Wyn en musiek is goeie pasmaats. Dit is dié dat Tasché Burger oor haar verloofde sê: “Ek het mooi gekies.” Want die verloofde van die blonde sangeres wat verlede jaar geskiedenis gemaak het as die eerste vrouewenner van die TV-sangkompetisie The Voice South Africa is ’n aspirantwynmaker.

Jo-Lene Benade (24), ’n finalejaarstudent in wingerd-en-wynboukunde op Wellington, leer nie net vir Tasché (20) wyn drink nie. Sy was ook die medeskrywer van haar eerste treffer, “Tweedehandse hart”.

En toe Tasché besluit Jo-Lene is die een vir haar, kon nie eens die inperking haar keer om die jawoord te vra nie, soos sy onlangs in ’n inskrywing op Instagram vertel het. “Ons is nie skaam oor ons verhouding nie,” maak Tasché dit duidelik in ’n video-onderhoud uit hul woonstel in Brackenfell.

“Ons glo jy moet 24/7 jou authentic self wees.” Al het aanhangers eers in Maart verlede jaar Jo-Lene op Tasché se Instagramblad begin opmerk, ken hulle mekaar al drie en ’n half jaar.

Toe die blondekop met die groot stem verlede jaar aan M-Net se gewilde sangkompetisie deelgeneem het, het Jo-Lene gesorg dat sy elke tweede week in Johannesburg in die gehoor is wanneer Tasché sing. Nie net was sy die eerste vrou wat The Voice South Africa gewen het nie; op 19 is sy ook die jongste deelnemer wat dié prestasie behaal het.

“Ek is haar grootste fan girl,” sê die ewe blonde Jo-Lene. “Wanneer ek haar op die radio hoor sing, dan dink ek: Oe, dis so mooi.”

Toe Jo-Lene Tasché in 2017 by ’n braai van ’n gemeenskaplike vriendin ontmoet, het Jo-Lene met die eerste oogopslag gevoel: “Ek is verantwoordelik vir haar hart en ek moet dit beskerm.”

Hulle was eers vriendinne en het mekaar altyd raakgekuier. “Ek het somehow geweet iets gaan tussen ons gebeur; ek’t net dadelik gevoel Jo-Lene is spesiaal en ek wil haar storie hoor,” vertel Tasché.

“Ek het nooit gedink ek sou eendag saam met ’n meisie wees nie,” sê Jo-Lene. “Sy kon ’n ou gewees het en ek sou steeds op haar hart verlief geraak het.” Hulle het begin gesels. “En toe vat die vlamme van daar af oor,” laat Tasché kort en kragtig van haar kant af hoor.

“Ek het nooit ’n emosionele band met ’n man gevoel nie,” vertel die sangeres. “Van kleins af was ek ’n tomboy. My sussie het met Barbies gespeel en ek wou boomklim. Ek het al op 16 uitgekom, maar ek was nooit in ’n verhouding nie. Ek het gewag vir my stukkie perfeksie. “Haar naam is Jo-Lene.”

Tasche en Jo-Lene
Foto: Ryan Batt

Hulle sit by ’n houttafel in hul byderwetse, goed ingerigte kombuis vol blink toebehore toe hulle die eerste keer oor hul verhouding met Huisgenoot praat. “Ons kyk oor die heuwels van Durbanville uit,” vertel die rocker Tasché. Daar waar die wynplase ingeryg lê.

“Die ligging van ons blyplek is strategies gekies,” spot die aspirantwynmaker in die verhouding en blaas ná ’n trek aan haar elektroniese sigaret ’n klein wolkie uit.

Tasche en Jo-Lene
Foto: Ryan Batt

Op Tasché se swart Fokofpolisiekar-oortrektrui staan in wit geskryf: “Al die f***** up kinders rook.” Jo-Lene dra die wit-en-blou hempie van die Westelike Provinsie se netbalspan, vir wie sy al gespeel het. Sy kom oorspronklik van Amanzimtoti in KwaZulu-Natal.

Sy en Tasché bly al sedert die einde van Januarie vanjaar in die tweeslaapkamerwoonstel op die boonste verdieping van die blok waar hulle ook die inperking deurbring. Hulle het al baie kaart, vingerbord en PlayStation gespeel. “En byna alles op Netflix gekyk,” vertel Tasché.

Jo-Lene hou van gruwelflieks soos Terrifier, wat hulle ook saam gekyk het. “Lockdown was vir ons ’n oefenlopie,” sê Jo-Lene en draai na Tasché.

“Daar was net een keer dat jy nie wou skottelgoed was nie . . .” Tasché haak by haar in en laat hoor: “Daar was nie irritasies nie. Ons baklei nooit nie. Ek sal seker maak dit bly ná lockdown steeds so. Ek hou nie van sukkel nie.”

Jo-Lene beaam: “My ander verhoudings het nie gewerk nie. Hierdie een sal ek laat oorleef; ons twee is saam ernstig hieroor.” Twee en ’n half weke voor hul verlowing het Tasché die diamantring in Bellville gaan haal wat sy self ontwerp en daar laat maak het.

Hulle het voorheen daaroor gepraat, en Jo-Lene het vertel sy wil graag ’n kussingsnitdiamant hê. Op 27 Maart, die eerste dag van die inperking, het Tasché die ring gaan uitkrap in haar reissak in die slaapkamer waar sy dit weggesteek het.

Tasche en Jo-Lene
Die ring wat aan Jo-Lene se vinger pryk. Foto: Ryan Batt

“Ek het my knie sag op die bed laat rus en gewag tot ek jou blou oë kon sien,” het sy op Instagram geskryf. Sy het ook ’n foto gedeel van hul krismisbed voor die TV en springmielies wat om hulle gestrooi lê.

Toe sê sy vir Jo-Lene: “Ek is verlief op die natuurlike, beeldskone sonder-make-up-hare-deurmekaar-jy. Ek soek jou nes jy is. “Jy’t nog nie cliché gehad nie, en ek voel dis my plig om vir jou dit te gee omdat cliché met my naam rym en omdat jy dit verdien. Jy verdien daai cliché-liefde, waar iemand alles vir jou sal doen. So sal jy my die eer gee om my bes te probeer om dit altyd vir jou te gee? Trou met my, eers oor ’n rukkie – sodat ons mooi kan beplan, maar ja?”

‘Jy’t nog nie cliché gehad nie, en ek wil dit vir jou gee’

Hulle wil eers oor twee jaar trou, vertel Jo-Lene nou. “Ek wil eers klaar swot. Ek wil nie my eie wingerde hê nie, want plaasmoorde maak my bang. Ek sal eerder vir iemand anders wyn maak.”

Tasché spring op en gaan haal ’n groen bottel met ’n waterverfblom daarop en die naam Lelie. Dis witwyn wat Jo-Lene in haar eerste jaar as student aan die Kaapse Skiereiland-universiteit van Tegnologie gemaak het. “Sy leer my wyn drink,” vertel Tasché.

“Ons begin by wit en dan werk ons in die rigting van rooi,” las Jo-Lene by. “Ek is mos maar ’n brannasdrinker,” verduidelik Tasché.

“Olof Bergh is my ou.” Dis ongelukkig nie een van haar borge nie, spot sy. Van die vreemdste borgskapaanbiedings wat sy al gehad het, was vir balrokke om met haar optredes te dra en kunsnaels om haar op te dollie.

“Ek en Jo-Lene laat darem gereeld ons brows mooimaak,” sê Tasché, en byna gelyk wikkel albei hul wenkbroue op en af vir die pret. Nie dat die twee blondines soos vinkel en koljander is nie. Hulle verskil in meer opsigte as net hul gunstelingdrinkgoed.

“Ek hou nie daarvan om in die openbaar affectionate te wees nie. Dit freak my uit,” erken Jo-Lene. “Sy stap sommer vyf meter voor my. Dan haal ek haar in en gryp haar hand,” lag Tasché.

Tasche en Jo-Lene
In Desember was hulle saam in Nederland, waar albei drie X’e op hul arms laat tatoeëer het. Dit kom van die vlag van Amsterdam, waar Tasché saam met Francois van Coke op­getree het. Foto: Ryan Batt

“Ons doen ons ding en gee nie om wat ander mense dink nie.” Vir ’n leser wat aanlyn kommentaar gelewer het op ’n berig oor die twee se verlowing was dit duidelik minder goeie nuus. “Ag nee,” het sy geskryf, “ek wou my seun aan haar voorstel.” “Ek wil daardie tannie ontmoet,” spot Tasché. “Sy klink na ’n grapjas.”

Baie jong mense glo deesdae nie in trou nie. Maar soos die lirieke in “Tweedehandse hart” verkondig, is sy ’n “old-school meisie”. Tasché smag daarna om weer voor ’n gehoor op te tree.

Sy en Francois van Coke, wat haar mentor in The Voice was, beplan om op 9 Augustus, Vrouedag, ’n aanlyn vertoning te hou.

Haar nuutste album, Acoustic Sessions, is tydens vlak 5 van die inperking uitgereik en kan op alle stroom- en digitale platforms gehoor word.

Tasche en Francois
Tasché en haar mentor in The Voice, Francois, by die Francois van Coke & Vriende-konsert Foto: Henry Engelbrecht

Sy wil ook graag voor die einde van die jaar ’n nuwe oorspronklike enkelsnit bekendstel en volgende jaar ’n vollengtealbum. Want al is sy deesdae nes die res van die land se mense ingeperk, lyk die lewe mooi, sê Tasché.

“Dit gaan goed met my loopbaan, lewe en liefde.”