“Die ou Thys is weer terug!” sê hy opgewonde. En ’n mens kan sommer hoor daar is weer ’n lag in sy stem.

Huisgenoot het in Maart vertel hoe die altyd-vrolike Bosveldklong verlede jaar met MS (meervoudige sklerose) gediagnoseer is. Hy het permanente pyn in sy bene gehad, sy balans was versteur en hy kon slegs met behulp van ’n kierie met moeite oor die weg kom.

Toe het dit vir hom soos ’n doodsvonnis gevoel, het hy destyds vertel. Maar ook bygevoeg: “Hierdie ding gaan ek fight. As ek hom onderkry, sal ek enigiets anders ook onderkry.”

En Thys hét hom geveg, al was die pyn die meeste van die tyd ondraaglik. Maar daardie pyn is nou weg en sy kierie staan in die hoek van sy kamer, want hy het dit nie meer nodig nie, sê hy.

“Ek is dankbaar, want gaan alles in die lewe maar nie uiteindelik oor dankbaarheid nie? As ‘n mens sonder ’n kierie toilet toe kan stap, dan het jy baie om voor dankbaar te wees.”

Hierdie ommeswaai volg nadat hy vir die afgelope paar weke deur die Inca Health-kliniek in Middelburg, waar hy bly, behandel is. Hulle het hom tot dusver tien keer met die Hocatt Tegnologiesisteem behandel en hy het sommer gou die verskil in sy lyf begin agterkom, vertel die sanger.

Thys het verlede week ook uitsy deeltydse pos by die radiostasie Kosmos Stereo 99.3 FM, wat vanaf Middelburg uitsaai, bedank. Hy moet nou aandag aan sy eie projekte begin gee, verduidelik hy.

“Binnekort kan ek weer gatswaai op die verhoog.”

Nadat hy verlede jaar met MS (meervoudige sklerose
Nadat hy verlede jaar met MS (meervoudige sklerose) gediagnoseer is, is Thys nou op die herstelpad.

Intussen skryf hy liedjies vir sy nuwe album wat teen die einde van die jaar uitgereik sal word. Die eerste enkelsnit vanaf die album, die romantiese ballade “Jy”, is aan die begin van April aan radiostasies uitgereik. Hy werk ook aan ’n konsep van 'n nuwe radio-program wat hy aan een of twee van die land se grootste radiostasies gaan voorlê.

“Natuurlik sal dit 'n humorprogram wees. Hoe dan nou anders? Humor, gemeng met staaltjies, kuns en musiek.”

Nadat hy sy kierie gaan bêre het, het sy humorsin stelselmatig weer sy menswees oorgeneem.

“Binnekort is ek weer so pittig  soos 'n longdrop in turksvytyd,” sê hy. En dan lag hy spontaan uit sy maag vir sy eie grappie.

Dis wat Thys se behandeling behels

Suster Ina Niemann van die Inca Health-kliniek in Middelburg bevestig Thys se verbetering. Sy sê hulle het hom die afgelope drie weke gedurende tien sessies met die Hocatt Tegnologiesisteem behandel.

Dit behels basies dat hy binne ’n kapsule toegemaak word waarin stoom geblaas word. Die stoom open die porieë in die vel waarna die kapsule met osoon-gas gevul word wat die liggaam tot op sellulêre-vlak penetreer. Dit herstel die wanbalans in die selle.

Die behandeling sluit elektro-terapie in wat weer die spierfunksies herstel. Thys het ook ’n reeks vitamien-inspuitings gekry om sy immuniteit te verbeter en die liggaam te detoks. Hy word teen die einde van April geëvalueer waarna ‘n besluit oor verdere behandeling geneem sal word, vertel Ina.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.