“In ander nuus . . . Ons is baie opgewonde om ’n nuwe lid by ons komediegroep te voeg. Julia’s Baby Diary seisoen 2 hier kom ons,” skryf sy op Instagram by ’n foto waar sy haar bababoep wys. 

Waar Huisgenoot nou met haar gesels, vertel Julia sy het gou agtergekom sy is swanger. 

View this post on Instagram

A post shared by Julia Anastasopoulos (@julia_anastasopoulos)


“Ek het ’n sesde sintuig en my liggaam het ’n bietjie vreemd gevoel, toe weet ek ek is weer swanger.” 

Die swangerskaptoets het haar vermoede bevestig en sy het dieselfde dag die nuus met haar regisseurman, Ari Kruger, gedeel.

“Toe jy my vertel het, was ek nie verbaas nie,” laat Ari in die agtergrond hoor. 

Julia en Ari wat reeds ’n tweejarige dogtertjie, Zoe, het, sê hulle wou nog altyd ’n groot gesin gehad het. 

“Ons het albei in groot gesinne grootgeword en dit is iets waaroor ons al lank gepraat het, en ons is baie opgewonde dat klein Zoe ’n broer of suster gaan hê,” sê Julia. 

Hul nuwe kleinding maak na verwagting einde September sy of haar opwagting. “Dit is lente en ek dink dit sal ’n goeie tyd wees om ’n baba te hê.” 

Haar tweede swangerskap is baie moeiliker as die eerste een, vertel die aktrise. “Dit is so snaaks, want my eerste swangerskap het soos ’n briesie gevoel en hierdie swangerskap is net so moeilik.” 

“Dit is waarskynlik ’n kombinasie van faktore, maar ek was regtig siek aan die begin. Ek het vir my man gesê ek dink ek het 'n maaggogga,” vertel sy. 

Van vreemde eetgewoontes is daar geen sprake nie. “Ek wil normaalweg nie baie vleis eet nie, maar ek is beslis lus vir meer proteïene as wat goed is, dink ek.” 

julia anastasopoulos
Julia Anastasopoulos. Foto: Showmax/Coco van Oppens

En hoe voel klein Zoe oor die nuwe pienkvoet wat op pad is? “Baie opgewonde, maar ook verward. Sy is nog so klein en kan dit nie regtig verstaan nie. Ek wens ook dat ons nie so gou vir haar gesê het nie, want dit is lank wat sy moet wag.” 

julia en haar man ari kruger
Julia en haar man, Ari Kruger. Foto: Showmax/Coco van Oppens

“Soms as sy my in die ander kamer hoor of as ek haar roep, sal sy vra of die baba besig is om te kom,” vertel sy laggend. 

Julia se onlangse reeks op Showmax, Tali’s Baby Diary, wat geïnspireer is deur Zoe se geboorte, was weereens ’n treffer. Dis die langverwagte opvolg van die oorspronklike reeks van 2017, Tali’s Wedding Diary. 

Kan ons uitsien na ’n derde seisoen?

“Dit is beslis ’n moontlikheid; dit is iets waaroor ons praat, maar ons moet net uitvind hoe ons dit gaan regkry met ’n baba op pad.

“Ons wil dit graag doen en as ons die geleentheid kry, sal ons hierdie jaar daaraan begin werk en waarskynlik volgende jaar daaraan begin skiet,” sê Julia. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe