Klein Phoenix was onlangs vir ’n week in die Melomed Tokai-hospitaal in Kaapstad se intensiewesorgeenheid nadat sy by die huis met kookwater gebrand het. Die kleinding vertolk sedert sy 'n maand oud was die rol van Stella, Bianca Fourie (Simone Biscombe) en Stefan Gerber (Gideon Lombard) se dogtertjie, in dié Kaapse sepie. 

Phoenix in haar TV-ouma, Mymoena (Jill Levenberg), se arms, by haar TV-ma, Bianca (Simone Biscombe), en -oupa, AB (Cedwyn Joel). Foto: Verskaf.

Die tweejarige se pa, die akteur Christian Bennett (36), het onlangs dié nuus met sy Instagram-volgelinge gedeel – met ’n bykomende video waarin sy dogtertjie sing en hande klap. Christian vertolk die rol van Emile in Arendsvlei, die kykNET & Kie-telenovela, en was voorheen ook ’n prominente gasspeler in Suidooster as die skurk Harry Galant. 

“Ek dink niemand het ’n beter geskenk as ek gekry nie. My dogtertjie het onlangs met kookwater gebrand en was vir ’n week in die intensiewesorgeenheid. Daar was selfs sprake van ’n veloorplanting, maar ek het my geloof behou en baie gebid.

“Ek het die sterkste, gekste, snaaksste en oulikste dogtertjie waarvoor enige pa kon vra (ek stort ’n traan terwyl ek dit skryf), want hierdie video is in die hospitaal se parkeerarea geneem net voor ons huis toe gery het drie ure nadat sy geopereer is.

“Dit is my Valentynsgeskenk van God . . . dit gaan ooor liefde en blydskap en dit is presies wat ek is en het. Ns. Baie dankie aan die beste personeel van die beste hospitaal ooit. Groot en spesiale dank aan die sekuriteitswag wat my kalm probeer hou het toe ek dit amper met hom verloor het, maar hy het nie opgegee nie. Ek kan ook nie die liefde en respek beskryf wat ek vir Liezel [sy verloofde] het nie. Die Phoenix het weer herrys en sing een van haar gunstelingliedjies,” skryf Christian, wie se dogter genoem is na 'n mitiese voël uit die Griekse tradisie wat keer op keer wedergebore is.

Liezel, Phoenix se ma, en Christian het verlede jaar ná drie jaar saam verloof geraak. In die video kan 'n mens duidelik hoor hoe Liezel haar vra om agter by haar te kom sit.  

Die tweejarige draai egter die musiekspeler harder, klap hande en sing uit volle bors die 1987-treffer “I Love you Daddy” deur Ricardo & Friends vir haar pa.

“Ek was in trane en het hulpeloos gevoel. Ek sal nooit haar gil vergeet toe sy gebrand het nie," het Christian oor die voorval aan Huisgenoot gesê.

View this post on Instagram

No Caption needed...

A post shared by Christian Bennnett (@christianbennett_) on

Die akteur, wat gereeld oulike video’s en foto’s van sy dogtertjie deel, sê sy is ’n vegter en beslis haar pa se dogter.

“Nadat sy ontslaan is, was sy weer haar ou self en het in die huis rondgehardloop en dans,” sê die akteur en voeg by Phoenix se kontrak met Suidooster het verlede jaar tot 'n einde gekom, al is sy nog op die kleinkassie te sien.

“Sy is presies wat haar naam beteken: weergebore,” voeg hy by.