KAPENAAR

Dié boorling van Heidelberg in die Wes-Kaap het in 2009 sy TV-debuut gemaak as Calvin Xavier in die SABC3-sepie Isidingo. Agt jaar later het hy van Johannesburg na Kaapstad verhuis toe hy ’n rol in kykNET se Suidooster losgeslaan het.

Vandag is hy natuurlik goed ingeburger as die motorwerktuigkundige Tyron Daniels. “Dit was nog altyd my droom om in die Kaap te werk, want alles wat ek nog altyd gedoen het, was in Johannesburg. Toe ek hoor Suidooster wil my permanent hê, was ek in die wolke,” sê Maurice.

maurice page
Tyron se meisie, Lee-Ann ­Jacobs (Portia Joel), het hom in die moeilike tyd bygestaan. Foto: Kyknet

Ty, met sy pittige sêgoed, verskil hemelsbreed van die rolle wat hy al vertolk het, vertel die 36-jarige akteur.

“Almal ken ’n mechanic, en daai ouens kry nooit regtig erkenning vir dit wat hulle doen in ons gemeenskappe nie. Ek het die geleentheid om so ’n ou te vat en op ’n groter vlak te sit en te sê dís hoe hulle werklik is. Hulle is ook maar net mens.”

suidooster
Wade (Dean Smith) en Tyron Daniels sit aan tafel by Mrs J (Theresa Sedras). Foto: Kyknet

INSPIRASIE

Ty se jongste storielyn, waar hy ’n breingewas het, is vir Maurice baie werklik. “Ek het eerstehandse ervaring daarvan gehad met my familie en weet in watter emosionele toestand hulle toe was. Twee jaar gelede het my laaste antie afgesterf aan kanker, so dit was glad nie moeilik om in daai emosie in te klim nie,” vertel hy.

Hy is dankbaar dat hy nog altyd al die emosies ná die skiet van sulke tonele op die stel kon agterlaat.

“Dié een is ’n geval waar ek vir myself gesê het, juis omdat dit so naby aan my is, gaan ek nie so close raak aan die storie nie, maar ek wil dit steeds so goed moontlik oordra.”

View this post on Instagram

Nee, Tyron!

A post shared by S U I D O O S T E R (@suidoostertv) on

AMPER BLIND

Voor die breingewas by Ty in die storielyn gediagnoseer is, moes hy ook ’n bril kry nadat hy sigprobleme ontwikkel het. Daar was ook die moontlikheid in die storie dat hy blind kon word. Baie min mense weet egter dat Maurice self as kind amper blind was. Hy was ses jaar lank in en uit die hospitaal omdat hy probleme met sy sig gehad het.

“Die dokter het gesê ek sal nie my sig kan behou tot ek 15 jaar oud is nie. Ek het dit ontgroei en is nou 36 jaar oud en het nog nooit in my lewe ’n bril gedra nie.”

Hy reken dis ook ’n goeie ding dat die sepie wys hoe hardkoppig mense kan wees met die toestand.

Kykers kan nóg skokke verwag wanneer Ty besef dr. Freeman (Geon Nel) is ’n bedrieër en wanneer die kans op sukses van ’n operasie klein raak omdat hy en sy meisie, Lee-Ann Jacobs (Portia Joel), so lank gewag het om mediese hulp te kry.

EERSTE TV-ROL

Sy deurbraakrol as Calvin in Isidingo 11 jaar gelede het van hom ’n bekende naam gemaak. Hy moes die rol aanvanklik net drie maande lank vertolk, maar ná die eerste maand het hy almal so beïndruk met sy spel dat hulle hom ’n jaarkontrak aangebied het.

Sy moedertaal is Afrikaans, en dit was vir hom ’n uitdaging toe hy destyds by die Engelse sepie aangesluit het.

“My Engels was nie baie goed nie, maar mense soos Kevin Smith (wat sy TV-pa, Frank Xavier, gespeel het) het my gehelp. Hy was nog altyd ’n mentor en het vir my wenke agter die skerms gegee.”

Maurice het in 2017 die sepie gegroet om Kaap toe te verhuis vir sy rol in Suidooster.

PLATTELANDSE SEUN

theo,mo en christo
Maurice en die voormalige 7de Laan-akteurs Christo Davids (middel) en Theodore Jantjies het saam op Heidelberg in die Wes-Kaap grootgeword. Foto: Kyknet

Hy het op Heidelberg by sy oumagrootjie aan moederskant, Wilhelmina Hartnick, grootgeword. Sy is ’n paar jaar gelede oorlede.

“Ek is dankbaar ek het op die platteland grootgeword. Ek dink dis hoekom ek die mens is wat ek vandag is: Sy het my altyd herinner om nederig te wees, maak nie saak wat jy bereik nie,” vertel Maurice, een van vier seuns.

Hy is die enigste akteur in die familie. Sy grootwordmaats Christo Davids en Theodore Jantjies is ook in die vermaakbedryf.

Christo en Theodore was in 7de Laan te sien as onderskeidelik Errol en Xander. “Ek en Christo het in Hoog-straat gebly en Theodore in die agterste pad. Ons het van kleins af saam in die pad gespeel.”

Die drie het ook ’n paar jaar gelede hul eie verhoogproduksie, Platform 9, by die Baxter-teater in Kaapstad opgevoer.

“Ons het groot sukses daarmee gehad en beplan om nou ’n return te maak vir Platform 9 aan die einde van die jaar.”

BEDRYWIG VERBY

Hy het tydens die inperking ook as ambassadeur betrokke geraak by ’n internasionale projek, Fight to Fame, wat van regte gevegsportmanne en -vroue Hollywood-flieksterre wil maak.

Hy het ook die vyfdelige webminireeks vervaardig. Maurice is self lief vir sweet in die gim, en nie eens die inperking kon hom verhoed om tuis fiks te bly nie.

“As jy regtig iets wil doen en jy wil iets bereik, dan soek jy nie verskonings nie. “Jy maak dit werk.” 

BLITSVRAE

Hoeveel tatoes het jy?

My arms is van bo my elmboog getatoe. Die een kant verteenwoordig my pa wat ek verloor het toe ek sewe jaar oud was, wat my blessings is en dít waarin ek glo as ’n Christen. Die ander arm verteenwoordig my liefde vir toneelspel.

Wat geniet jy van die inperking?

Dit het vir my ’n positiewe perspektief gegee en ek het baie geleer. Voorheen het jy nooit tyd gehad vir jou familie nie. Met die lockdown sien ek my ma, Maureen Jaftha Paige (57), elke dag. Ons bring baie tyd saam deur en het ’n hegter verhouding.

Jou droomrol?

’n Komedierol, maar dit moet baie naby of saam met Dwayne Johnson wees. Ek hou hom dop, en die manier hoe hy sy sake bestuur – dís die rigting waarin ek wil beweeg.

Dié jaar word ek ge-bless om deel te wees van ’n Hollywood-produksie en beweeg ál nader aan my droom.

Google jy ooit jouself?

Nee, nooit nie. Ek kyk nie eens na myself wanneer ek op televisie is nie!

Waarna sien jy uit ná die inperking?

Om vir my ouma op Heidelberg te gaan kuier.