Weens die voortslepende coronavirus-pandemie moes vanjaar se Statebondsdiens, wat gewoonlik op die tweede Maandag in Maart by die Westminster-abdy plaasvind, gekanselleer word. Dit sou vanjaar op 8 Maart plaasgevind het. 

Koningin Elizabeth (94) gaan nou op Sondag 7 Maart in ’n voorafopgeneemde uitsending die Britse publiek toespreek. Haar oudste seun, prins Charles, en sy vrou, Camilla, haar kleinseun prins William en sy vrou, Catherine, asook haar skoondogter Sophie, die gravin van Wessex, sal elk tydens die TV-uitsending insette lewer oor die belangrikheid van die Statebond. 

Prins Edward, Sophie, gravin van Wessex, Catherine
Prins Edward, Sophie, gravin van Wessex, Catherine, hertogin van Cambridge, prins William, koningin Elizabeth II, prins Charles, Camilla, hertogin van Cornwall en prinses Anne in 2020. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit was by die einste Statebondsdiens in 2020 dat Harry en Meghan hul swanesang as senior lede van die Britse koninklike familie gemaak het voor ‘Megxit’ amptelik in werking getree het. 

Harry en Meghan met hul verskyning by verlede jaar
Harry en Meghan met hul verskyning by verlede jaar se Statebondsdiens. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Statebond is ’n organisasie van 54 lidlande, wat voorheen onder Britse beheer was. Die koningin is die hoof van die Statebond.

In hul verklaring het David Hoyle, die dekaan van Westminster, die belangrikheid van die diens benadruk. 

“Die Statebondsdiens is een van die abdy se belangrikste jaarlikse dienste, maar omdat dit nie moontlik is om hier byeen te kom nie, het ons van die geleentheid gebruik gemaak om die viering buite die mure te neem. Ons is so geseënd dat hierdie ryk en lewendige BBC-program met die koninklike familie en die abdy as die hart daarvan, ons wêreldwye konneksies kan vier in ’n tyd waar ons fisies geïsoleer is.”

Die Britse koninklike familie tydens die Statebond
Die Britse koninklike familie tydens die Statebondsdiens in 2020. Foto: BBC

’n Woordvoerder vir die abdy het ook aan die Daily Mail gesê die besluit om die program op 7 Maart uit te saai is reeds drie weke gelede geneem, voor die aankondiging dat Harry (36) en Meghan (39) se onderhoud met Oprah op dieselfde dag op die Amerikaanse televisienetwerk CBS uitgesaai gaan word. 

Alhoewel die Statebondsdiens ’n jaarlikse instelling is, en die datum daarvan waarskynlik nie gekies is om die hertog en hertogin van Sussex se onderhoud te oorskadu nie, het dit nog steeds sosiale media laat gons. 

“Dit gaan nie werk om die Oprah-onderhoud te probeer voorspring nie. Jou kykers gaan slegs dié wees wat belangstel in die koninklike familie. Mense wat lief is vir Harry en Meghan gaan Oprah kyk en mense wat Harry en Meghan haat, gaan dit nog fyner dophou, so Harry en Meghan gaan die hele mark hê,” het ene Sparkly Fangirl op Twitter laat hoor. 

Nog ’n gebruiker, Kayla Adams, het op haar beurt getwiet: “Ek sien uit daarna om die program te kyk! Die Statebondsdiens is gewoonlik rondom die tweede Maandag in Maart. 

“Die koninklike familie werk gewoonlik rondom hierdie datum vir spesiale Statebondverwante verskynings. Het nie besef hulle moes hulle hele skedule verander nie.”

Hierop het ene Stacey geantwoord: “Sommige sal nie jou kommentaar verstaan nie. Mense is laf as hulle dink H&M (Harry en Meghan) het nie die belangrikheid van die datum geweet nie.”

Intussen het prins William (38) gister ’n verskyning by ’n entstofsentrum in King’s Lynn in Engeland gemaak en mense daar gerus gestel oor die toestand van hom en Harry se oupa, prins Philip. Dié is sedert verlede Dinsdag in die hospitaal vir waarneming. 

“Ja, hy is oukei, hulle hou ’n ogie op hom,” het William geantwoord toe hy gevra is hoe dit met sy 99-jarige oupa gaan. 

Op hul beurt het Harry en Meghan Maandagaand ’n verskyning gemaak op ’n virtuele geleentheid van die stromingsdiens Spotify. Hulle het verlede jaar ’n ooreenkoms van sowat R620 miljoen met dié diens gesluit en het intussen hul podsending, Archewell Audio, daarop geloods.

In hul kort verskyning, ’n week  die aankondiging dat hul tweede kleinding oppad is, het Meghan vertel dat hulle hul podsending gebruik om “kragtige gesprekke” te dryf.

“Ons het Archewell Audio geskep om seker te maak dat ons die stemme van die wat nie gehoor kan word nie na vore laat kom en dat ons mense se stories kan hoor,” het ’n duidelik stralende Meghan vertel. 

Vir die verskyning het sy ’n Oscar de la Renta-rok met suurlemoen-motiewe daarop gedra. Die video is in hul woonkamer in Santa Barbara, Kalifornië, opgeneem. 

Dit het ook aan die lig gekom dat Harry en Meghan reeds verlede week die veelbesproke onderhoud met Oprah opgeneem het. Die mediamagnaat, wat ook die Sussexe se buurvrou in Santa Barbara is, het volgens bronne twee dae saam met die paartjie deurgebring by hul huis. Dit blyk egter dat dele daarvan oorgeskiet moet word weens die struwelinge wat dit tussen Harry en sy familie veroorsaak het. 

Bronne: Daily Mail, Daily MailE! Online, Twitter, westminster-abbey.org