Wat dink sy? Is sy gelukkig, vies of verveeld? Op foto ná foto was haar emosielose gesigsuitdrukking presies dieselfde.

Lank was dit amper onmoontlik om te peil wat in die gedagtes van Melania Trump (48) aangaan. Of sy nou aan die sy van haar man was of haar eie paadjie ingeslaan het terwyl pres. Donald Trump (72) van Amerika elders met amptelike pligte besig was, Amerika se presidentsvrou het selde ’n betekenisvolle gesigspiertjie verroer.

Maar die afgelope jaar het dinge begin verander. Sy glimlag meer, sy sê haar sê oor kwessies van immigrasie tot kuberafknouery, en elke nou en dan lyk dit selfs of sy haar rol geniet.

‘Ek wens mense wil fokus op wat ek doen, nie wat ek aantrek nie.’

Teensinnige presidentsvrou en gedweë onderdanige in haar man se skadu? Nie meer nie . . .

Melania se skuif na die Withuis in 2017 het op die verkeerde voet begin toe onsekerheid eers geheers het oor of sy hoegenaamd daar wou woon of die rol van presidentsvrou wou speel. Maar nou lyk dit of sy ná 18 maande in die Withuis eindelik ingeburger is en boonop moeg daarvoor dat mense hulle teen haar voorkoms en modes blindstaar.

“Ek wens mense wil fokus op wat ek doen, nie wat ek aantrek nie,” het sy onlangs na verslaggewers gekap.

Sy swyg ook nie oor haar man se doen en late nie. Sy het in die openbaar standpunt ingeneem teen van sy optrede, beleide en selfs sy keuses van personeel – byna ongehoorde gedrag vir ’n presidentsvrou van Amerika.

Ook die Withuispersoneel begin nou besef meer steek in die baas se vrou as wat almal gedink het. En bewaar die een se siel wat haar vies maak . . .

Stormy Daniels
Stormy Daniels.
Karen McDougal
Karen McDougal.
Manlief se rondlopery

Hoewel Melania bewerings verwerp het dat haar man haar met die porno-ster Stormy Daniels en die Playboy Playmate Karen McDougal verneuk het, vertel haar dade ’n ander storie.

Toe die gerugte oor sy kaskenades tussen die lakens in Januarie die ronde doen, was dit duidelik The Don het huismoles.

Die Trumps was op pad na Davos in Switserland vir die vergadering van die Wêreld Ekonomiese Forum, maar eindelik moes die president sonder sy vrou op die vliegtuig klim, want sy het verkies om tuis te bly.

Dié gebaar het boekdele gespreek. Dit was vir Melania die keerpunt, meen ingeligtes.

Waar sy voorheen tevrede was om in haar man se skadu te staan, het sy nou begin wys sy kan onafhanklik optree en met haar swye of afwesigheid ’n standpunt inneem – selfs al plaas dit Trump in die verleentheid.

Lees tussen die lyne

Hoewel dit dikwels uiterlik gelyk het of sy ’n toegewyde eggenote is, het haar optrede die afgelope paar maande mense laat wonder wat sy regtig van Trump dink.

Basta met boelies

Die wenkbroue het gelig toe sy in Mei aankondig die hoofkwessie waarvoor sy haar as presidentsvrou sal beywer, is die bekamping van kuberafknouery deur die Be Best-veldtog.

Dit was ’n interessante keuse gegewe wydverspreide onthullings oor hoe haar man sy teenstanders al afgeknou en verneder het.

Sy kyk wat sy wil

Die president was glo woedend toe hy agterkom Melania se TV op die presidentsvliegtuig, Air Force One, is ingestel op CNN, die kanaal wat hy eindeloos daarvan beskuldig dat hulle vals nuus verkondig.

Haar span se reaksie was dat die presidentsvrou vry is om “enige kanaal te kyk wat sy wil”.

Onverwagte vriende

Melania volg net ses mense op Twitter. Een van hulle is die voormalige Amerikaanse president Barack Obama, vir wie haar man geen ooghare het nie.

Sy volg Trump natuurlik ook, hoewel sy al laat blyk het sommige van sy twiets laat haar skaam kry. “Ek stem nie altyd saam met wat hy twiet nie en ek sê dit vir hom,” het sy al gesê.

Sy vat Trump aan

Trump se besluit om onwettige immigrante by die Mexikaanse grens van hul kinders te skei het hom ook tuis in die moeilikheid laat beland. Sekere kenners meen selfs dit was dalk deels deur Melania se toedoen dat Trump ’n U-draai oor sy ongewilde besluit gemaak het.

“Dit was hartverskeurend,” sê sy oor dié gebeure wat in Junie afgespeel het.

“Ek is totaal onkant betrap. Ek het dit by die huis vir hom gesê en ook dat ek voel dis onaanvaarbaar, en hy het dieselfde gevoel.”

Sy steur haar min

Vroeër vanjaar het Trump nogmaals ’n storm ontketen toe hy na Afrika-state as “sh*thole countries” verwys het. En waarheen is Melania in Oktober vir haar eerste soloreis? Na Afrika, natuurlik . . .

Melania en haar stiefdogter Ivanka.
Sy’s die top-Trump

Melania en haar stiefdogter Ivanka (37), een van haar pa se senior raadgewers, het mekaar onlangs in die openbaar die loef probeer afsteek.

Terwyl Melania in Ghana was, het sy ’n foto op haar Instagram geplaas waar sy ’n kind vashou.

Op dieselfde dag plaas Ivanka toe ’n foto van haarself waar sy saam met ’n kind poseer tydens haar besoek aan Noord-Carolina, waar sy gaan kyk het na die opruimingswerk nadat Orkaan Florence die gebied getref het.

Toe Melania dit sien, was sy blykbaar woedend en het sy ’n kabaal opgeskop omdat sy gemeen het Ivanka wil haar kollig steel.

Dinge het blykbaar so vurig geraak dat John Kelly, die Withuispersoneelhoof, moes ingryp en glo vir Ivanka aangespreek het.

‘Jy’s afgedank’ (oor my vrou)

Trump het Mira Ricardel in April as sy adjunkraadgewer oor nasionale veiligheid aangestel – en haar in November in die pad gesteek toe haar verhouding met Melania breekpunt bereik.

Blykbaar het dit in Oktober gebeur toe die vroue stry kry oor wie waar sit op die vliegtuig wat Melania na Afrika geneem het.

Maar alle hel het eers behoorlik losgebars toe dit blyk Melania het nie in die hotel in Kaïro, Egipte, gebly wat teen ’n koste van amper ’n miljoen rand van Amerikaanse belastingbetalersgeld vir haar bespreek is nie.

Melania was oortuig die storie is deur Mira gelek en het die ongewone stap gedoen om ’n mediaverklaring daaroor uit te reik.

“Dit is die standpunt van die kantoor van die presidentsvrou dat Mira nie langer die voorreg verdien om die Withuis te dien nie,” het Melania se woordvoerder, Stephanie Grisham, aangekondig.

En net die volgende dag was sy weg.

Melania en haar seun, Barron (12).
’n Toegewyde ma

Hoewel haar seun, Barron (12), nou voltyds in die Withuis woon en die gesogte St. Andrew’s Episcopal-skool in Washington bywoon, word hy selde gesien, want sy ma is vasbeslote om hom uit die kollig te hou.

Hy is die eerste seun sedert John F. Kennedy jr. wat in die Withuis woon, en Melania wil hê haar enigste kind moet ’n normale lewe lei – indien dit enigsins moontlik is as jou pa ’n miljardêrpresident is wat gereeld die nuus om die verkeerde redes haal.

Hoewel Melania ’n betrokke ma is, is sy noodgedwonge nou meer dikwels van haar seun af weg vanweë haar reise.

Gelukkig kan haar ouers ’n handjie bysit noudat hulle in Amerika woon. Viktor en Amalija Knavs het vroeër vanjaar Amerikaanse burgerskap gekry volgens die kettingmigrasiestelsel – omdat hul dogter, wat in Slowenië gebore is, reeds ’n burger was, kon hulle ook burgerskap kry.

Haar ouers verdeel hul tyd nou tussen Trump Tower in New York, Trump se landgoed Mar-a-Lago in Florida en ’n gastesuite in die Withuis.

Hulle kan dus ’n ogie hou wanneer sy reis. Heel ironies probeer Trump nou van die kettingmigrasiestelsel ontslae raak – maar Melania het nie toegelaat dat haar man se planne haar eie in die wiele ry nie . .

Sy’s ’n goeie baas

Die presidentsvrou se kantore in die East Wing word deur net nege mense beman – blykbaar minder as die helfte van haar voorgangers se personeel.

Volgens mense in die binnekring hou die Withuispersoneel baie van haar.

Dis vir hulle maklik om saam met haar te werk, want sy is daaraan gewoond om personeel te hê en weet hoe om opdragte te gee.

Hulle sê sy is aangenaam en neem hulle altyd in ag in haar daaglikse interaksie met hulle. 

BRONNE: NYTIMES.COM, VANITYFAIR.COM, CNN.COM, ABC.GO.COMFOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/REUTERS, TWITTER/@FLOTUS