In sy nuutste onderhoud met The Sun, het haar pa, Thomas Markle (74), onthul hy beplan om ’n boek te skryf oor Meghan se kinderjare en die goeie herinneringe wat hy van haar grootwordjare het.

Meghan Markle,Prins Harry,Thomas Markle,Koninklike
Meghan Markle. Foto: Getty Images

“Ek verlang baie na Meghan. Sy was ’n groot deel van my lewe totdat sy vir Harry ontmoet het,” sê Thomas, wat nog geen kontak met sy dogter gehad het sedert sy in Mei verlede jaar met prins Harry (34) getrou het nie. Dit kom nadat hy kort voor hul groot dag vir "steelfoto's" vir die paparazzi poseer het en weens gesondheidsredes nie haar troue bygewoon nie.

Sy't ook glo nie eers hom laat weet sy is swanger nie. Die uitgetrede televisiebeligtingsregisseur, wat in Rosarito in Mexiko woon, het in Oktober oor die radio in sy motor gehoor dat sy dogter swanger is met haar eersteling terwyl hy in ’n tou gewag het om die grens tussen Mexiko en Amerika oor te steek.

In sy onlangse onderhoud het Thomas onthul hoe hartseer hy is oor hy die koue skouer gekry het, berig Express.

“Hierdie hele ding was veronderstel om een van die trotsste oomblikke in my lewe te wees,” het Thomas vertel.

“Nou is dit soos ’n droom wat in ’n nagmerrie ontaard het. Die koninklikes en Meghan kan help om ’n einde aan hierdie nagmerrie te maak deur my eenvoudig te bel. Ek kan aan niks dink wat ek tot dusver gedoen het om hierdie behandeling te verdien nie,” voeg hy by.

"Op Kersdag het ek vriende besoek en baie foonoproepe gekry van elke familielid wat ek het - behalwe my dogter. Ek het dit verwag." 

Thomas spoel gereeld sy mond in die media uit. Nou beplan hy boonop ’n boek.

Hy is nie al Markle wat ’n boek met onthullings oor Meghan beplan nie. Meghan se halfsuster, Samantha (54), stel ook in April of Mei haar boek, In the Shadows of the Duchess, vry - en dit boonop in dieselfde tyd wat die hertogin van Sussex geboorte aan haar en prins Harry se eersteling skenk, berig Daily Star.

“In the Shadows of the Duchess dek alles … die wêreld ken nie die volle waarheid nie. [Ek] hou niks terug nie! Van wiegeliedjies tot leuens, dis alles daar in my boek,” onthul Samantha. 

Bronne: ExpressDaily StarThe Sun