’n Tweede loopbaan

Jawaahier Petersen (33) het nog altyd daarvan gedroom om ’n aktrise te word; ’n droom wat nou waar geword het. Kykers sien haar deesdae elke weekaand in die kykNET-sepie Suidooster, waarin sy die skaam Kaashifa Mansour speel.

Maar dis Jawaahier se tweede loopbaan: Sy het 12 jaar lank as ’n maatskaplike werker gewerk. Jawaahier, die oudste van wyle Taliep Petersen en die sangeres Madeegha Anders (58) se vier kinders, vertel haar pa het ’n stokkie voor haar toneelspeelplanne gesteek omdat die bedryf dikwels onvoorspelbaar is.

Dus het sy besluit om eers ’n kwalifikasie as ’n maatskaplike werker aan die Universiteit van Kaapstad te behaal. Sy het hier uitgeblink; sy sê sy sal nooit vergeet hoe trots haar pa was toe sy ’n Golden Key-prys vir haar prestasie ontvang het nie.

View this post on Instagram

@thedarrensimpson the 'seepiester' paid Ruiterbosch a visit today.. Te veel gelag ???? Catch his debut @suidoostertv episode 7th October at 18:30 on @kyknetkie @kfmza #Kaashifa #Tyron #Anton

A post shared by Jawaahier Petersen (@jawaahier) on

“Ek het gesien hoe hy huil toe ek op die prysaand op die verhoog stap. Toe ek vra hoekom hy huil, het hy gesê: ‘Dis die universiteit wat ek nie kon bywoon nie, en nou is my kind een van die topstudente.’ ”

’n Week nadat Taliep in Desember 2006 in sy Athlone-huis vermoor is, het sy boonop die dekaan se merietelys gehaal.

“Ek dink my pa sou vandag trots gewees het dat ek eers studeer en steeds my droom nagejaag het. Hy’t altyd geglo ’n mens moet alles behoorlik doen.”

En sy is nie spyt oor die kronkelpad wat sy tot in die toneelwêreld gestap het nie. “Dit was my reis om tot hier te kom.”

Gevoel van behoort

Kykers het in Maart vanjaar die eerste keer kennisgemaak met Kaashifa toe sy in Mymoena (Jill Levenberg) se kosvideo’s verskyn. Sy is sedert verlede maand deel van die sepie se permanente rolverdeling.

Jawaahier vind aanklank by Suidooster: “Vir die eerste keer sien ek mense wat nes ek praat, met rakams (marmerglas) in hul huise, wat “algamdoelillaah” (prys God) sê en soos my familie aantrek,” sê sy.

Al is sy vriende met almal op die stel, het sy veral ’n hegte band met Jill, juis omdat hul karakters in soveel tonele saam was.

Sy en Desiré Gardner (Carmen) kom ook goed klaar. “Ons is die enigste ma’s van jong kinders op die stel en ruil gereeld raad uit.”

Benewens haar aanbiederswerk vir die kykNET & kie-aktualiteitsprogram Klop! en die SABC2-leefstylprogram DEKATv was Jawaahier ook tot onlangs in ’n paar episodes van die kykNET & kie- telenovelle Arendsvlei te sien.

jawaahier_Petersen
Jawaahier, haar man, Ridhaa, hul dogter, Ranaa (middel), en seun, Raadhi. Foto: Verskaf

Gebore vir die kollig

Jawaahier kom uit ’n talentvolle familie en het dus ondanks haar werk as maatskaplike werker nog altyd met een voet in die vermaakbedryf gestaan.

Sy het haar ouers se musiektalent geërf en is sedert 2013 die hoofsanger van die sanggroep Die Jaloersbokkies, waarvan haar broer, Ashur Petersen (27), en die sangeres Nadine Blom ook deel is.

Sy deel ’n hegte band met Ashur, haar twee susters, Fatiema (26) en Aeesha (30), en twee halfsusters, Natasha Githiri (40) en Zaynab Petersen (20), sê Jawaahier.

jawaahier_Petersen
Jawaahier en haar pa, die ontslape musieklegende Taliep Petersen, toe sy destyds met ’n Golden Key-prys vereer is vir haar akademiese sukses. Foto: Verskaf

“Ná ons pa se dood is ons deur baie, en die pad was nie maklik nie.” Die aktrise beskryf haar man, Ridhaa Damon (35), ’n finansiële adviseur, as die lig in haar lewe.

Die twee, wat sedert 2008 getroud is, is al 16 jaar saam en het twee kinders, Raadhi (6) en Ranaa (3).