Prins William en sy broer, Harry, wil eintlik baie graag hê dat hul pa, prins Charles, wat op 14 November 70 word, dinge rustiger moet neem sodat hy langer by hulle en sy kleinkinders kan wees.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Selfs Charles se vrou, Camilla (71), wil hê haar man moet nou ’n bietjie rustiger word. Die hertogin van Cornwall het onlangs in ’n BBC-dokkie ter viering van Charles se 70ste verjaardag gesê sy liefdadigheidswerk en sy werk met omgewingsake en klimaatsverandering kan tot sy ondergang lei. “Hy wil graag die wêreld red,” sê Camilla in die dokkie, Prince, Son and Heir: Charles at 70. 

William (36), wat drie kinders, prins George (5), prinses Charlotte (4) en die ses maande oue prins Louis het, sê hy wil graag hê sy pa moet nog by hulle wees tot hy 95 jaar oud is. Die hertog van Cambridge sê hy raak juis bekommerd oor of hulle nog sy pa vir lank by hulle sal hê.

Volgens William is Charles ’n "briljante" oupa. Charles kruip ure lank op die vloer met sy kleinkinders, lees vir hulle Harry Potter-boeke en boots selfs die karakters se stemme na.

Sy pa maak tyd vir oupa wees, sê William. "Maar ek sal graag wil hê hy moet nog meer tyd met die kinders hê," sê Wills.

"Hy's die fikste man wat ek ken, maar ek wil hê hy moet fiks wees tot hy 95 is. So om meer tyd met hom tuis te hê sal lieflik wees en vir hom om met die kleinkinders te speel."

Charles, die opvolger van die Britse troon ná sy ma, koningin Elizabeth II (92), het by sy jongste seun, Harry (34), se troue in Mei vanjaar sy nuwe skoondogter, die voormalige Suits-aktrise Meghan Markle (37), by die kanselpaadjie afgeloop. Harry wil ook hê sy pa moet dinge rustiger vat op sy oudag.

“Hy moet dinge stadiger vat. Dit is ’n man wat belaglik laat saans aandete eet,” sê Harry in die BBC-dokkie.

Hy sê sy pa hou nooit op werk nie. “Ek bedoel, toe ons kinders was, was daar sakke en sakke vol werk. Ons kon skaars saans by sy tafel uitkom om hom nag te groet,” sê Harry.

Hopelik luister hul pa na hul raad! 

Bronne: Mirror, BBC, Standard.co.uk