Dis die glansbybel van die Britse adel. Dit lê op die kunstige deurmekaar koffietafels en fatsoenlik verslonste rusbanke van aristokrate oral in die land – die koninklike familie inkluis.

Maar die jongste uitgawe van die tydskrif Tatler sal waarskynlik deur die koninklike kring en hul welgestelde vriende onder die rusbank ingeskop of onder ’n kussing weggesteek word. 

Die voorbladstorie, ’n skinderartikel met die opskrif “Catherine the Great”, het ’n groot herrie veroorsaak. So beledigend word van die inhoud beskou dat die Kensingtonpaleis iets uiters ongewoons gedoen het: Hulle het ingetree om skadebeheer toe te pas en baie van die bewerings te weerlê.

Paleispersoneel sou dit nooit uit hul eie gedoen het nie, sê koninklike bronne: William en Kate sou daarop moes aandring. En dié feit is bevestig toe nuus bekend raak dat die Cambridges van plan is om die tydskrif te dagvaar nadat dit “ ’n rits leuens” oor die toekomstige koningin gepubliseer het.

Anna Tatler
Anna Pasternak, die skrywer agter die verdoemende artikel in die nuutste uit­gawe van die sogenaamde Bybel vir die adel, die tyd­skrif Tatler. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die egpaar is ontsteld oor die storie wat kritiek oor Kate se gewig insluit en “snobistiese en wrede” aanmerkings oor haar familie, en haar ma in die besonder, maak. William word ook as “obsessief” oor sy skoonma beskryf.

Daarby voel Kate kwansuis “uitgeput en vasgevang” oor haar groter werklas sedert Harry en Meghan die koninklike binnekring verlaat het en werk harder as wat sy ooit wou.

Die artikel bevat “ ’n klomp onakkuraathede en wanvoorstellings, wat nie voor publikasie aan die Kensingtonpaleis voorgelê is nie”, sê die paleis. Tatler se hoofredakteur, Richard Dennan, hou by sy storie en by die skrywer daarvan, Anna Pasternak, ’n blitsverkoperskrywer van The New York Times.

“Die Kensingtonpaleis het maande gelede geweet ons doen die ‘Catherine the Great’-voorblad, en ons het hulle gevra om saam daaraan te werk,” sê die tydskrif in ’n verklaring. “Dat hulle ontken hulle het ooit geweet, is ’n leuen.”

Die tydskrif het die paleis glo in Februarie genader om te vra of Kate vir hul voorblad sou poseer – dis beleefd van die hand gewys.

Die paleis sê hulle is nie ’n kans gegee om oor die artikel kommentaar te lewer nie en is in die duister gehou oor die inhoud. Hulle sê om daaroor genader te word om ’n artikel te doen is een ding – om nie die geleentheid gegee te word om op die inhoud kommentaar te lewer nie is heeltemal iets anders.

Die vete kom in ’n tyd dat Kate en William op hul gewildste is en warmte en lig uit hul huis op die platteland, Anmer Hall, uitstraal terwyl hulle saam met hul kinders in afsondering is.

Lof vir hul nederigheid en werketiek is amper universeel; hulle kan trouens op die oomblik nie ’n voet verkeerd sit nie. Met die koningin in die Windsorkasteel – hopelik ver van die coronaviruskieme wat haar dood kan beteken – is die Cambridges aan die bopunt van die koninklike piramide.

Daarom kom Anna se storie as ’n skok, vir koninklike aanhangers en ook vir die koninklike familie. Daar is geen kastaiings waarvan sy wegskram nie, en sy lewer selfs oor Kate se superskraal figuur kommentaar.

“Kate het gevaarlik maer geword, net soos – wys party mense uit – prinses Diana,” skryf Anna.

kate en diana
Anna vergelyk Kate se skraal figuur met dié van Diana, wat bulimies was. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Koninklike bronne is woedend. “Dit is so ’n uiters wrede en kwetsende steek,” sê een aan The Mail on Sunday. “Dis walglik. Dis seksisties en beledig vroue op sy ergste.”

Ook in die sensitiewe onderwerp van die onenigheid tussen Kate en haar skoonsuster, Meghan (38), word gedelf.

“Ek dink nie Kate het Meghan ooit onder haar vlerk geneem en gesê: ‘Ek sal jou touwys maak’ nie,” sê ’n vriend aan Anna.

Kate Middleton
Die stuk steek vas by die beweerde konflik tussen die twee hertoginne. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Catherine en William was van die begin af baie op hul hoede oor Meghan, wat Harry woedend gemaak het. William het Harry met reg gewaarsku om rem aan te draai met die verhouding. Dis hoekom hulle ’n uitval gehad het.”

Die artikel noem ook ’n onderonsie tussen die twee hertoginne kort voor Meghan en Harry se troue in Mei 2018. Die beweerde rusie, deur die media “Tightsgate” gedoop, het by ’n trouerepetisie gebeur oor die kwessie of die jong blommemeisies, onder andere Kate se dogter, prinses Charlotte (toe 3), moes kouse dra of nie.

“Kate het in navolging van protokol gevoel hulle moes; dit lyk netjieser en is ’n teken van respek vir die koningin. Meghan wou nie hê hulle moes nie, want dit was ’n warm dag. Die foto’s dui daarop dat Meghan gewen het,” sê nog ’n vriend.

Kate Middleton
Die artikel sê daar was ’n groot botsing tussen Kate en Meghan oor of die kinders by Meghan en Harry se troue kouse moes dra. Meghan het gewen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die voorval het Kate, wat toe onlangs aan haar derde kind, prins Louis, die lewe geskenk het, glo in trane gehad. Die koninklike kenner en skrywer Jan Moir glo nie Kate het gehuil nie.

“Ek dink graag die twee van hulle het ’n klein paar kouse tussen hulle gepluk tot dit middeldeur geskeur het, elkeen van hulle absoluut woedend,” sê sy.

“Een ’n monsterbruid op ’n sending om die ou wêreld van sy outydse gewoontes te suiwer; die ander ’n ma van drie met ’n nuwe baba, en elkeen ’n kolkende meteoriet van hormone. 

“Maar ek glo nie Kate is tot trane gedryf nie. Sy het veel meer murg in haar pype. Dit sou meer as ‘Tightsgate’ verg om haar selfbeheersing ’n knou te gee.”

Maar die bewerings dat Kate oor haar werklas gegrief voel, is wat die Cambridges die kwaadste maak.

In die verlede is Kate daarvan beskuldig dat sy nie hard genoeg werk nie. Haar man het selfs vroeg in hul huwelik tergend vir haar die bynaam “Duchess of Dolittle” gegee. Kate en William het amper ’n dekade uitgegaan voor hulle hul verlowing bekendgemaak het, en baie mense het gedink sy sou ’n voltydse werk kry voor sy ’n werkende koninklike word.

Maar al het sy by die ontwerponderneming Jigsaw gewerk en met haar ouers se partytjieonderneming gehelp, het sy haar nie juis oor ’n mik gewerk nie.

Haar gebrek aan werkgierigheid is in party kringe gespot. Koningin Elizabeth was ook glo nie beïndruk met Kate se houding teenoor werk nie.

Sy het eenkeer beweer haar skoonkleindogter “het nie veel gedoen” toe sy by die familie aangesluit het nie. Maar Kate het haarself intussen duisendvoudig bewys en is nou een van die fluksste werkende koninklikes op die rooster, en volgens koninklike personeel is sy nou trots op haar werketiek.

Dus maak Anna se bewerings seer dat die “abdikasie” van Harry en Meghan Kate uitgeput het. Volgens die artikel het Kate 11 verpligtings per maand nagekom – drie in die bestek van 24 uur.

Anna haal ’n bron na aan die egpaar aan wat sê agter Kate se kalm openbare front is sy “briesend” oor haar vele pligte.

“William en Catherine wou regtig betrokke ouers gewees het en die Sussexe het in die werklikheid hul drie kinders onder ’n bus gegooi,” sê ’n vriend.

Nog ’n vriend word aangehaal wat sê: “Natuurlik glimlag sy en trek gepas aan, maar sy wil dit nie hê nie. Sy voel uitgeput en vasgevang. Sy werk so hard soos ’n uitvoerende hoof wat heeltyd moet regstaan sonder die voordele van grense en vele vakansies.”

Maar statistieke in die Court Circular toon Kate se werklas het nie vergroot sedert Megxit nie; indien enigiets, het dit effens verklein.

Die Cambridges het van Januarie tot Maart ongeveer dieselfde getal take gehad as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, en Kate het in die werklikheid minder gedoen – 29 vanjaar teenoor 35 in 2019. Anna skets verder ’n prentjie van ’n vrou wat ontoeganklik is.

“Ek hoor dieselfde sentimente by van koninklike bronne tot dié in hoë kringe: ‘Ek weet bloot nie wie sy is nie.’ ”  

Sy haal ’n jong lid in die koninklike binnekring aan wat sê Kate het “ ’n gena- delose streep, net soos die Huis van Windsor”.

“Dis hoekom sy so goed inpas. Sy hou haarself terug, want die beloning van koningin word is so groot. Sy skoei haar op die koningin – sy praat selfs nou soos die koningin.”

En haar suster. Pippa Middleton (36), sing glo uit dieselfde Gesangeboek. “Sy verwys na haar suster as ‘Catherine’ of ‘die hertogin’ in die openbaar, wat veels te vorstelik en gedwonge klink.”

Carol Middleton
Kate se sussie, Pippa, loop ook deur oor sy glo te hard probeer. Foto: Gallo Images/Getty Images

‘Dit is so ’n uiters wrede en kwetsende steek. Dis walglik’

Maar dis Kate se ma, Carole Middleton, wat die ergste deurloop. Die 65-jarige word as “ ’n verskriklike snob” geskets wat ’n manier het om “mense die harnas in te jaag soos Kate nie eens kan doen nie”, skryf Anna. 

Carole, herinner sy lesers, is in ’n munisipale woonstel gebore en het as ’n vlugkelnerin gewerk, wat tot eindelose beledigings gelei het. Anna haal ’n vakman aan wat Anmer Hall opgeknap het.

Dié sê Carole, wat oor die projek toesig gehou het, was “die moeilikste kliënt” met wie hy al gewerk het.

“Sy was ontsettend veeleisend,” sê hy. Pleks van die slordig-sjiek voorkoms wat die Engelse aristokrate verkies, met “verslete matte en antieke meubels vol hondehare, is Anmer Hall soos ’n glansryke vyfsterhotel, met strooikussings en kerse”, sê Anna.

En dit was haar bewering dat William “obsessief” oor Carol is wat die Cambridges regtig aanstoot gegee het: “Sy is die mamma wat hy altyd wou gehad het,” skryf Anna.

Carol Middleton
Kate se ma, Carole, word geskets as ’n veeleisende en onaangename snob. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is klassesnobisme op sy heel ergste, sê ’n koninklike bron. “Die stuk is vol leuens. Daar steek geen waarheid in hul bewering dat die hertogin deur werk oorweldig voel nie; ook nie dat die hertog oor Carole Middleton obsessief is nie. Dit is verregaande en absoluut verkeerd.”

Anna het baie ervaring van skryf oor koninklikes. Sy het naam gemaak met haar blitsverkoper Princess in Love van 1994, oor prinses Diana se affair met die kavallerieoffisier James Hewitt.

En sy het ’n nuwe boek op die rakke – The American Duchess: The Real Wallis Simpson, waarin sy vergelykings tussen die beroemde Amerikaanse geskeide vrou en Meghan tref.

Anna is self van indrukwekkende afkoms. Haar oupagrootjie Leonid Pasternak was ’n impressionistiese skilder, haar grootoom Boris was ’n Nobelprysbekroonde romanskrywer, haar ouma Josephine was ’n filosoof en haar pa, Charles, was ’n Oxford-wetenskaplike.

Carol Middleton
Die artikel sê die Cambridges, veral Kate, is uitgeput deur haar vele koninklike verpligtings nadat Harry en Meghan die hasepad gekies het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nou het sy dalk die twyfelagtige onderskeiding dat sy een van die min skrywers is wat die Cambridges al kwaad genoeg gemaak het dat hulle hulle tot die hof wend.

Die egpaar het al een keer tevore die regsroete gevolg. Die euforie van hul troue in 2011 het skaars bedaar toe die wêreld in beroering was oor ’n Franse tydskrif se plasing van ’n bostuklose Kate met vakansie in Frankryk in September 2012.

Die koninklike familie het dit as grotesk en ’n skending van privaatheid veroordeel. In ’n verklaring het hulle gesê die voorval “herinner aan die ergste oorskrydings van die pers en paparazzi tydens die lewe van Diana, prinses van Wallis, en daarom des te meer ontstellend vir die hertog en hertogin dat dit so is.”

Carol Middleton
Foto: Gallo Images/Getty Images

William en Kate het gedagvaar, en in 2017 het ’n Franse hof in hul guns beslis en die tydskrif, Closer, sy redakteur en eienaar die hoogste boetes opgelê. Ons sal moet wag en sien hoe ver die Cambridges sake dié keer sal voer. Maar hulle is “uiters woedend”, sê ’n bron in die Kensingtonpaleis.

“Dit is ironies dat die koninklikes se gunstelingtydskrif nou deur hulle sleggemaak word. Die hertogin is van nature ’n skaam vrou wat net haar bes doen.” 

Bedrywige inperkingsrooster

Die paleis het dalk betwis dat Kate uitgeput en wrewelrig is oor haar werklading, maar sy was behoorlik bedrywig. Sy en William het tydens die inperking hul pligte deur video-oproepe nagekom.

Kate en William bied woorde van bemoediging aan verskeie organisasies en begunstigdes van hul welsynsaktiwiteite om hul steun te betoon.

29 MAART

Kate en William bied woorde van bemoediging aan verskeie organisasies en begunstigdes van hul welsyns­aktiwiteite om hul steun te betoon. 

9 APRIL

Hulle gesels met onderwysers en kinders van noodsaaklike werkers wat steeds aanhou om skool by te woon sodat die ouers lewens kan red.


17 APRIL

William en Kate praat met die BBC oor sy geestesgesondheidswelsynswerk asook die merkwaardige werk wat die Britse gesondheidsdienste verrig.

2 MEI

Kate praat met nuwe en swanger ma’s oor die impak van COVID-19 voor ’n week van bewusmaking oor die geestesgesondheid van nuwe ma’s.

7 MEI

Kate maak voorbrand vir die bekendstelling van ’n fotografie- projek om die coronavirus-uitbreking en die gevolge daarvan in beelde te boekstaaf.

8 MEI

Die Cambridges sluit aan by veterane van die Tweede Wêreldoorlog vir die 75ste herdenking van vrede.

13 MEI

Kate sluit aan by Sophie, gravin van Wessex, en ander om met sorgpersoneel te praat ter viering van Internasionale Verpleërdag.

15 MEI

Hulle praat met noodlynvrywilligers in Londen vir die eerste herdenking van die krisisblitslyn Shout85258.

18 MEI

Hulle begin ’n week van bewusmaking van geestesgesondheid met ’n radioveldtog waarby hul welsynorganisasie betrokke was.

20 MEI

Hulle gesels met inwoners van ’n sorgtehuis vir ou mense in Cardiff, Wallis, en bied sommer ’n aanlyn potjie bingo aan uit hul sitkamer. 

Bronne: express.co.uk, thettatler, dailymail.co.uk, harpersbazaar.com, the sun.co.uk 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe