Maar dit lyk asof ’n nuwe vierpotige hondekind Marc se dae opvrolik. 

Marc het ’n paar skattige foto’s van ’n blouoog brak op sy Instagram-profiel gedeel.

View this post on Instagram

A post shared by Marc Buckner (@marcbuckner)

“Ek het besluit om hierdie klein reddingshond in pleegsorg te neem,” het Marc by die foto geskryf. “Daar is soveel pragtige wesens daarbuite wat liefde en ’n tuiste nodig het. Sy het regtig baie gehelp met al haar liefde en liefkosing.”

Dié oulike swart en wit hondjie is nou ’n permanente lid van die Buckner-huishouding, vertel Marc aan Huisgenoot

“Ek weet nie watter soort hond sy is nie, maar sy het die mooiste blou oë en spitsore nes Luna gehad het,” vertel hy. 

Marc en Marisia se twee honde, Luna en Siobhan, is in Januarie deur ’n motor getref langs die Seepunt-promenade in Kaapstad. Hulle het gereeld, nes talle ander Kaapse inwoners, met hul honde daar gaan stap. Albei honde het op pad na die veearts aan hul wonde beswyk. 

Die laaste foto van Marc Buckner en Luna saam. Fot
Die laaste foto van Marc Buckner en Luna saam. Foto: Instagram

Volgens Marc is dié nuweling se naam Lusi – ter nagedagtenis aan Luna en Siobhan. “Sy is so vier en ’n half maande oud,” vertel Marc.

“Sy het my die afgelope ruk baie gehelp. Ek was aan die begin maar huiwerig om weer ’n hond aan te neem,” erken hy.

Maar toe Marc die brakkie by ’n hondeaannemingsentrum teëkom, het hy besluit om haar aanvanklik in pleegsorg te neem. 

“Ek moes daarna vir ’n ruk Durban toe gaan om van alles weg te kom en toe het die eienaar van die @Fritz-dagsorg na haar omgesien. Sy het elke dag vir my foto’s van haar gestuur en dit het my naderhand oortuig om haar aan te neem,” sê Marc. 

Hy meen Lusi, wat aanvanklik skugter en bangerig was, het sedert hy haar aangeneem het, gemaklik geraak en uit haar dop begin kruip. 

“Sy groei so vinnig, en sy kry nou sommer ’n nuwe persoonlikheid. Sy is baie rustig by die huis en baie spelerig wanneer ek haar uitvat,” vertel Marc. 

“Sy is so mooi Marc, die band het klaar begin vorm,” het een aanhanger op sy Instagram-inskrywing in die kommentaar-afdeling geskryf. “Hopelik bring sy meer vreugde,” het nog een laat hoor.

Marc is ’n voorstander daarvan dat mense honde aanneem.

“Daar is honderde, duisende honde daarbuite wat huise nodig het,” sê hy.

“Ek het al seker deur die jare, in ons familie, 10 honde aangeneem en ek het nog nooit ’n slegte ervaring met hul geaardhede gehad nie,” sê Marc. “Ek hoor ook baie stories van mense wat derduisende rande vir geteëlde honde betaal en wat dan met baie gesondheidsprobleme sukkel.”

Marc het sedert die ongeluk ’n beroep gedoen dat ’n heining langs die promenade opgerig word om te verhoed dat honde of kinders tot in die pad hardloop. 


“Ons wil graag voorspraak maak vir ’n heining of afgeskorte area langs die Seepunt-promenade. Baie diere en kinders is al op Beachweg raakgery, en ons almal weet baie bestuurders slaan nie ag op die spoedbeperkings nie. Ek is oorval met stories hieroor; so as enigiemand ’n idee het oor hoe om te help of hierdie saak te bevorder, stuur asseblief vir my ’n e-pos,” het Marc op sy Instagram-blad gevra.

“Ek is steeds baie ernstig daaroor,” het Marc gesê.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe