Die sanger het vandeesweek ruiterlik erken dat sy stryd met sy seksualiteit hom keer op keer tot selfdoodneigings gedryf het.

Sy pa se selfdood jare gelede het ’n saadjie geplant wat hom etlike jare lank agtervolg het, vertel Craig Vrydag aan Huisgenoot.

Boonop moes hy aanvaar dat psigiese ongesteldheid ’n familiekwaal is; dus is hy soms tot erge depressie geneig.

Hy het juis daarom besluit om ’n ope brief te skryf waarin hy vir die eerste keer openhartig vertel van die oggend van 15 Januarie in 2016 toe hy ’n laagtepunt bereik het en die oggend op pad na sy werk homself byna van ’n trein geslinger het. 

“Ek het die oggend voor ek die brief geskryf het vir my ma en een van my pêlle vertel dat ek beoog om dit te doen,” vertel hy.

“Hulle was bang vir die reaksie wat dit sou ontlok, maar ek was kalm. Die dae en weke vantevore het dinge in my lewe net só versleg, dat ek hierdie ding net van my skouers af wou kry. Ek het gevoel ek het te lank weggekruip. 

“Daarom het ek vir my ’n koppie tee gemaak, my skootrekenaar nadergetrek en net die brief begin skryf. Daar was geen ander uitweg nie.”

Craig Lucas. Foto: Facebook

Die sanger is in Desember 2011 tydens die verjaardagpartytjie van een van sy beste pêlle vir die eerste keer met sy seksualiteit gekonfronteer. Dié besef dat hy gay is, het lank aan hom gevreet.

Vir jare aaneen was hy skaam daaroor, bieg Craig, en boonop angsbevange dat sy familie en vriende hom sou verwerp.

Tot op die oggend in Januarie 2016 toe hy tot breekpunt gedryf is en eindelik aan sy geliefdes erken wat hom nog al die jare jaag.
“Dit was sekerlik een van die vreesaanjaendste dinge wat ek nóg moes doen,” vertel die sanger.

Hy skryf in sy ope brief: “Ek het voor daardie breekpunt in Januarie 2016 ongelooflik baie oor selfdood gedink en al vir ’n geruime tyd nie meer lewendig gevoel nie. Met tye het ek gewonder of dit is hoe sommige mense voel voor hulle ’n geweer teen hul kop druk. 

“Jare lank het ek ’n groot deel van my lewe ontken. Ek was skaam vir myself en het my selfhaat gedra soos ’n ledemaat wat besig is om te verrot. Die verrotting het versprei en dit was besig om my lewe te eis.

“Ek wou nie sterf nie. Ek het gesweer dat ek nooit soos my pa sal wees nie, dat ek my ma nooit weer deur so iets sal sit nie.”

Die laagtepunt het eindelik daartoe gelei dat hy vir die eerste keer in sy lewe “vry” was, vertel hy. 

“Ek het geleer om weer vir myself lief te wees – en toe vind liefde my ook. Maar toe kom The Voice.”

Die sanger vertel hoe dié kompetisie hom op soveel vlakke gelukkig gemaak het – maar hoe sy vrese om openlik met sy seksualiteit om te gaan hom weer in dieselfde donker groef gedompel het.

Soos hy dit in sy brief stel: “Mense het vir my gesê dat ek my verhouding met ’n man ’n geheim moet hou omdat ‘niemand vir my sal stem’ as hulle daarvan weet nie, want die ‘gehoor is te konserwatief’. 

“So ek het [dit ’n geheim gehou] en toe gewen. ‘Ek is bly ek het vir hulle geluister,’ het ek destyds gedink. 

“Toe sê mense weer ‘niemand sal jou musiek koop as hulle dink jy is gay nie’ en ‘meisies is jou grootste teikenmark, jy sal jou teikengehoor van jou vervreem’. En voor ek dit besef het, was ek weer terug in die kas.”

’n Jaar nadat hy M-Net se gesogte The Voice-sangkompetisie gewen het, was hy vir die soveelste keer oorweldig met die donker gedagtes wat vir hom gesê het om sy lewe te beeïndig – selfs al was hy uiters suksesvol in sy loopbaan.

“Ek het kwaad geword. Ek het myself gehaat. Ek het elke tweede dag gemors. Daar was selfs dwelms – en ek het van myself vergeet. Ek het vergeet ek is intelligent, talentvol, snaaks en gaaf. Ek het vergeet dat ek gelief is. Dit het geverg dat ek ’n tweede keer breekpunt bereik voor ek besef het ek is besig om ’n leuen te leef.

“Ek het nou meer as ooit vantevore om voor te leef – en ek wil lewe. Die wolke in my hemel is al te lank donkergrys en swaar; en ’n wolk kan net so swaar word voor reën uit die lug neersak. 

“Ek is nou reg vir hierdie reën om te kom en al die hartseer, wat my kop en hart die afgelope twee jaar lank besoedel, weg te was.”

Hoewel hy aanvanklik bang was oor vriende, familie en aanhangers se reaksie, vertel Craig die terugvoer op dié brief was oorweldigend positief.
“Ek het nooit gedink dat hierdie brief so ’n groot uitwerking op ander mense se lewens sal hê nie. 

“Ek het eers later besef mense vereenselwig daarmee omdat ek dapper was en uit die donker gat opgestaan het. Daar is soveel mense wat ook dra aan hul eie laste – wat ook al dit mag wees – wat nou op hierdie brief reageer deur vir my te sê dit gee hulle die moed om ook ’n stap in die regte rigting neem.

“En dít maak my hart warm; dit maak my onsettend bly dat ek toe wel die brief geskryf het.”

Toe hy vroeër die week op die hoofweg ry en ’n plakkaat opmerk waarop die verhaal van sy brief groot gedruk staan, het verligting oor hom gespoel, vertel hy.

“Ek het gedink dit sou anders voel om met die hele sak patats vorendag te kom, maar ek voel net normaal. Maar normaal is vir my ’n goeie plek om te wees omdat ek vir soveel jare in ’n donker plek vasgevang was. 

“Nou hoef ek nooit meer weg te kruip nie – nie vir enigiemand nie.”