Ja, kompleet met ’n kleurryke bloes met uitspattige moue en groot oorbelle, staan dié langbeenplastiekpop, enig in haar soort, met ’n mikrofoon in die hand.

Die Lira-pop is deel van Barbie se Shero-veldtog, wat vroulike rolmodelle oor die wêreld vereer en vier.

Mattel, wat die poppe vervaardig, het ter viering van Barbie se 60ste verjaardag, vroue soos Bindi Irwin, die dogter van die wyle natuurbewaarder Steve Irwin, die Mexikaanse kunstenaar Frida Kahlo en die tennisspeler Naomi Osaka in plastiek verewig.

En nou is Lira ook deel van dié groepie uitgesoekte vroue wat mense inspireer en as rolmodelle beskou word.


“Ek is die eerste vrou van Afrika wat so vereer word en is baie opgewonde,” het Lira by ’n foto van haar by die spesiale pop op Instagram geskryf.

“Ek was nog altyd iemand wat poog om my velkleur en natuurlike hare te vier. Dis ongelooflik om te sien dit word in die pop weerspieël, en ek hoop dit sal meisies oor die vasteland heen inspireer. Hierdie is ’n baie groot gebaar en bevestiging dat die wêreld Afrika vier,” het Lira by nog ’n foto geskryf.

Sy meen die pop se hare is haar gunstelingdeel.

Lira het ook ’n foto van haar by Mattel se Barbie-ontwerpsentrum in Los Angeles gedeel.



Op nog ’n foto op Instagram saam met haar ma, Buyi Radebe Lichaba, het sy gesê dat die projek ’n geheim was.

“Ek het dit tot en met die onthulling van my ma geheim gehou. Sy was in trane en het van trots gestraal.”