Eens het die twee talentvolle Trantraalbroers saam rakke vol tekenverhale, oftewel “strippe”, in Kaapse Afrikaans geskep. Maar vandag is André en sy jonger broer, Nathan, elkeen ’n suksesvolle kunstenaar uit eie reg; albei bekend vir hul slag met woorde en illustrasies.

Hulle woon in uithoeke van die land en die inperking maak gesels en samewerking maar moeilik. “Ek verneem so nou en dan van my ma hoe dit met my broer en sy gesin gaan. Ons broerverhouding is tans under maintenance,” sê André (40).

Hy woon in Observatory in Kaapstad, en skryf en illustreer kinderverhale. Sy jongste boeke in die kinderreeks Keegan & Samier het pas verskyn. André is saam met sy “medeboekliefhebber, wat tot liefie verkort kan word”, Verushka Louw, in lockdown. Sy is ’n kinderboekkenner en werk by die uitgewershuis Jonathan Ball en is volgens André “snaakser, nicer en cooler” as hy.

Nathan (36) bly op Makhanda in die Oos-Kaap. Benewens sy skeppende werk gee hy aan die Rhodes-universiteit klas in Kaapse Afrikaans en bied ’n kursus in die skep van ’n grafiese roman aan. Saam met Nathan is sy vrou van die afgelope nege jaar, die bekroonde digter Ronelda S. Kamfer. Sy jongste digbundel, Oolog, het onlangs verskyn en sy bundel essays en verhale, Wit issie ’n colour nie, in 2018.

Nathan en sy vrou, Ronelda Sonnet Kamfer-Trantraal
Nathan en sy vrou, Ronelda Sonnet Kamfer-Trantraal, en André en Annemarié van Niekerk, ’n boek­resensent.

Die broers laat weet hulle verkies om per e-pos met Huisgenoot te gesels, want so kan die woordsmede hul antwoorde presies verwoord.

Die storie van hul unieke van – Trantraal – byvoorbeeld: “Die storie van ons van is vir my simbolies van my personal growth as ’n mens,” laat hoor Nathan. “As ’n teenager was dit iets wat ek baie embarrassed was oor, maar soos ek in myself gegroei het as ’n mens, het ek in my van gegroei; die Trantraalnaam word nou associated met excellence in die fields wat ons werk,” verduidelik hy.

“Snaaks genoeg, ons van sou Michaels gewees het, maar my pa het sy ma se van gevat toe hy ’n teenager word. Hy het nie goed met sy pa oor die weg gekom nie.”

Die Trantraalbroers het as twee van ses kinders in Mitchells Plain en Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte grootgeword met hul enkel-superma, Mainie Trantraal, aan die stuur van sake. Dit was soms moeilik, veral met ’n pa wat afwesig was, erken André.

“Maar ons het almal die beste van ’n slegte situasie probeer maak.”

Die twee broers.
Die twee broers.

“Ek sou ’n tesis moet skryf om my familie te beskryf en ek sal dit steeds nie regtig kan beskryf nie. Ons is almal moeilike mense wat dink ons is nie moeilike mense nie,” vertel Nathan. “My ma is ’n klein fan van my werk, sou ek sê,” voeg hy by.

“Sy is half impressed met my somtyds. Ons is almal groot fans van haar, though. Dit het my jare gevat om te besef hoe slim my ma is, en dit dink ek is hoe sy gesorg het vir ses kinders alleen, deur vinniger te dink as almal rondom haar. Sy het die brutes rondom haar outwit.”

André stem saam. “Sy was maar altyd ’n briljante en liefdevolle one-of-a-kind- mens. “In ’n ander lewe sou sy president gewees het, en ’n baie goeie een; sy sou vir Jacinda Ardern (die gewilde leier van Nieu-Seeland) ’n run for her money kon gee.

“Hoe sy op haar eie die huishouding aan die gang gehou het as ’n arm enkelma, weet slegs sy en God alleen.”

André sê sy verhale oor kinders is “altyd outobiografies, op die een of ander manier. Ek dink dit is omdat ek steeds die particulars van ’n ietwat ongelukkige childhood probeer verwerk. Om comics te maak daaroor is deels my manier van sin maak van die formatiewe deel van my lewe.

“Wanneer ek oor kinders skryf, probeer ek dus akkuraat onthou. Makliker gesê as gedaan, natuurlik.”

André Trantraal se illus­trasies uit sy reeks kind
André Trantraal se illus­trasies uit sy reeks kinderboeke, Keegan & Samier, wat op karakters uit sy leefgebied gegrond is. Die broers het as kinders reeds saamgewerk aan stories in woord en beeld, vertel hulle.
André Trantraal se illus­trasies uit sy reeks kind
André Trantraal se illus­trasies uit sy reeks kinderboeke, Keegan & Samier, wat op karakters uit sy leefgebied gegrond is. Die broers het as kinders reeds saamgewerk aan stories in woord en beeld, vertel hulle.
Keegan & Samier.
Keegan & Samier.
Keegan & Samier.
Keegan & Samier.

In Oolog skryf Nathan weer treffend oor gesinskwessies in die gedig “The Old Man and the Sea”:

Vetel vannie pa’s met wie se bloed die vyl sand gevoer was

Die pa’s wat AWOL gegannit en nooit wee van gehoor wassie

Vertel vannie POWs wie tien tot vyf-en-twinnag jaa innie kampie gelêrit

Vetel vannie ma’s wat innie fabrieke moes gaan swiet et

En sê vi hulle despite wat ammel sê

Dat oolog mense ytmekaa skee

Dat ek en my broes en sustes mekaa die styfste vasgehourit deerie langste nagte

Is innie sonskyn en oppie pad hystoe wat ôs mekaa veloorit

Die twee broers.
Die twee broers.

André vertel toe hy en Nathan klein was, “was ek maar altyd die ouboet en mentor. Dit was eers toe Nathan sy tienerjare bereik het dat hy meer ’n eie, afsonderlike identiteit begin ontwikkel het. Toe begin hy my ook leer.”

Waar André voorheen Nathan se gedigte, kortstories en rubrieke geredigeer het, werk hulle nou onafhanklik van mekaar. Die broers se eerste gesamentlike skepping wat gepubliseer is, was die strokie Urban Tribe in die Cape Argus in 2003.

Later het hulle aanhangers bekoor met onder meer die tekenstorieboeke Stormkaap (2008) en Coloureds (2010), die strokie Ruthie in Rapport en die strippe The Richenbaums in die Cape Times.

“Of dit nou comics skep of die regte woorde aanmekaarlas is, ons werk maar op dieselfde manier,” vertel André. “Ek was in die driver’s seat met die comics en Nathan in die driver’s seat met die gedigte skryf. Ek dink dat ons nogal ’n lang tyd geneem het om ons strengths uit te figure. Nathan skryf byvoorbeeld beter Kaaps as ek, maar ek skryf beter Engels en standaard-Afrikaans.”

Die laaste boek waaraan hy en sy kleinboet saam gewerk het, was Nathan se bundel Wit issie ’n colour nie.

“Dit is onmoontlik om werk en kuns te skei van ons persoonlike verhoudings,” sê Nathan. “Maar as ’n mens dit jou hele lewe lank doen, is dit regtig maar net normaal; dit is hoe ons function, en om vir die eerste keer in ons lewe ’n slag op ons eie te werk is ’n challenge, maar ook ’n baie goeie leerproses.”

André se boekereeks Keegan & Samier is “basies ’n reeks soos Boet en Saartjie, die primers wat ons destyds op laerskool moes lees”, vertel hy. “Maar in hierdie weergawe van Boet en Saartjie is almal nie wit en Christene en lei prentjieboek-perfekte lewens nie.

“Die agtergronde in Keegan & Samier illustreer letterlik en figuurlik die verskil: die skool se verroeste draadheining, die alomteenwoordige graffiti, die ‘huiswinkeltjie’ met die Coca-Cola-bordjie buite teen die muur.

“In vergelyking met Boet en Saartjie is dit twee verskillende planete.”

“Swing Low” Uit Oolog, deur Nathan Trantraal

Ek sit somtyds en kyk dai ou vroue an

wat as kinnes se kinnes swaakry

Dai ou man en vrouens wie hulle kinnes

jonk begrawe, wie honge en moeg deerie lewe knyp

Wie wêk tot hulle rugte byg soes hassies

Ek wonne somtyds hoekom hulle soe lank moet suffer

Hoekom hulle altyd ie dood vryspring

En dan vestaan ek ees “Swing Low, Sweet Chariot”

Swing low, swing lower, en nog lower

Hoe baie gebeeritie dattie engele gryp vi ôs

en wegvlieg met nette hanvol stof ie

FOTO'S: BERTRAM MALGAS/NETWERK24, VERSKAF, FACEBOOK/ ANNEMARIE VAN NIEKERK, WOORDFEES.COM