Die baba het reeds twee neefs wat amper ewe oud is met dié dat Pierre en Andrea, Charlotte se twee broers, albei vanjaar aankomelinge in hul gesin verwelkom het.

Pierre (30) het die tweede keer pa geword met die koms van Francesco Carlo Albert in Mei, terwyl Andrea (34) sy derde kind, ’n seun, Maximilian Rainier, in April, verwelkom het.

Charlotte en haar verloofde Dimitri Rassam. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die nuwe kleinding sal ook aansluit by sy of haar sibbes, Raphaël (4), Charlotte se seun by die komediant Gad Elmaleh, en Dasha (6), Dimitri se dogter by sy eksvrou, die Russiese model Masha Novoselova (33). 

Swangerskapsgerugte het in Maart die ronde begin doen toe Charlotte by Monaco se jaarlikse Rosebal opdaag met ’n oorgroot Yves Saint Laurent-verestola oor haar swart rok gedrapeer.

Charlotte en haar seuntjie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Al was koninklike waarnemers oortuig hulle kon ’n effense babamagie onder die massa vaalpienk vere sien, is enige swangerskapsgerugte oorskadu deur die tamaai steen waarmee Charlotte aan haar ringvinger gespog het.

Die paartjie, wat in Maart op ’n skivakansie in Zürs, Oostenryk, verloof geraak het, het met graagte hul verlowing bevestig, maar nie ’n woord oor hul broodjie in die oondjie gerep nie.

Volgens die tydskrif Hola het die twee beplan om in Junie ewige trou aan mekaar te beloof, maar was hulle verplig om die plegtigheid tot ná die somer uit te stel, waarskynlik om eers hul baba te verwelkom.

‘Charlotte sal graag ’n boetie of sussie vir Raphaël wil hê,’ sê ’n bron.

Bronne: People.com, Pagesix.com