Die sanger Jo Black is nou te sien as die Riana-span se hulpafrigter in die gewilde sangkompetisieprogram.

Riana Nel, wat vanjaar vir die eerste keer as ’n afrigter in die reeks te sien is, sê sy het vir Jo as haar hulpafrigter gekies omdat sy geweet het hy sal sal die nodige diepte bring.

Sy was in die vorige seisoen self ook 'n hulpafrigter toe sy in 'n paar episodes vir die sangeres Lira bygestaan het en weet wat die rol verg.

“Jo is kort in die bedryf, maar het ’n lewe vol ervaring en ek het iemand gesoek wie se perspektief die talent kon aanmoedig,” sê Riana. 

Jo het al voorheen vir Huisgenoot vertel hoe hy jare lank gewag het om in die musiekbedryf naam te maak terwyl hy in kroeë en restaurante gesing het.

Hulle deel ook dieselfde geloofsoortuigings, voeg Riana by.

“Ek het diepte gesoek. Iemand wat meer sielkundig kon gesels en wat weet van vinnig bekend word en steeds sterk staan.”

"Dit wat Jo oorgedra het was goed vir my span”, verseker die sangeres.  

“Ek dink nie die talent het verwag om so baie eerlike raad te kry nie en ek weet die raad gaan hulle lank ná die program nog baat."

Jo Black geniet sy ervaring op The Voice.
Jo Black geniet sy ervaring op The Voice.

Riana sê Jo het vinnig besef dat “wat ons met hulle deel nie sommer lig gaan wees nie”. 

Dis nie die eerste keer wat Riana saam met Jo werk nie en hulle het al voorheen die verhoog gedeel by groot konserte soos Afrikaans is Groot. Hulle sal ook binnekort by Innibos-kunstefees in Nelspruit weer saam op die verhoog te sien wees.

Die ander afrigters in die werklikheidsreeks word ook in die volgende paar episodes deur gesoute musikante in die vermaakbedryf bygestaan. 

Die rapper Riky Rick het vir die voormalige Idols-wenner en TV-aanbieder Khaya Mthethwa gekies om hom by te staan, Francois van Coke het die hulp van die Durbanse sanger Majozi ingeroep, tewyl die Lira vir die voorsanger van Prime Circle, Ross Learmonth, gevra het om haar te help. 

  • The Voice SA word Sondae om 17:30 op MNet (DStvkanaal 101) uitgesaai.