Mark se seun, Lewis (21), is in November verlede jaar oorlede nadat ’n psigiatriese siekte 'n paar jaar gelede by hom gediagnoseer is. 

"Mark is seker die positiefste mens – almal wat hom ken sal dit beaam,” vertel Suzette (52) aan Huisgenoot. "Hy het intensiewe berading gekry ná Lewis se dood 10 maande gelede."

Die egpaar het nou besluit om hul huis in Dainfern Valley in Johannesburg op te pak en uit te verhuur en vir hulle 'n nuwe blyplek op die luukse Val de Vie-landgoed in Paarl in die Wes-Kaap te bou. 

"Val de Vie is sonder twyfel ’n nuwe begin vir ons, en ons het weer iets om na uit te sien. Ons is bevoorreg en geseënd," sê Suzette. 

Suzette van der Merwe is mooier as ooit
Suzette en haar man van die afgelope jaar en 'n half, Mark Weston. Foto: Verskaf.

Hulle het grond op die landgoed gekoop en wil 'n huis vir hulle daar bou. “Mark nader aftrede en is oor twee jaar 60. Ek het formeel op 50 die korporatiewe rat race verlaat en ons albei betree nou 'n nuwe fase in ons lewe,” vertel Suzette, wat in 1990 die Mej. Suid-Afrika-kroon gedra het.

Haar dogter, Skye (19), het vroeër vanjaar van Johannesburg na Kaapstad verhuis. Sy is 'n eerstejaarstudent by die musiekteater-akademie LAMTA by Theatre on the Bay in Kaapstad. Suzette het ook 'n ouer seun, Graydon Goss (21).

“Skye is die jongste van ons gesamentlike vier kinders en het verlede jaar matriek geskryf en is nou 'n student in die Kaap. Ons sit met 'n groot leë huis in Johannesburg en wil afskaal na iets kleiners wat ons leefstyl en belange pas; daarom die besluit om huis te bou eerder as om te koop," vertel Suzette.

“Val de Vie bied ons ’n sekuriteitsleefstyl en vriendelike gemeenskap met asemrowende natuurskoon en uitstekende restaurante - met die bonus van die wêreldbekende Pearl Valley Jack Nicklaus-gholfbaan letterlik oor die pad – en dit is Mark se soft spot,” vertel sy verder. 

Nog ’n trekpeister is nog 'n gewese Mej-Suid-Afrika, Rolene Strauss, wat net om die hoek van hulle op die landgoed bly. "Rolene en haar man is baie spesiaal vir ons en ja, dit sal heerlik wees om haar meer gereeld te sien," sê Suzette.

Hulle voorsien om teen begin 2022 af te trek om die bouery te oorsien. Op die oomblik is hulle druk besig om hul herehuis in Dainfern Valley in Johannesburg ’n "facelift" te gee en reg te maak om te verhuur.

Suzette sien die meeste uit daarna om wakker word met 'n panoramiese uitsig oor die berge en wynlande, vars lug, ’n meer aktiewe leefstyl en na ’n kleiner huis en tuin. "Om die Kaap plat te ry en al die mooi klein dorpies te herontdek, die Weskus waar my pa grootgeword het, Namakwaland se blomme, wynproe of sommer see toe te ry vir ’n dag saaam met die honde.

“Natuurlik is die kinders dan nader – so ek voorspel heerlike luilekker Sondag-familiekuiers op die stoep," vertel Suzette.

suzette van der merwe,troue
Verlief en getroud op Pink Beach in Nieu-Seeland. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish

Sy sien ook daarna uit om moontlik meer van haar ouers, Jeanne en Piet, te sien. "My ouers woon op Stilbaai, so ons hoop om hulle ook meer te sien. Persoonlik hoop ek ook om betrokke te raak met opheffingsprojekte in die gemeenskap."

Suzette en haar twee kinders, Skye en Graydon.
Suzette en haar twee kinders, Skye en Graydon. Foto: Yolanda van der Stoep

Sy en Mark is “geseën met goeie gesondheid” tydens die covid-19-pandemie, sê sy.

Haar seun, Graydon, het al twee keer vanjaar covid-19 gehad en haar dogter, Skye, het ook onlangs die siekte gehad. "Maar almal is stadig maar seker besig om hul gesondheid terug te kry," vertel Suzette.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe