Deel

Theuns Jordaan-kankerskok: Sterre stuur boodskappe van bemoediging

akkreditasie
Die sanger en liedjieskrywer Theuns Jordaan het Vrydag bekend gemaak leukemie is by hom gediagnoseer, maar die kanker is reeds in remissie.
Die sanger en liedjieskrywer Theuns Jordaan is in
Leukemie is in September vanjaar by die sanger en liedjieskrywer Theuns Jordaan gediagnoseer. Foto: Huisgenoot/Martin de Kock

Hulle staan soos ’n leërskare agter hom, sê musiekvriende en -kollegas van Theuns Jordaan nadat dit Vrydag bekend geword het dat leukemie by die sanger en liedjieskrywer gediagnoseer is.

Theuns het dié nuus Vrydag aan Netwerk24 bevestig. Volgens ’n verklaring is sy kanker reeds in remissie nadat dit in September vanjaar by hom gediagnoseer is.

“Ek was voor die diagnose vir so twee, drie weke konstant moeg. Ek moes kort-kort gaan lê en het toe ’n afspraak by my dokter gemaak. Hy het bloedtoetse laat doen, en dis hoe hulle dit ontdek het,” het die sanger aan Netwerk24 vertel.

Theuns, wat trefferliedjies soos “Namibsroos” en “Beautiful in Beaufort-Wes” uitgereik het, sê hy het al ’n maand ná die diagnose gehoor dat die behandeling werk en die kanker in remissie is. 

Theuns Jordaan. Foto: Huisgenoot/Martin de Kock
Theuns Jordaan. Foto: Huisgenoot/Martin de Kock

Hy wou sy kankerstryd privaat hou.

“Net die mense om my het geweet,” het hy aan die webtuiste gesê. 

Al is dit nog nie finaal bevestig nie, wil dit lyk asof dokters moontlik ’n geskikte beenmurgskenker vir ’n stamseloorplanting in Duitsland opgespoor het, het die sanger vertel. Terwyl hy op die oorplanting wag, moet hy steeds vier dae lank in die volgende drie weke chemoterapie ontvang om die remissie in stand te hou.

Musiekkollegas van Theuns het Vrydag op navraag van Huisgenoot hierdie boodskappe van bemoediging aan hom gestuur:

Bobby van Jaarsveld sanger

Bobby van Jaarsveld
Theuns en Bobby saam op die verhoog in 2007. Foto: Elbé de Villiers/Bobby van Jaarsveld/Facebook

“Theuns, ek wil vir jou sê: Sterkte, ons bid vir jou en ons hele gesin dink geweldig aan jou. Jy bly in ons gebede en in ons gedagtes, en ek weet jy is ’n sterk man, jy was nog altyd.

“Jy kan enigiets vermag, want God is by jou. So sterkte, my broer, lief vir jou – en alles van die beste. Ek weet jy gaan fine wees.”

Bok van Blerksanger

Bok van Blerk
Van links is Snotkop, Steve Hofmeyr, Jo Black, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld en Theuns Jordaan tydens die Afrikaans is Groot-konsert in 2018. Foto: Jo Black/Facebook

“Oubaas, soos jy weet, is jy elke dag in my en ons hele gesin se gebede. Ons dink aan jou. Soms verstaan ’n mens nie wat die lewe na jou kant toe gooi nie, maar ons weet verseker dat jy sterker aan die anderkant van hierdie situasie gaan uitkom. Ons is baie lief vir jou.”

Corlea Bothasangeres

corlea botha
Die sangers Corlea Botha sê sy hoop Theuns besef hoeveel mense agter hom staan en hom ondersteun. Foto: Verskaf

“Ek weet nie watter woorde ons ooit kan bied aan iemand wie se woorde ons daagliks só aanraak deur sy musiek nie. Een van die lirieke uit sy lied “Bloutrein” lui : “Daar’s niemand om my op te tel nie, niemand is alleen se pel nie . . .”

As hy nie voorheen bewus was daarvan nie, hoop ek dat hy in hierdie tyd agterkom hoeveel mense die wêreld van hom dink en hom ondersteun. Ons staan bankvas agter hom.”

Schalk Joubert musikant

Schalk Joubert
Die musikant Schalk Joubert saam met sy vrou, die aktrise Vicky Davis. Foto: Instagram/Schalk Joubert

“Theuns, ons kom al ’n baie lang pad saam, my vriend. Benewens al die musiek wat ons saam kon maak, was jy ook my doopkaptein tydens my eerste jaar in die koshuis. Daar het jy my baie geleer, maar veral om sterk te staan teen baie van die lewe se uitdagings. Nou is dit jou beurt om sterk te staan, my vriend. Ek wens jou alle sterkte en genesing toe. Baie liefde, jou vriend, Schalk.”

Barry Pretorius regisseur en vervaardiger van Afrikaans is Groot

Barry Pretorius
Barry Pretorius, Corlea Botha en Theuns Jordaan op die beoordelingspaneel van 'Die kontrak'. Foto: Verskaf

“My en Theuns se pad kom al lank aan, nog voor die eerste Afrikaans is Groot in 2012. Ek het hom leer ken as ’n vegter, as ’n doelgerigte persoon wat alles in die stryd werp – ongeag wat hy aanpak.

“Theuns is een van die sterkste mense wat al ooit my pad gekruis het, persoonlik en professioneel, en ek weet gewis hy sal nie hierdie ding hom laat onderkry nie. Sterk wees, my vriend. Daar is nog vele konserte, projekte en dinge wat vir jou wag.”

Ilza Roggeband joernalis

Ilza Roggeband
Die voormalige 'Huisgenoot'-joernalis Ilza Roggeband werk al twee dekades lank nou saam met Theuns Jordaan. Foto: Verskaf

“Ons het mekaar in 2000 die eerste keer ontmoet. Huisgenoot was vir die eerste keer by die KKNK met ’n klein verhogie; Theuns was daar met sy eerste CD, Vreemde stad. Ek was die eerste joernalis wat ’n onderhoud met hom gevoer het.

“Die foto wat in Huisgenoot verskyn het, is met my mik-en-druk geneem. Tóé al het ek twee dinge geweet: Hier is ’n groot talent, en hier is ’n man wat nie musiek maak vir die kollig nie. Hy was skaam. Nog altyd versigtig vir die aandag. Deur die jare ál meer. 

“Theuns is een van die min bekendes wat nog altyd gevoel het hy moet dit verdien om aandag in die media te kry. Hoe lank het ons nie gewag vir die eerste Huisgenoot-voorblad nie!

Theuns op 'Huisgenoot' se voorblad, 31 Julie 2003
Theuns op 'Huisgenoot' se voorblad, 31 Julie 2003

Toe ek jare later by Huisgenoot bedank, was Theuns die eerste een wat gevra het of ek sy media sal hanteer – of hom uit die media te hou, soos hy altyd spot.

“Toe hierdie bom vandeesweek bars, was dit ék wat die mediaverklaring vir Netwerk24 geskryf het. Steeds was dit Theuns soos ek hom deur die afgelope 20 jaar leer ken het: Hier is die inligting, hou daarby, gee wat nodig is, maar steeds moet sy lewe nie aan die groot klok gehang word nie. Ek het dit nog altyd van hom waardeer. Hy het nog nooit iets probeer voorgee wat hy nie is nie. What you see is what you get

“En nou, in hierdie tyd, is my wense vir hom: Wees wie jy altyd was. Die een wat vir ander baklei. Die een wat al soveel dinge vir ander gedoen het waarvan niemand weet nie. Maar baklei hierdie keer ook vir jouself. Hard! Weet dat daar derduisende mense is wat jou ondersteun en jou met liefde gaan omring. Staan sterk. Hierdie sal ook verbygaan.”

’n Kenner vertel

Wat is Akute Miëloïede Leukemie (AML)?

Prof. Michael Herbst, ’n gesondheidspesialis verbonde aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), verduidelik Akute Miëloïede Leukemie (AML) is ’n akute soort bloedkanker van die miëloïede bloedselle.

“Dit word gekenmerk deur vinnige groei van abnormale selle wat in die beenmurg sowel as die bloed opbou en normale bloedselvorming teenwerk en gesonde bloedselle verdring,” verduidelik hy.

Hy meen akute leukemie is “gevaarliker” as chroniese leukemie.

“Daar is verskillende vorms van bloedkanker (leukemie) en elkeen verkry sy naam afhangend van die tipe bloedselle wat betrokke is,” sê hy.

“Akute Miëloïede Leukemie is een van die gevaarlikste soorte bloedkanker. Sommige bronne dui die gemiddelde oorlewingstydperk (ná diagnose) as vier tot ses maande aan, somtyds selfs met aggressiewe chemoterapie. Maar dit is belangrik om te onthou dat elke individu uniek is en dat dit nie onmoontlik is vir iemand om langer te oorleef of selfs in remissie te gaan nie.”

Wie is die vatbaarste?

Volgens Herbst hou Suid-Afrika nie baie goeie statistiek met kanker nie.

Die jongste Nasionale Kankerregister is ’n register van 2016. Volgens dié register is die meeste gevalle in dié jaar by mans gediagnoseer.

Moontlike risikofaktore sluit in:

  • Manlike geslag
  • Rokers
  • Vorige chemo- of bestralingsterapie
  • Vorige diagnose (as kind) met akute limfoblastiese leukemie
  • Geskiedenis van vorige bloedsiektes 

Wat is die simptome?

Volgens Herbst sluit die aanvanklike simptome bloedarmoede in aangesien normale bloedselle (rooibloedselle in hierdie geval) verdring word deur leukemiese selle.

Nóg simptome sluit in: Koors, moegheid, ’n bleek vel, ’n vel wat maklik kneus, ’n neiging om maklik te bloei, geswelde limfkliere en tandvleise of ongewone bloeding soos onverwagte neusbloeding asook moontlike bloeding van die tandvleis, skeletpyn, buikongemak van ’n geswelde lewer en milt en bloedstroominfeksie. 

Hoe word dit behandel?

AML kan deur middel van chemoterapie behandel word. “Stamsel-oorplanting kan gedoen word nadat hoë dosering-chemoterapie en heellyf-bestraling gedoen is,” sê Herbst. “Met die beste huidige behandeling is daar heelwat gevalle aangeteken wat in remissie is – selfs gevalle waar dit nie nodig was om stamsel-oorplanting te doen nie.”

Hy vertel ’n beenmurgoorplanting sal afhang van hoe suksesvol die aanvanklike chemoterapie was en meen die stamselbehandeling skep die geleentheid vir die pasiënt se “nuwe” beenmurg om gesonde bloedselle te vorm.

– Jana van der Merwe

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

8 Junie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees