Dean het op Sondag 2 Februarie soos oudergewoonte probeer inteken op sy Instagram-rekening. Hy het agterdogtig begin raak toe hy nie toegang tot sy profiel kon kry nie. 

Die akteur het kort daarna ’n e-pos aan Instagram gestuur om die voorval aan te meld. In dié e-pos moes Dean sy kontakbesonderhede gee om te bevestig dat dit werklik hy is. Wat hy nie geweet het nie, is dat sy Gmail-rekening óók gekaap is. 

“Die e-pos adres het eg gelyk, maar ek het later besef ek speel in die hand van die kuberkraker toe hy kort daarna vir my ’n boodskap op WhatsApp stuur wat lui: ‘Jy sal nie kan inteken op jou Instagram-profiel nie. Ek het dit gesteel, jy moet $500 betaal om dit terug te kry,’ ” vertel Dean.

Hy het later besluit om nie meer te reageer op die kuberkraker se aanhoudende WhatsApp-boodskappe nie. 

“Ek was baie kalm oor die hele saak en het net besluit ek gaan nie die geld betaal nie,” sê die akteur.

“Ek het later probeer om op my Gmail-rekening in te gaan, maar alles was in ’n ander taal. Ek het dit in Google Translate gesit en toe besef alles is Turks.”

“My meisie het ook later vir my skermgrepe gestuur van hoe my Instagram-profiel nou lyk. Alles was verander en in ’n ander taal. Die persoon wat my profiel gekaap het, het borsspelde en serpe op my profiel verkoop.” 

dean smith,akteur,kuberkraker
Die persoon wat die akteur se profiel gekaap het verkoop borsspelde en serpe op sy profiel. Foto: Verskaf

“Al my besprekings en Suidooster-manuskripte was op my e-pos. Ek het my agent en die Suidooster-span in kennis gestel oor die voorval en hulle is tans besig om dit te ondersoek,” sê Dean. 

Hy het intussen ook sy mede-Suidooster-akteurs gevra om die boodskap te versprei dat sy Instagram-profiel met 80 000 volgelinge gekaap is. Hy het die voorval nie aan die polisie rapporteer nie.

“Ek is in die proses om my Instagram-profiel terug te kry, maar gee glad nie om, om ’n nuwe een te skep nie. Ek sien dit as ’n lekker uitdaging,” laat hy hoor. “Ek het gelukkig nog al my foto’s en video’s op my selfoon.”

Hy is egter nie al plaaslike bekende wat onlangs afgepers is deur ’n kuberkraker nie. 

Die voormalige 7de Laan-aktrise Nadia Herbst se sosialemediarekenings is ’n paar weke gelede deur ’n kuberkraker gekaap. Die kuberkraker wou R10 000 hê voor hy enige van haar inligting terugbesorg.

“Ek het besef my profiel is ge-hack toe ek sien dat ek vreemde mense op Instagram volg. Ek het toe agtergekom my profiel is in vreemde plekke aangemeld en al my foto’s is weg. Ek kon later nie my Instagram-of Facebook-profiel inkom nie,” het Nadia voorheen aan Huisgenoot vertel.

Sy het intussen vir haar ’n nuwe Facebook en Instagram-profiel geskep. 

Volgens Nadia is dit belangrik om nie belangrike inligting soos wagwoorde en privaat besonderhede op jou selfoon te stoor of in ’n boodskap te deel nie. 

“Kies ook verskillende wagwoorde vir jou sosialemediarekenings,” sê sy.