Die Arendsvlei-aktrise Crystal-Donna Roberts was een van die gaste en nadat sy haar kankerreis gedeel het, het Jawaahier net daar en dan besluit dat sy ook haar deel wil doen. 

"Ek het daai oomblik besluit: Ek gaan my hare uitgroei. Ek het my oupa verloor aan kanker, en as 'n maatskaplike werker het ek gewerk met 'n tienermeisie wat haar lewe verloor het weens kanker.

"As 'n tienermeisie is jou hare belangrik en 'n groot deel van jou. Ek het toe besluit op my klein manier is dit iets wat ek kan doen," vertel Jawaahier, wat bekend is as Kaashifa in die kykNET-sepie Suidooster. 

Sy het toe besluit om haar hare te laat uitgroei en dan te knip en aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) te skenk. Hulle laat maak pruike vir mense wat hul hare weens kankerbehandeling verloor.

Jawaahier met haar lang lokke. Foto: Facebook/ Jaw
Jawaahier met haar lang lokke. Foto: Facebook/ Jawaahier Petersen

Jawaahier het haar hare twee jaar lank laat uitgroei. Volgens die aktrise van Kaapstad was dit iets wat sy moes doen voordat sy te geheg aan haar lang hare geraak het.

"Ek wou dit sny, maar toe duik die storielyn met Kaashifa en Imraan op, en dit was die eerste keer wat kykers Kaashifa se hare gesien het."

Haar karakter, Kaashifa, het onlangs met die aptekersassistent Imraan (Marlo Minnaar) afgehaak. Jawaahier en die grimeerspan het besluit om haar hare lank te hou vir dié troue-storielyn. 

"Na 'n troue is dit 'n ritueel vir Moslem-vroue om hulle hare te sny en te was," vertel sy. 

"Ek het toe later aan besef ek raak te geheg aan my hare, veral nadat ek die besluit geneem het dat my hare nie myne is nie. 

"Voordat ek te geheg geraak het, het ek besluit om dit te sny."

Jawaahier in die proses om haar hare af te sny. Fo
Jawaahier in die proses om haar hare af te sny. Foto: Facebook/ Jawaahier Petersen
Jawaahier in die proses om haar hare af te sny. Fo
Jawaahier in die proses om haar hare af te sny. Foto: Facebook/ Jawaahier Petersen
Jawaahier in die proses om haar hare af te sny. Fo
Jawaahier in die proses om haar hare af te sny. Foto: Facebook/ Jawaahier Petersen

 Op 29 Mei het Jawaahier besluit om by Serenity Blu Hairstyling in Kaapstad te gaan aanklop om haar hare te snipper. 

"Die haarkapster het dit al voorheen gedoen. So sy ken die proses en wat gedoen moet word. Sy was baie ondersteunend.

"Ons het die hare gemeet, want Kansa vereis 'n minimum van 25 cm om 'n pruik te maak."

Op die ou einde het die haarkapster 36 cm afgesny en Jawaahier het op dieselfde dag die hare by die Kansa-kantoor in Athlone gaan afgee.

Foto: Facebook/ Jawaahier Petersen
Jawaahier lyk stralend met haar nuwe kapsel. Foto: Facebook/ Jawaahier Petersen
Jawaahier met haar hare in 'n sakkie. Volgens die
Jawaahier met haar hare in 'n sakkie. Volgens die ster hou die sakkie die hare vars en lewendig. Foto: Facebook/ Jawaahier Petersen

Sy het ook foto's van haar nuwe korter kapsel in die sosiale media gedeel en haar besluit gedeel om haar hare aan Kansa te skenk.

Die plasings op Facebook het 'n groot reaksie ontlok. Dit het meer as 5 000 likes gekry en is 600 keer gedeel. Baie van Jawaahier se volgelinge het ook hul en hul geliefdes se reis met kanker op die platform gedeel.

"Jy is so 'n inspirasie. Ek is gediagnoseer met fase 4 kolonkanker in Julie 2020, wat na my lewer versprei het, en op 28 Januarie is ek in Kaapstad geopereer om 60% van my lewer en galblaas te verwyder.

"Op 12 April 2021 is my tweede operasie gedoen om die gewas in my dikderm te verwyder. My hare het net weer begin groei, maar ek sal dieselfde doen, en my hare skenk as dit lank genoeg is," het 'n aanhanger in die kommentaar-afdeling geskryf. 

"Dankie namens ons almal wat ons hare verloor het deur chemoterapie," het nog 'n gebruiker onder haar plasing geskryf. 

Jawaahier by die CANSA-kantoor in Athlone. Foto: F
Jawaahier by die CANSA-kantoor in Athlone. Foto: Facebook/ Jawaahier Petersen

Die reaksies en boodskappe van aanhangers beteken vir Jawaahier die wêreld. " 'n Paar jaar gelede het ek self 'n kankerskok gehad," vertel die ma van twee. 

"Ek moes vir X-strale en 'n biopsie gaan. Dank die Here dit was nie kanker nie."

Volgens Jawaahier het daai vrees en bangheid wat sy gevoel het, haar toegelaat om empatie met ander te hê. 

"Dit het my in staat gestel om empatie met mense te hê oor hulle vrees. Weereens, dit is glad nie dieselfde pyn en vrees van diegene wat al kanker gehad het en wat teen die stryd veg nie," sê sy. 

Jawaahier is bly dat sy 'n lig vir ander kan wees in hierdie donker tyd.

"Soms wonder ek of daar nog menslikheid in die wêreld is met die pandemie, oorloë, moorde en verkragtings.

"My hoop is dat dit ander inspireer en dat dit ook dié wat teen die groot K baklei te laat weet dat mense aan hulle dink en dat ons empatie met hulle het."

  • As jy jou deel wil doen, besoek Kansa vir meer inligting.