Die sangeres het onlangs foto’s in die sosiale media gedeel van haar en manlief, Heinrich (32), wat deesdae vir die Engelse rugbyklub Northampton Saints uitdraf en daar in Northampton woon.

"My hart is weer heel. Dis lekker om weer by die huis te wees – gehaltetyd voor ’n besige skedule," skryf Caroline, wat tussen Bloemfontein en Northampton woon.

View this post on Instagram

My HART is weer heel. ??_ Dis lekker om weer hy die huis te wees-“kwaliteit tyd voor ‘n besige program! #homesweethome #northampton #hubby #eindeloseliefde #rus

A post shared by Caroline-Grace (@carolinebrussow) on

En hoe voel dit om weer tuis by haar man te wees? "Ek is vier weke lank hier en my hart is weer heel," vertel Caroline (32) aan Huisgenoot.

"Ons kan nie altyd vooruit beplan oor wat om te doen nie omdat hy elke dag moet oefen en oor naweke speel," sê sy. "As daar ’n geleentheid is, vat ons die pad na die plattelandse dorpies op soek na ’n plekkie wat ons nog nie gesien het nie," vertel die sangeres.

"Ons hou ook daarvan om na die naaste kroeg in Althorp, die Coaching Inn, te gaan omdat dit soveel karakter het, of ’n lekker Americano-koffie en suurdeegbroodjie by Magee Street Bakery in Northampton te geniet," voeg sy by. 

Caroline het onlangs voor haar welverdiende wegbreek vir die tweede keer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn opgetree nadat sy in 2017 die topvier gehaal het in die TV-sangkompetisiereeks The Voice South Africa.

"Dit was ’n fees. Ek het saam met Leah, Bianca Le Grange, André Schwartz, Pieter Koen en David Johnson gesing in ’n kykNET-produksie vir hul 20ste verjaardag. Ons het van begin tot einde ’n jol gehad en die mense was fantasties," vertel sy.

Caroline, ’n prokureur van Bloemfontein, het destyds spesiaal ingevlieg van Osaka, Japan, waar Heinrich vir die NTT Docomo Red Hurricanes gespeel het, om ’n oudisie vir The Voice South Africa af te lê. Tydens die blinde oudisie sit die beoordelaars met hul rug na die deelnemer. Die sanger Bobby van Jaarsveld, wat toe nog een van die beoordelaars was, was so beïndruk met Caroline se goue stem dat hy sy stoel omgedraai en haar vir sy span gekies het.

View this post on Instagram

My #lovebug ?? _ #eindeloseliefde #kosbaretyd #datenight

A post shared by Caroline-Grace (@carolinebrussow) on

Haar debuutalbum, Eindelose Liefde, wat in 2017 uitgereik is, het snitte soos Ek Bid Vir Jou opgelewer. Al het sy ’n vol program wanneer sy van Engeland terugkeer, is sy dankbaar dat haar sangloopbaan so bedrywig is. 

"Ek werk ook aan nuwe musiek en kan nie wag om dit met almal te deel nie," sê sy.