Hoewel haar skoondogters, Kate (36) en Meghan (37), haar nooit ontmoet het nie, lyk dit asof die hertogin van Cambridge en die hertogin van Sussex hulle goed van hul taak kwyt. Hulle het al soos volg aan hul afgestorwe skoonma hulde gebring:

Kate en William se troue

Kate en William op hul troudag in die Westminster-abdy.

Prins George in 'n soortgelyke rooi pakkie wat sy pa in 1984 gedra het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tydens hul troue in April 2011 in die Westminster-abdy, waar Diana se begrafnisdiens gehou is, het Kate op dieselfde lied, I Was Glad, deur sir Charles Hubert Hastings Parry, as Diana na die kansel gestap  en is die gesang Guide Me, O Thou Great Redeemer gesing – die einste liedjie wat Diana se begrafnis afgesluit het.

Kate se keuse in fotograaf

Volgens She Knows het Kate doelbewus die fotograaf Mario Testino vir haar en William se verlowingsfoto’s en vir prinses Charlotte se doop gekies, dieselfde fotograaf wat van die glansrykste foto’s van lady Diana, soos dié in Vanity Fair, geneem het. Mario was ook een van die uitgesoekte gaste op hul troudag.

Mario Testino. Foto: Samir Hussein/WireImage

Prins George en prinses Charlotte se doopplekke

Die hertog en hertogin van Cambridge en twee van hul kinders, prins George en prinses Charlotte, tydens Charlotte se doop. 

Kate en William het prins George in die Chapel Royal van die St. James-paleis laat doop waar Diana se liggaam voor haar begrafnis gehou is.

Charlotte is in die St. Mary Magdalene-kerk gedoop, dieselfde kerk waar haar ouma Diana as baba gedoop is.

Soos pa, soos seun

Prins George lyk nes sy pa in 1984 toe William sy nuwe boetie, Harry, vir die eerste keer in die hospitaal gaan groet.

Prins William hou styf aan pa Charles se hand vas toe hy sy 'nuwe' boetie, prins Harry, op 16 September 1984 ontmoet het. Foto: John Shelley Collection/Avalon/Getty Images

Tydens prinses Charlotte se doop het Kate haar ouboet, George, in ’n soortgelyke wit-en-rooi-uitrusting aangetrek wat sy pa, William, as kind gedra het.

Prins George in 'n soortgelyke rooi pakkie was wat
Prins George in 'n soortgelyke rooi pakkie was wat sy pa in 1984 gedra het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Skool toe!

Kate en William is nes Diana baie betrokke by hul kinders se lewe.

Kate het soos Diana daarop aangedring dat haar kinders buite die paleis onderrig moet ontvang. William en Kate het daarom vir klein George as kleuter reeds na die Westacre Montessori School in Norfolk gestuur.

Meghan se filantropiese werk

Kort nadat hulle verloof geraak het, het ABC-News Harry en Meghan se eerste uitstappie op Wêreld-Vigsdag vasgevang, een van die kwessies waarvoor Diana baie filantropiese werk gedoen het en een van die redes waarom sy as “die mense se prinses” gedoop is.

Meghan se 'ietsie blou'

Meghan se elegante, wit trourok het eintlik ietsie weggesteek.

Meghan se asemrowende trourok toe sy op 19 Mei 2018 met prins Harry in die huwelik getree het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Meghan het, nes Kate, ’n klein, blou strikkie in haar ellelange sluier laat vaswerk wat eens aan Diana behoort het.

Die wit rose

Om 'n gevoel van Diana se teenwoordigheid op hul troue te hê, het Harry en Meghan die kerk met tientalle wit rose laat versier. 

Die bloemis vir Meghan en Harry se troue, Philippa Craddock, het die kerk met wit rose versier omdat dit van Diana se gunstelingblomme was. Die blomme groei ook in die Wit Tuin van die Kensingtonpaleis wat in Diana se eer aangeplant is en dit is ook waar die paartjie hul verlowing aangekondig het.

Meghan se troubeloftes

Meghan het, nes haar skoonma, ’n feministiese streep. 

Soos van ’n vegter vir vroueregte verwag kan word, het Meghan nes haar skoonma die gedeelte in haar troubeloftes weggelaat waar die vrou beloof om “onderdanig” aan haar man te wees.

Die voorlesing

Prinses Diana se oudste suster, lady Jane Fellowes, het namens Diana se gesin ’n voorlesing vir Meghan en Harry by hul troue gedoen. FOTO: Getty Images.

Wyle prinses Diana se oudste suster, lady Jane Fellowes, het ’n paar gevleuelde woorde by Harry en Meghan se troue gesê en het ’n gedeelte uit die Bybel voorgelees.

Die gaste

Sir Elton John was ’n gas by Harry en Meghan se troue en het ook by die onthaal opgetree.

Hy was nie net ’n gas by Harry en Meghan se troue in Mei vanjaar nie; hy het ook by die onthaal opgetree. Hy het die bekende lied Candle in the Wind op Diana se begrafnis gesing.


Diana se liefdadigheidsorganisasies

Pleks daarvan om trougeskenke te vra, het Harry en Meghan trougaste gevra om eerder skenkings aan hul keuse van liefdadigheidsorganisasies te doen wat kwessies aanspreek wat na aan Diana se hart gelê het.


Bronne: hellomagazine.com, goodhousekeeping.com, time.com, abcnews.co.com, womansworld.com