“Ek is my loopbaan aan George Clooney verskuldig,” het die 52-jarige aktrise onlangs vir die geselsprogramaanbieder Seth Meyers gesê.

Sy het verduidelik haar karakter, Carol Hathaway, is in die loods­episode dood en sy was op die punt om ’n ander rol te aanvaar.

“Ek het byna ’n kontrak vir ’n swakkerige sitkom geteken, want ek het werk nodig gehad,” vertel die The Good Wife-ster.

“George het my uit die bloute gebel en gesê: ‘As ek jy was, sou ek nie ’n ander rol aanvaar nie, want ek dink hulle gaan jou karakter terugbring.’ ”

Hulle het haar inderdaad “uit die dood laat opstaan”.

Sy het in altesaam 132 episodes saam met George in die gewilde hospitaal-televisiereeks verskyn. Dit het haar in 1995 haar eerste gesogte Emmy-toekenning besorg.

Julianna het in die eerste ses seisoene van die gewilde mediese drama ’n hoofrol gespeel en toe haar rol as Alicia Florrick in The Good Wife losgeslaan.

Dié rol het haar ’n gesogte Emmy in 2014 besorg.