“Niemand behoort jou kruk te wees nie; jy moet as vrou op jou eie sterk kan staan,” het die tenger aktrise opnuut op die stormagtige Oranjerivier besef.

Dae aaneen het sy onder die onverbiddelike Maart-son tussen die onherbergsame rotse van die dorre Noord-Kaap uitdagende tonele saam met haar medeaktrises verfilm. Dit was ’n strawwe toets – vir hul karakters én die aktrises.

In die ongenaakbare omgewing met sy malende waters en stowwerige rantjies het die aktrise Simoné Nortmann en die Stroomop-span vier weke lank verfilm aan dié nuwe fliek uit die pen van die glanspaar Donnalee Roberts en Ivan Botha.

Saam met Donnalee Roberts (links) en Chanelle de Jager in ’n toneel uit die fliek. Foto: Keyart Services.

Ivan was die regisseur en Donnalee vertolk die hoofrol in dié avontuurfliek wat pas begin wys het. Ná die sukses van die duo se vorige flieks, Pad na Jou Hart en Vir Altyd, voorspel fliekfoendi’s dié een gaan ook ’n lokettreffer wees.

Simoné het haar eerste hoofrol in ’n film vertolk in Huisgenoot se 2016-eeufeesfliek, Vir die Voëls. Dié keer speel sy een van vyf vroue wat probeer oorleef nadat hul bootjie op die magtige Oranjerivier omgegooi is en hul gids, gespeel deur Armand Aucamp, weggespoel het.

Die 28-jarige Simoné, ook bekend vir haar spel in die flieks Vuil Wasgoed en Wonderlus, speel Vivian, ’n jong dataontleder wat aan angssteuring ly en emosionele bagasie saam met haar ronddra.

As Irma Humpel in Huis­genoot se 2016-eeufeesfliek, Vir die Voëls. Foto: Papi Morake.

Vivian se lewe stort in duie toe haar groot liefde, Phillip (gespeel deur Arno Marais), haar vir ’n ander vrou verruil. Oorweldig deur depressie en eensaamheid sny sy haar polse in ’n onsuksesvolle selfdoodpoging. Dis toe dat sy by ’n selfhelpgroep aansluit en rivier toe vlug.

Simoné vertel dit was vir haar belangrik om “alles in te sit” sodat sy ’n stem aan dié “donker” karakter kon gee. “You have to suffer for your art,” sê sy.

Sy het haar hare bloedrooi gekleur vir die rol, maar die fisieke transformasie was die maklike deel. Dit was veral die introspeksie om haar karakter se binneste te leer ken wat haar geraak het.

Vivian se worsteling met depressie het immers ’n persoonlike snaar by Simoné geroer. “Die depressiemonster is ’n werklike ding. Ek was al daar,” erken sy.

Foto: Lubabalo Lesolle.

Sy wil nie oor haar eie ervaring uitwei nie, maar vertel sy het besef sy ervaar emosies “intenser” as baie ander mense. Dit het al veroorsaak dat sy self op ’n donker plek beland het.

Hoewel haar eie ervaring van depressie haar gehelp het om Vivian te verstaan, sê Simoné sy kan as aktrise nooit net op persoonlike ervaring staatmaak om ’n karakter geloofwaardig te speel nie.

Sy het ook opgelees oor ander vroue wat hulle in ’n soortgelyke situasie as Vivian bevind het. Dié stories het haar gehelp om in die skoene te klim van ’n vrou wie se man haar vir ’n ander vrou los.

“Dit was Vivian se situasie met Phillip wat my net weer gewys het geen persoon behoort jou kruk te wees nie,” vertel sy. “Elke mens het in sy lewe al verwerping ervaar.” En dit maak séér, “maak nie saak watter soort verwerping nie”, sê sy.

Die hele span agter die skerms. Van links is Ivan Botha (regisseur), Donnalee, Armand Aucamp, Chanelle, Ilse Klink, Carla Classen en Simoné. Foto: Keyart Services.

Met die verfilming van Stroomop het sy opnuut besef hoe belangrik sosiale omgang is as jy uitdagings moet oorkom. “As jy jou met goeie mense omring, maak dit jou sterk.”

Maar om sterk te wees beteken ook om weerloos te wees, glo sy. “If you can be vulnerable, you are strong, en dié vier vroue het my dit geleer,” prys sy haar medesterre in die fliek, Donnalee asook die aktrises Chanelle de Jager, Ilse Klink en Carla Classen.

Die verfilming van dié fliek was vir haar ’n ervaring wat haar lewe verander het. Die groep was meestal sonder selfoonsein, maar teen die derde week het sy dit ál minder begin mis.

“Daar is nie baie geriewe nie; jy slaap in ’n tent. Jy kan nie grimering dra nie, want dit smelt, so jy kan nie mooi lyk nie. Maar wanneer ek nou terugkyk, was dit ’n sielsreinigende ervaring wat ek nooit sal vergeet nie. Jy voel gestroop. Maar dit was op ’n manier so bevrydend om heeltyd tussen mense te wees. Dit was community op ’n ander vlak.”

Die samesyn van sterk vroue wat weet hulle kan maar voor mekaar weerloos wees.

Die vyf vroue wat haar rotse in die regte lewe is

Ouma: Jossie

“My oorlede ouma Jossie Nel het ’n groot rol in my lewe gespeel. Sy was my ouma aan moederskant, ’n verpleegsuster en onbaatsugtige vrou wat so baie van haarself aan ander gegee het. Sy was lief vir die Here en het alles vir haar kinders gedoen.

“My oupa is vroeg dood en sy moes drie dogters so te sê alleen grootmaak. Sy was ’n ongelooflike sterk vrou en het natuurlik my ma, nog ’n sterk vrou, grootgemaak,” vertel Simoné.

Ouma Jossie is in 2004 op 77 aan kanker oorlede. “Ek was toe in gr. 8. Met ons laaste gesprek het ek vir haar gesê: ‘Ouma mag nie nou al doodgaan nie. Ouma moet nog sien hoe ek eendag in 7de Laan speel.’ En toe gebeur dit – amper 10 jaar later kry ek ’n rol in 7de Laan. Ek sal dit nooit vergeet nie.”

Haar sagmoedigheid en die feit dat sy altyd “die goud in almal uitgeroep het”, is iets wat Simoné vandag nog in haar hart ronddra.

Ma: Tinkie

Simoné se ma, Tinkie Nortmann. Foto: Verskaf.

Simoné sê haar ma, Tinkie Nortmann (58), is haar grootste rots. “Sy was ’n voorloper, ’n pionier,” vertel sy van haar ma, wat 30 jaar lank in die Suid-Afrikaanse Lugmag was.

“As kolonel was sy sterk en dapper, maar ook sag. Met haar Franse vlegsel en lipstiffie het sy nooit haar vroulikheid prysgegee nie, al het sy ook weermagstewels gedra.”

Sy sê haar ma wou haar eers laat aanneem toe sy uitvind sy verwag, maar dat “die Here se hand in alles was.

“Sy en my pa het nog net uitgegaan toe sy met my swanger raak. Dit was ongehoord in die destydse Lugmag. As jy nie getroud was nie en jy raak swanger, het hulle jou uitgeskop.”

Tinkie het besluit om haar dogter te hou, al sou dit beteken sy verloor haar werk. “Maar toe gebeur die wonderlike – my ma word die eerste ongehude moeder in die SAL wat haar baba én haar werk behou!”

Simoné glo sy sou nie gewees het wie sy vandag is as dit nie vir haar ma se krag was nie.

Die aktrise: Donnalee Roberts

Donnalee Roberts. Foto: Facebook.

Simoné en Donnalee het mekaar in 2013 op die stel van 7de Laan ontmoet. By die première van Vir die Voëls in 2016 het Simoné ook vertel dit was Donnalee wat haar laat besef het sy wil eendag ook die hoofrol in ’n fliek vertolk en dat die droom waar kán word.

“Net om haar lewe dop te hou het ’n groot uitwerking op my. Sy het so baie integriteit en sal nooit ’n slegte woord oor enigiemand sê nie. Sy het ’n manier om die mense om haar op te lig en ek het baie respek daarvoor.”

Die sendeling: Heidi Baker

Heidi Baker. Foto: Verskaf.

Nadat Simoné in 2015 haar werk by 7de Laan bedank het, is sy met drie maande se sabbatsverlof na Mosambiek, waar sy die Amerikaanse sendeling Heidi Baker ontmoet het.

“Ek was honger vir tyd saam met die Vader. Ek het baie hard gewerk en dit het my identiteit in Christus begin beïnvloed” vertel sy van dié tyd.

Simoné het destyds geglo die enigste manier om God se boodskap oor te dra is deur ’n sendeling te word. “Maar Heidi het my geleer om dié valse geloofsoortuiging af te skud. Sy het my geleer dit maak nie saak waar ek is en wat ek doen nie, my lewe moet die boodskap word.”

Haar vriendin: Mariette Loubser

Mariette Loubser. Foto: Verskaf.

Haar vriendin die komediant Mariette Loubser (34) is die persoon in haar lewe wat Simoné “tweeuur in die oggend kan bel en sy sal daar wees.

“Sy het ’n ongelooflike sin vir humor en is verskriklik lief vir mense en passievol oor die Here,” vertel sy oor dié steunpilaarvriendin.

“Omdat sy ook in die bedryf is, verstaan sy my vrese. Ons bid saam en celebrate saam wanneer ek ’n rol kry.”