Rob Bentele
Foto: Jacques Stander

Rob het in September vanjaar met die prysgeld van R1 miljoen sowel as ’n splinternuwe motor weggestap nadat hy as die wenner van die sewende seisoen van Survivor SA en ook as kykers se gunstelingdeelnemer aangewys is.

“Sjoe, soveel positiewe dinge het met my gebeur. Ek is baie gelukkig,” vertel Rob (29) in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot. “Ek sal graag gou weer op TV wil wees; as die aanbieder van my eie program wat adrenalien, reis en mooi dinge om oor te praat, insluit,” vertel die videograaf. Meer kan hy nie in dié stadium verklap nie. “Julle sal eerste weet,” belowe Rob.

Hy verruil nou Richardsbaai vir Johannesburg. “Ek is mal oor Johannesburg. Die pas is so vinnig en ’n mens kry baie gedoen. KwaZulu-Natal is so mooi, jy kyk heeltyd na die strande en kom nie by jou werk uit nie,” vertel hy.

Rob vlieg die land vol na Kaapstad en Durban as hy werk en kuier soveel moontlik by sy familie. “Ek werk in die vermaakbedryf: Ek hou daarvan om te MC en motiveringspraatjies aan te bied oor die lesse wat ek op die eiland in Samoa geleer het," vertel Rob.

“Ek praat ook gratis by skole. My lewe het ten goede verander en ek is baie dankbaar daarvoor. Ek wil kinders inspireer.

“Ek kom van ’n nederige bestaan en ’n klein dorpie. Ek het baie geldelike probleme gehad. Maar nou is ek uitgeput, maar gelukkig omdat ek my drome kan navolg.”

Hy gaan leer skubaduik vir sy reisavonture. Volgende jaar het hy 40 dae opsygesit om saam met monnike in die Himalaja in Nepal deur te bring.
Volgende week gaan hy juis saam met Nicole Capper, een van sy mededeelnemers in Survivor SA: Island of Secrets, die hoogste piek in Suid-Afrika, Mafadi, in die Drakensberge uitklim.

Hy kuier ook nog gereeld saam met ander “mede-skipbreukelinge” soos Durão Mariano en Rocco van Rooyen.

“Ek het pas ’n ses maande huurkontrak onderteken hier in Johannesburg wat my genoeg kans sal gee om ’n goeie eiendomsbelegging te kry wat ek kan koop," vertel Rob.

“Ek soek nie iets groot en spoggerigs nie. Net iets gemaklik, modern en veilig. Wat ek die meeste van Johannesburg geniet, is dat alles so naby is,” sê Rob.

Rob wen Survivor
Die Survivor SA-­wenner, Rob Bentele, het Durão Mariano en Nicole Capper om die titel geklop. Foto: M-Net

“As ek dinge rustiger wil vat, is die Magaliesberge naby om te herlaai en met die natuur kontak te maak. Ek mis my familie in KZN. En die ubuntu in Zoeloeland. My hart sal altyd daar wees. Kom wat wil," vertel hy.

“Ek stel nie belang in ’n uitspattige lewenstyl of pierewaaier pakke klere nie. Ek sal altyd ’n kind van die bos wees wat heeltyd smag na avontuur.

“Ek wil hê my aanhangers moet weet ek gaan nêrens heen nie. Suid-Afrika bly my tuiste. En ek wil hulle bly inspireer soos op Survivor.”