Romaine Rhoda en Portia Joel sou hierdie komende n
Romaine Rhoda en Portia Joel sou hierdie komende naweek trou. Foto: Clayton Peters

Maar weens die coronakrisis is haar troue met Romaine Rhoda (36) vir eers uitgestel.

Portia (40), wat al op die kassie te sien was in die reekse Generations en Erfsondes, sou op Saterdag 20 Maart in Kampsbaai, Kaapstad, met Romaine, ’n bestuurdersassistent, afhaak.

“Die troue gaan steeds in Kampsbaai wees. Ons het net die datum geskuif,” sê Portia aan Huisgenoot.

Romaine en haar verloofde, Portia Joel. Foto: Clayton Peters

“As gevolg van covid-19 en die veiligheid van ons gaste en die gaste by die venue, het ons besluit om die troudatum na Desember te skuif.”

Hulle soek nog ’n datum wat hulle die beste sal pas, sê Portia, dogter van die veteraanakteur Cedwyn Joel, wat ook in Suidooster as die apteker en gesinsman AB Samsodien te sien is.

Portia en Romaine het aanvanklik 120 gaste genooi om te sien hoe hulle trou aan mekaar beloof. “Die venue kan twee keer soveel gaste vat, so ons hou by daai getal.”

“Ons troukoördineerder, Clayton Peters, het al ons gaste einde Januarie ingelig dat ons troudatum skuif,” sê sy.

Dit was ’n baie maklike besluit om die troue uit te stel, vertel Portia. “Ons was in kontak met die venue, wat ons laat weet het as ons steeds die troue van ons drome wil hê, moet ons eerder die troudatum uitstel. Hulle moet ook hou by die regulasies, en ons en hulle was nie juis seker watter inperkingsvlak of regulasies sou geld nie.”

Portia en Romaine woon in Table View in Kaapstad. Die paartjie het in 2015 op Kersdag verloof geraak. “So ons is nou al vir ses jaar verloof,” sê Portia.

“Ons hoop en bid dat covid-19 teen Desember uit die prentjie sal wees of tot ’n mindere mate ons lewe sal beïnvloed.” Dan sal die paartjie eindelik kan afhaak.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe