die goeie herinnerings aan haar deurbraakrol is daar ook die hartseer dat haar ma, Marie, ’n onderwyseres, nie geleef het om Chanelle in 1999 haar TV-debuut te sien maak nie. Kolonkanker het haar lewe die vorige jaar ná ’n lang stryd geëis.

“My pa se hart was gebroke ná haar dood,” vertel Chanelle oor haar pa, Phillip, ’n chemiese ingenieur. Toe maagkanker later by hom gediagnoseer word, het hy chemoterapie geweier en hy is kort daarna oorlede.

Binne vier jaar het sy albei haar ouers verloor. “Dit het my sterker gemaak, maar soms wil ek net by my ma en pa gaan kuier,” sê dié middelkind. Haar jonger broer, Regardt (36), woon in Australië en haar ouer suster, Monique Louw (41), in Engeland.

“Maar ’n onsigbare naelstring verbind ons altyd,” sê sy. Tog raak sy soms wel eensaam. “Ek het nie ’n familiehuis om na te gaan oor Kersfees of wanneer ek moeg is nie.”

Haar eie “grootmenshuis” is in University Estate, ’n paar strate van waar ons gesels. “Dit kyk uit oor Tafelberg, en aan die ander kant is die see,” vertel sy en beduie met ’n glinstering in haar blou oë vanaf die restaurant se balkon in die see se rigting.

In ’n roerende Facebook-inskrywing verlede November het Chanelle geskryf dit is tyd om haar “post-divorce cry cottage” te verlaat en by “ ’n regte egte grootmenshuis” in te trek.

“Ek staan gister in my huisie en besef dis ’n jaar en ’n bietjie sedert my hartseer miskraam en moeilike egskeiding. Wragtag, hier staan ek steeds; dieselfde vrou, net ’n bietjie ouer en wyser. Môre begin ek my tassies weer pak, want die huil is uitgehuil,” het sy destyds geskryf.

Oor haar egskeiding en miskraam wil sy nie verder praat nie. Sy verklap wel daar is weer iemand in haar lewe. “Dit is die eerste keer dat ek saam met iemand is wat my leefstyl verstaan.”

Chanelle (links) en Caitriona Balfe, wat Claire Fraser in Outlander speel. Chanelle het die rol van Annekje Johansen in dié internasionale drama vertolk.

Hy is ook in die vermaakbedryf en is baie ondersteunend. Ook wat haar loopbaan betref, het sy rede om te glimlag. “Ek is baie bly dat ek nie meer hoef te wag dat iemand bel om my ’n rol aan te bied nie,” sê Chanelle, wat ook as entrepreneur ontpop het.

In Oktober 2015 het sy en ’n vriend, Martin Venter, saam as rolverdelingsregisseurs met ’n eie onderneming begin. Hulle het ook onlangs ’n tweede onderneming op die been gebring wat slypskole aanbied om mense te help om die “kreatiewe bedryf te oorleef”.

Ook voor die kamera bly Chanelle bedrywig.

In 2017 was sy Annekje Johansen in die Britse reeks Outlander. “Ek het ook al baie internasionale advertensies en modelwerk gedoen,” vertel sy.

Sy verskyn binnekort in die Netflix-reeks The Widow saam met Kate Beckinsale, die ster van die Underworld- fliekreeks, en sal later vanjaar te sien wees in die internasionale fliek The Red Sea Diving Resort.

Daarin speel sy saam met Chris Evans, wat bekend is vir sy rol as Captain America, en die gesoute Britse akteur Ben Kingsley.

“Dit was ’n wonderlike ervaring. Hulle is so plat op die aarde en praat met jou asof jy op hul vlak is,” sê sy oor die wêreldsterre saam met wie sy gewerk het.

Sy speel ook in ’n veeltalige plaaslike fliek, Fried Barry, wat nou geskiet word. Sy meen dié rolprent met dialoog wat voor die kameras geïmproviseer word, gaan ’n “classic” wees. Tussen al die projekte deur geniet sy dit om vir ’n naweek weg te breek Weskus toe.

“Dan klim ek in my 1970 -Volkswagen-Legend – so ’n oranje een wat ek Fanta noem – en ry Paternoster toe.” By die huis speel sy graag binneversierder. “Om my huis mooi te maak is terapie. Dit laat my afskakel.”

Sal sy weer trou; met ’n gesin begin? Sy skud haar blonde kop. “Die trou- en kinderskip het gekom en gegaan. Dis verby en ek wil nie ou rowe oopkrap nie.” In Oktober word sy 39, verklap sy.

“Ek sien uit daarna. Ek sien ook uit na 40. Hulle sê die lewe begin op 40 en hulle is reg. Ek kan nie wag vir 40 nie!” 

Foto's: Noncedo Mathibela, KYKNET, FACEBOOK/CHANELLE DE JAGER