Ons het haar die afgelope paar weke leer ken as ’n berekende deelnemer wat M-Net se werklikheidsreeks Survivor SA met mening en deursettingsvermoë gespeel het.

Maar wat baie mense nie geweet het nie is dat daar agter die blonde Nicole Capper – Mev. Suid-Afrika 2018 – ’n vrou skuil wat al met die donker kant van die lewe te doen gekry het.

Sy is as kind seksueel mishandel.

“Ek was nege jaar oud en die seun was baie groter as ek. Baie. Die vrees dat ek kon verdrink het my lam gemaak. Ek wou daardie dag doodgaan. Ek was te jonk om te verstaan en ek was nie seker wat om te doen nie. Toe doen ek niks. Ek het weggekruip en voorgegee dit het nooit gebeur nie.

“Deur dit te doen het ek onopsetlik die siklus van mishandeling voortgesit. Ek het gedink ek moet eerder net sit. Stilbly. Dis tog nie so erg nie. Kom daaroor. Moenie ’n aktivis wees nie.”

Nicole (34) was Donderdagaand een van die top-drie finaliste in Survivor South Africa: Island of Secrets. Sy, Rob Bentele (29) en Durao Mariano (28) het dit uitgespook om die miljoenrand te wen. 

Rob is uiteindelik as die wenner aangewys. 

Nicole het vir die eerste keer haar storie in Junie tydens ’n skoolbesoek in Hamanskraal in Gauteng gedeel.

“Dit was vir my baie moeilik om oor die mishandeling te praat. Ek het gevoel omdat ander vroue op ’n daaglikse basis verkrag en vermoor word was my voorval nie ‘so erg’ nie en ek moet net stilbly. Maar diep binne my het ek ook geweet dit is my verskoning om nie daaroor te praat nie. Ek het sedertdien besef dat my stilte ook ’n manier was waarop ek die geweld oorsien. Deur niks te sê nie, sê ons so baie. Ons sê dit is ‘oukei’. En dit is nie oukei nie. 

“Ek weet nie hoekom nie, maar ek het definitief skaam gevoel om daaroor te praat. Asof ek gebroke en vuil was. En hoe meer ek die gevoel van skaamte en skuld aangespreek het, hoe kwater het ek geword. En met reg.”

Sy glo vroue moet geen skaamte of vrees hê wanneer hulle oor mishandeling praat nie.

“Dit moet deel van gesprekke wees. Ek is nou heeltemal oop daaroor, selfs op sosiale media, want ek wil ander vroue aanmoedig om hulle vrees te oorkom en op te staan.”

Nicole sê toe sy haar storie deel het dit haar bemagtig, maar nie op die manier wat sy gedink het dit sal nie.

“Ek het gedink dit gaan my laat beter voel en help genees. Ek het gedink dit gaan my heel maak. Maar wat ek nie besef het nie is dat niks dit kan heel maak nie. En niks moet nie.

“Ek voel nog meer woedend as voorheen, want vroue staan op en deel hulle skokkende stories. Ek is so kwaad. Ek is verontwaardig. En ek hoop dat genoeg ander sal besluit om met mening oorlog te maak teen hierdie geweld, want dit is die enigste manier wat daar ooit enige verandering sal kom.”

Sy sê die #GenoegIsGenoeg-beweging van die afgelope tyd eggo dit wat al vir ’n ruk in haar hart en gedagtes is.

“Dit het my vry gemaak om daaroor te praat, maar toe ek na die tyd met van die meisies praat het ek geweet dit het hulle ook vry gemaak. Wanneer ons ons stories vertel gaan dit nooit oor onsself nie. Dit gee ander die toestemming om hulle eie stories te vertel. En dit is daardie groepsrefrein wat eenheid bring. Dit is wat verandering meebring.”

View this post on Instagram

#MENARETRASH Men are also the solution. In every single devastating moment I've faced, I have been lifted by strong men. Some of my darkest moments were at the hands of animals who dare call themselves men. One such moment was at age 9. Stripped of my power by a sexual predator. Assaulted. Violated. Shamed. And yet along my journey there have been others that possessed that same masculine power and used it for good. That power has lifted my vision. Encouraged my transformation. Gifted me with opportunity. There are beautiful, and truly Strong MEN out there that are beacons of hope and light for the trash that does exist. My desperate hope is that we can all work together to affect change and eradicate gender based violence. Male privilege exists. And it is those men who embrace it and harness it to empower women who need to be celebrated. I have been ashamed at the silence of most men this week. And yet I posses an indescribable gratitude for the minority. You are the future of SA and our sons are so damn lucky have role models like you. Together, our voices might just reshape a nation. Just please don't defend yourselves men. It's inappropriate. Use every single word in your arsenal to command your brothers. Apologize for being shit. For being quiet. For being TRASH. Then Rally the armies of your brotherhood to support women. Own your shit men. And stand by us. We need you.

A post shared by N I C O L E ? (@_nicolecapper) on

Tog beskryf Nicole nie haarself nie as ’n feminis nie, maar as iemand wat vir gelyke regte vir mans en vroue baklei.

“Ek ontken nie dat daar voorregte vir mans bestaan nie, maar ek dring daarop aan dat ons kies of ons onsself daardeur wil laat voorskryf. Ek het in hierdie onstuimige tyd gesien hoe sommige Suid-Afrikaanse mans opstaan en names hul geslag aanspreeklikheid aanvaar. 

“Daar is baie vroue wat doellose selfies op sosiale media post en hierdie drama vermy om eerder hul eie handelsmerke te beskerm, en daar is ander wat ten alle koste tot bewusmaking verbind is. Hulle is bereid om hul reputasie op die spel te plaas om belangrike gesprekke aan die gang te sit. Hierdie is die mense wat toekomsvisie het. En sommige is mans. Waarlik sterk mans. 

“Ek weet hoe dit is om in ’n verhouding te leef waar jy net goed en reg moet wees en stil langs die man se troon moet sit. Die ondersteunende rol moet speel. Maar ek is gelukkig genoeg om op ’n ander plek in my lewe wees waar ek my eie troon het. Op ’n manier wat nie van iemand anders se lig wegvat nie, want ons kan saam skyn.

“Die mans in my lewe het my gebou en opgelig en is van die belangrikste mense op my reis.”

Sy vertel dat sy boonop ’n paar maande gelede van Survivor af teruggekom het na ’n verlowing met die veearts dr. Clinton Austin.

“Ek het ja gesê, natuurlik. In ’n oogwink. ’n Miljoen keer, ja.”

“Ek is in ’n nuwe verhouding met iemand wat my as ’n gelyke erken en my mag respekteer en wie genoeg vertroue in homself het om langs my te staan.”

Sy beskryf ook haar twee broers en pa as mans wat haar ondersteun en krag en wysheid gegee het om moeilike besluite te neem en oor moeilike kwessies te praat.

Nicole sê sy maak haar seun, Josh, met ’n doel voor oë groot. Sy het ook ’n dogtertjie, Tatum.

“Ek wil hê dat hy vir homself moet lief wees, maar nooit meer as vir ander nie. Ek wil hê hy moet bewus wees van die inherente mag wat hy het omdat ’n man is. En om dan daardie mag te respekteer. Dat hy ander kan lig soos hy rys, dat hy goedheid kan toon teenoor ander, dat vroue sy gelyke is en dat hy kan opstaan teen mans wat nie so optree nie. Ek maak hom groot om te glo hy is ’n held. Een van die goeie ouens, maar so ook is sy suster. 

“Hulle is ’n span, ons is ’n span en saam sal ons oorlog toe gaan. Ongeag geslag.”