Sean van Noordwyk
Hy het ál meer nes sy karakter in Getroud met rugby geword en homself byna in die proses verloor, sê Sean van Noordwyk. Foto: OJ Koloti/Gallo Images

Dit was asof hy nie meer geweet het wie hy is nie.

Vyf jaar lank moes die Getroud met rugby-akteur Sean van Noordwyk elke dag in die skoene van die rugbyspeler Reitz Bekker klim.

Sy transformasie om dié Stryders-speler te speel was nes ’n ligskakelaar, sê Sean. Op stel sou hy anders praat, dieper as gewoonweg. Hy was bewus van sy handgebare en selfs sy lyftaal – alles om die rol van ’n breker van ’n rugbyspeler geloofwaardig te maak.

“Dit was asof ek ’n heel nuwe mens geword het. My ouers wou in een stadium by my weet: ‘Wie is hierdie kind? Ons herken hom nie!’ ” vertel Sean (26) laggend oor ’n gesprek met sy ouers, Mark (60) en Elma van Noordwyk (57).

“Ek het daarna besef ek tree meer en meer soos Reitz op,” sê Sean. “Hoekom sou ek nie? Ek was elke dag as hy op stel en saans moes Reitz saam met my huis toe kom om sy woorde te leer. Ek het selfs oor naweke in sy skoene geklim wanneer ek in die openbaar was of wanneer ’n aanhanger in die omtrek was.

Sean van Noordwyk
Sean in ’n toneel saam met Adrian Steyn, wat Ryno speel. Foto: Getroud met Rugby/Verskaf

“Jy wil nie hê die kykers moet teleurgesteld wees nie,” sê hy ernstig. “En ek was bang hulle hou nie van Sean, die régte ek, nie.”

In November verlede jaar het hy die besluit geneem om sy vlerke te sprei en Reitz te groet. Die sepie word drie maande vooruit verfilm; daarom het kykers eers onlangs sy laaste storielyn sien ontvou.

En dit was dramaties – nes dit ’n sepie betaam: Reitz het nooit weer wakker geword uit die koma waarin hy beland het ná ’n verskriklike ongeluk nie. Sy TV-vrou, Amanda (Natasja Jacobs), het op 15 Julie besluit om die masjiene te laat afskakel. Emosionele kykers neem op 20 Julie – tydens sy TV-begrafnis – finaal van Reitz afskeid.

“Ek het geweet ek sou ná Reitz se dood daardie skakelaar moet ontkoppel wat ek so gereeld aan en af gesit het,” sê Sean. “En ek het geweet dit gaan moeilik wees, maar nie presies hoe moeilik nie. Ek het geweet ek sou werkloos en sonder inkomste wees, ja, maar ek het nie besef dit sou ook vir my voel asof iemand na aan my dood is nie.”

Sean van Noordwyk
Getroud met rugby se Stryders-rugbyspan. Foto: Getroud met Rugby/Verskaf

Om vir Reitz totsiens te sê

Ons ontmoet mekaar by die Getroud met rugby-ateljee in Braamfontein-Werf, Johannesburg.

Sy laaste toneel op dié stel is al einde Maart verfilm, vertel Sean. Maar steeds voel die ateljee nes sy huis – asof hy weer enige oomblik in die skoene van die donkerkop Reitz kan inglip.

“Die finaliteit van alles sink eintlik nou eers by my in.”

Hy was maar nog ’n finalejaar-dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch toe Deon Opperman, die sepie se hoofskrywer en ’n mede-vervaardiger, die rol van Reitz vir hom aangebied het. Sean het dié rol al in Januarie 2016 begin vertolk, selfs nog voor hy graad gevang het.

“Ek het eintlik al aan die einde van die vierde seisoen oorweeg om my vlerke te sprei en die sepie te verlaat. Maar toe ek die geleentheid kry om Natasja se TV-man te speel, het ek besluit om eers te wag. Ek het ’n jaar lank by haar soveel moontlik geleer. Maar in November het dieselfde stemmetjie weer in my oor kom fluister: Dis tyd.”

Hy het die raad van akteurs soos David Minnaar, Rolanda Marais en Jacques Bessenger ingewin, sê Sean. Hul raad? Doen dit!

Daar was net een voorwaarde: Getroud met rugby se “goue seun” sou “waardig” moes sterf. Die antwoord was eenvoudig: ’n motorongeluk.

Sean van Noordwyk
Die aktrise Natasja Jacobs was Sean se TV-vrou, Amanda. Foto: Getroud met Rugby/Verskaf

“Ons wou hê hy moes as ’n held sterf,” sê Sean. “En hy het.”

As iemand wat so lank ’n vaste werk gehad het, het sy nuwe vryheid ook ’n groot klomp onsekerheid meegebring waaraan hy nou nog gewoond moet raak.

“Ek was nog nooit voorheen werkloos nie,” waag Sean ’n grappie en lag.

Maar eintlik is dit allesbehalwe ’n grap, skram die akteur. Die waarheid is dat hy drie moeilike maande agter die rug het, maande waarin hy dikwels getwyfel het of hy die regte besluit geneem het.

Daar was in die eerste week nadat hy sy sepie-storielyn voltooi het nie eens tyd vir trane nie, vertel Sean. Hy het modelwerk gedoen en selfs geskiet aan tonele vir die M-Net telenovelle Legacy.

Maar toe sak ’n doodse stilte oor sy loopbaan uit.

“Ek het besef dit sou moeilik wees om die standvastigheid van ’n sepie te groet, maar ek het nooit besef presies hoe moeilik nie,” erken Sean. “Ek was skielik tussen niks en nêrens. Reitz sou vir nog drie maande op televisie te sien wees, maar ek was tuis en alleen. Werkloos, platsak en onseker.

Sean van Noordwyk
Sean wou al voorheen die sepie verlaat, maar wou aanbly nadat hy die geleentheid gekry het om teenoor die aktrise Natasja Jacobs te speel. Foto: Getroud met Rugby/Verskaf

“Dink jou dit in: Jy is in die middel van ’n wêreldwye pandemie, so dis nie asof jy deur die land kan toer om jou kop besig te hou nie. Ek was tuis en eensaam en ek het die roetine van werk gemis. En dis toe ek in myself begin twyfel het. Ek het soos ’n mislukking gevoel omdat ek nie dadelik weer ’n werkaanbod gekry het nie.”

Hy moes hard stoei teen depressie wat sy kloue in hom wou-wou inslaan, erken Sean openhartig.

“Ek praat nie sommer hieroor nie, maar ek sal omdat dit soveel mense raak. Ek het verlede jaar met die goedkeuring van my dokter ophou anti-depressante drink. Ek wou weer beheer neem oor my lewe; oor my kop en my emosies. En ek het. Maar toe hierdie ding my skielik tref . . . Sjoe, ek moes hard daarteen baklei.”

Hy was aanvanklik te trots om sy emosies met vriende en familie te deel, sê akteur. Maar toe word hy gedwing.

“Kyk, kom ons wees eerlik: Ek het geweet dis nou die beste tyd in my lewe om so ’n groot stap te neem. Ek het nóg kind, nóg kraai – daai soort ding. Maar daar was maande dat vriende vir my geld moes inbetaal om brandstof in my kar te gooi en kos op die tafel te sit.”

Is hy dan spyt?

“Nie vir een oomblik nie,” sê hy. “Die jare van klippe kou lei áltyd tot iets mooier.”

Sean van Noordwyk
Sean is in Mei as Mnr. Wêreld Suid-Afrika gekroon. Hy vertel dié kompetisie het hom gehelp om sy sepiekarakter, Reitz Bekker, af te skud. Foto: Sean van Noordwyk/Facebook

’n Nuwe begin

Daar het darem nie heeltemal niks in sy loopbaan gebeur nie, erken ’n skugter Sean heelwat later.

Hy is op 22 Mei tydens ’n spoggerige geleentheid by Galleria in Sandton as Mnr. Wêreld Suid-Afrika gekroon.

“Dit was vir my alles deel van die proses om Reitz af te skud,” vertel Sean. “Ek wou my mure afbreek en vir die eerste keer nét Sean wees. En ek het. Dis daar waar ek die eerste keer besef het mense is lief vir die regte-egte ek ook.”

Hy het op 14 April – die laaste dag wat inskrywings aanvaar is – om twee redes vir die kompetisie ingeskryf: Hy wou terugploeg in die gemeenskap en ’n verveelde Sean was moeg om net tuis te sit.

Nou wil hy dié titel gebruik om ’n verskil te maak.

“Ek wil kwessies oor geestesgesondheid aanpak en ek wil help om ’n samelewing te skep waar mense van álle agtergronde geliefd en aanvaar voel,” vertel hy.

Sien ons hom dan nie weer op ons TV-skerms nie?

“O, absoluut!” sê hy. “Akteurswerk sal altyd my eerste liefde bly. Ek wou nog altyd die skurk speel, dis so in kontras met die saggeaarde ou Reitz. Of Macbeth. Of – en dis ver in die toekoms – wil ek sir Laurence Olivier speel.”

En waarskynlik dan nes Olivier (wat met Gone with the Wind se Vivien Leigh getrou het) met ’n beroemde aktrise afhaak?

Hy lag. “Vir nou fokus ek eers op my,” sê hy. “Maar ek sê nie dis heeltemal onmoontlik nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe