Theuns Jordaan
Die sanger Theuns Jordaan sê hy is nie in die waakeenheid opgeneem te midde van sy stryd teen leukemie nie. Foto: Argief

Gerugte in die sosiale media dat die sanger Theuns Jordaan weens sy stryd teen leukemie in die waakeenheid opgeneem is, is vals, het die sanger Woensdag bevestig.

Verskeie gerugte, wat onder meer na Theuns se toestand as “kritiek” verwys terwyl hy glo in die waakeenheid is, het vandeesweek ’n gegis oor die welstand van die sanger ontketen.

Dis dié gerugte wat hom nou genoop het “om die feite reg te stel”, het Theuns Woensdag by monde van sy mediawoordvoerder, Ilza Roggeband, laat hoor.

Theuns Jordaan
Sy behandeling vorder goed en sy herstel verloop soos beplan, sê Theuns. Foto: Martin de Kock

Ja, hy ís in die hospitaal, sê Theuns, maar nie in die waakeenheid nie.

“Ek is op die oomblik in die hospitaal op die skedule soos dit deur die mediese span beplan is,” sê Theuns. 

Leukemie is in September verlede jaar by Theuns gediagnoseer waarna hy dadelik met chemoterapie-behandeling begin het. Dokters het destyds bevestig hy het akute miëloïede leukemie – oftewel AML. Dié soort kanker begin in die bloedvormende selle van die beenmurg. 

Teen Desember verlede jaar het die sanger gesê daar word nog gesoek na ’n geskikte beenmurgskenker, maar intussen was daar ook goeie nuus: Theuns het op 5 Maart ’n beenmurgoorplanting ondergaan.

Ons almal weet daar is krag in gebed.....en Theuns Jordaan het julle gebede nou nodig. Ons dink aan jou en bid vir jou ??

Posted by Elizma Theron on Tuesday, March 16, 2021

“Alles gaan volgens plan sedert die beenmurgoorplanting plaasgevind het,” sê Theuns. “Dit is glad nie waar dat ek in die waakeenheid is of ooit was nie.”

Tientalle kunstenaars en groepe het vandeesweek saamgetrek en gevra vir boodskappe van gebede en bemoediging tydens die sanger se stryd teen bloedkanker. Die gerugte het verwys na ’n “terugslag” wat die sanger beleef het en voorts genoem dat dit “nie goed gaan” met sy gesondheid nie.

My vriend...ons het min saam gewerk, maar ons ken mekaar, het saamgesing en jy het my woorde en wysies gesing. My hart...

Posted by Rudi Claase on Tuesday, March 16, 2021

Maar dis nie waar nie, sê Theuns. “My dokter sê alles is normaal en soos dit moet wees.”

Die sanger het aanhangers bedank vir hul boodskappe van bemoediging en ondersteuning.

“Nietemin wil ek baie dankie sê vir almal se boodskappe, gebede en wense van beterskap. Ek waardeer dit opreg.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe