Marc Buckner en Marisia van Wyk het onlangs ’n nuw
Marc Buckner en Marisia van Wyk het onlangs ’n nuwe hond in pleegsorg geneem en het besluit om haar Lusi te noem ter nagedagtenis aan hul honde Siobhan en Luna, wat vroeër vanjaar langs die Seepuntpromenade in Kaapstad deur ’n motor getref is. Foto: Corrie Hansen

Maande lank is die twee dikwels gewaar waar hulle saam-saam op die promenade in Seepunt stap: Marc-en-Marisia, die paartjie wie se name onskeibaar geword het sedert hy háár voor die TV-kameras gekies het.

Vertel ’n bietjie van jul verhouding, toe? sou Huisgenoot dan The Bachelor se Marc Buckner en Marisia van Wyk vra. Is alles weer klopdisselboom nadat dit op Instagram gelyk het of die romanse ontspoor? Maar dan was hulle tjoepstil. Byna geheimsinnig. Die paartjie wie se verhouding op die kassie voor die ganse land ontvou het, wou skielik buite die kollig bly. 

Maar hier gesels hulle nou eindelik met Huisgenoot, en dis duidelik: Die twee is nog smoorverlief, en daar wás ’n goeie rede vir daardie swye. Hulle kyk kort-kort liefdevol namekaar en maak mekaar se sinne klaar. Van ’n TV-sprokie wat in die regte lewe gesneuwel het, is daar geen sprake nie. 

Nadat Marc (38) in die laaste episode van die tweede seisoen van The Bachelor vir Marisia (26) ’n beloftering gegee en haar gevra het om die paadjie vorentoe saam met hom te stap, het skeptici gewaarsku ware liefde is ’n ander storie as soene op die stel. 

Marisia het verlede jaar in The Bachelor SA Marc s
Marisia het verlede jaar in The Bachelor SA Marc se hart gesteel. Foto: M-Net

Toe dié episode op 28 Mei verlede jaar uitgesaai is, het die paartjie vanuit Marc se huis in Seepunt vertel die liefde blom steeds, al is verfilming reeds maande tevore voltooi. Trouens, Marisia het aan die begin van verlede jaar Kaap toe getrek en met die inperking by Marc ingetrek.

Maar skaars twee maande later skryf Marisia op Instagram: “En as ek die dag my hand in joune sit, sal ek my padkaarte bêre met die wete my reise op soek na jou is nou verby. Êrens is jy.”

Sy het dié raaiselagtige plasing daarna van Instagram verwyder, en foto’s van die twee saam het toe ook uit die sosiale media verdwyn.

Marc het toe aan Huisgenoot gesê: “Ek wil nie nou enigiets sê nie, want dit is vir my net so ’n groot skok. Ek het nie die plasing gesien nie. Sy het my geblok. Ek kan nie nou hieroor praat nie. Ek het baie om deur te werk.”

Ja, erken hulle vandag, hulle wás ’n paar dae uitmekaar.

“Ons het ’n paar dae lank ’n blaaskans gevat. Dit is normaal om opdraandes en afdraandes te hê,” sê Marc. Maar hulle het sommer gou besef die lewe is lekkerder saam, en dinge is weer op koers. En hier waar ons vandag in die Camps Bay Retreat-hotel in Kaapstad gesels, is al daardie dinge vergete.

Die paartjie sê Luna en Siobhan leef voort in hul
Die paartjie sê Luna en Siobhan leef voort in hul nuwe hond, Lusi. Foto: Instagram/@marcbuckner

Hulle wou hul verhouding ’n ruk lank buite die kollig hou, verduidelik die twee hul swye oor daardie stappies saam met hul honde, Luna en Siobhan, op die promenade. Want om ’n verhouding voor die oë van Jan Publiek te hê is nie aldag maklik nie.

Maar Marc beklemtoon sy besluit om daar voor The Bachelor se kameras sy hart aan die skaam spraakterapeut en gehoorkundige van Johannesburg te gee was die regte een. “Ek is tot vandag toe nog oortuig ek het die regte besluit geneem. Nou meer as ooit vantevore.”

Hulle móés ook ’n rukkie uit die sosiale media verdwyn – dit was vir hul eie beswil, vertel die twee. Die aandag en druk was in ’n stadium so baie dat hulle professionele hulp moes kry om dit te hanteer.

Toe die laaste episodes van die reeks uitgesaai is, het Marc en Marisia begin leer dis nie altyd maklik om ’n beroemde glanspaartjie te wees nie. Hulle moes toekyk hoe vreemdelinge negatiewe en katterige aanmerkings oor hulle in die sosiale media maak.

Marisia en Siobhan.
Marisia en Siobhan. Foto: Instagram/@ries_la_lune

“Jy begin glo dit wat hulle sê, kan dalk waar wees,” sê Marc. Genadiglik het die saamwees hulle gehelp om nie die negatiewe aanmerkings te glo nie – hulle kon mekaar gereeld herinner aan wie hulle regtig is en hoekom hulle op mekaar verlief geraak het. “Jy besef mense sit en wag op die kantlyn dat iets negatiefs gebeur.

“Dit het ons aan die begin baie geraak en was veral moeilik vir ons families. Ons het toe ’n sielkundige gaan sien,” vertel Marc.

Marisia sê dit was vir haar nog moeiliker as vir Marc omdat hy ietwat meer gewoond is aan die kollig – hy doen van jongs af al modelwerk. Die sielkundige se raad het by haar vasgesteek.

“Jy kan jou eie gedrag, aksies en reaksies beheer, maar jy kan nie diegene rondom jou beheer nie. Dit het my baie gehelp, want nou kies ek om my energie op positiewe dinge te fokus,” sê sy.

“Vir my as persoon was privaatheid nog altyd superbelangrik. Vir my is my privaat lewe my privaat lewe.” Marc en Marisia het stadig hul terugkeer tot die sosiale media gemaak, grotendeels om produkte en dienste te bemark. Hulle wil nou ’n lewe daaruit maak.

Hulle het onlangs ’n week lank die eerste keer in
Hulle het onlangs ’n week lank die eerste keer in Namibië vakansie gehou. Foto: Instagram/@marcbuckner

Die twee het pas die eerste keer ’n week lank in Namibië vakansie gehou. Hulle kan nie uitgepraat raak oor die buurland nie en sê dis die ideale vakansiebestemming. Aanhangers gaan nou nog meer van hul avonture sien, want die twee wil saam die wêreld platreis.

Dit is juis omdat hulle nou voltyds wil reis dat Marisia uit haar werk in Kaapstad bedank het. Marc het immers al in die reeks dit duidelik gemaak hy soek ’n maat wat saam met hom die wêreld sal verken. 

“Ek het my hele lewe lank graag gereis, en met die inperking was dit baie moeilik. Dis die langste wat ek nog op een plek was,” sê Marc.

Hoewel hy voorheen meestal oorsee gereis het, gaan dié twee nou Suid-Afrika en daarna Afrika verken. Hulle beoog om die plaaslike gasvryheids- en ontspanningsbedryf in die sosiale media te bevorder om die bedryf te help herstel van die verliese wat dit weens die coronaviruskrisis gely het. Daar is ook sprake van ’n reisprogram op TV, vertel hulle.

Die twee het vir die naweek kom uitspan by die hotel waar ons vandag gesels en hul nuwe aanneemhond, Lusi, saamgebring. Wanneer die hondjie nie op een van hul skote sit nie, dwaal sy ’n bietjie rond, maar sodra sy te ver gaan, roep Marc haar nader.

Dis duidelik die twee is beskermend oor hul hond nadat Luna en Siobhan in Januarie albei dood is toe Marc en Marisia op die promenade met hulle gaan stap het.

Marc en Luna
Marc en Luna. Foto: Instagram/@marcbuckner

Die twee is deur ’n motor getref en is albei op pad veearts toe oorlede. Dit was vir die paartjie ’n groot slag waaroor hulle lank gerou het. Marisia vertel Marc het die gebeure voor hom sien afspeel. “Mense het gevra hoekom hulle nie aan ’n leiband was nie, maar wat mense nie verstaan nie, is dat daardie gedeelte van die promenade leibandvry is,” sê hy. “Ek het baie saam met hulle gehardloop en hulle was altyd sonder ’n leiband.”

Marc erken hy was aanvanklik huiwerig om weer ’n hond aan te neem, maar Marisia het hom oortuig om Lusi in pleegsorg te neem. Hulle was kort daarna op ’n romantiese wegbreek in Durban, en die kennis wat toe in Kaapstad na Lusi omgesien het, het elke dag ’n foto aangestuur om hulle aan die hondjie te herinner. Dit het die paartjie se harte vermurwe en hulle het besluit om die hond permanent aan te neem.

In Februarie het Lusi haar intrek by hulle geneem. Haar naam is ter nagedagtenis aan Luna en Siobhan. Die plan is dat Lusi saam met hulle sal reis noudat hulle saam die langpad aandurf, vertel die twee. 

Wanneer sy nie kan saamgaan nie, sal sy by Marc se ma, Jenny, bly of in die dagsorgsentrum waar sy al in die verlede gebly het. Maar eintlik wil hulle haar oral met hulle saamneem. Want nou is dit nie meer net Marc-en-Marisia nie; dis Marc-en-Marisia-en-Lusi. Onskeibaar, voor en agter die kameras. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe