“My troudag kon nie meer volmaak of skouspel­agtig gewees het nie. En dit het niemand in die minste getraak dat ek toe al 73 jaar oud was nie. Ek het die hele ding self gereël en onder meer 100 000 rose in­gevoer om die erf van ons huis in Switserland te versier.

Die egpaar in 2013 op hul troudag saam met haar oudste seun, Craig (links), en twee van haar bekende vriendinne, Oprah Winfrey (naaslinks) en Gayle King.

Terwyl vriende op die pragtige dag in Julie 2013 vergader en aan sjampanje teug, hang die wonderlikste geur in die lug. My keuse van troumusiek is weldeurdag. Luister ’n mens na Frank Sinatra se My Way, beskryf die woorde my lewe volmaak: The record shows I took the blows / And did it my way.

Daardie een móés ek net speel. Ten spyte van my stormagtige eerste huwelik met Ike Turner het ek liefde gevind wat my wildste drome oortref.

Eers toe ons vir die foto’s regstaan, begin ek ’n bietjie vreemd voel. Dit moet die hitte wees, dink ek, of die rok – ’n Armani-heerlikheid van groen tafsy, swart sytulle en Swarovski-kristalle wat elke oomblik swaarder voel.

Later sou dit blyk daardie duiseligheid was die eerste teken van ’n bittere beproewing wat later sou volg . . . ’n nag­merrie wat eers sou eindig toe my dierbare man, Erwin, vir my die grootste geskenk aanbied wat hy kan; die geskenk van die lewe self.

Ek en Erwin het mekaar 28 jaar tevore die eerste keer ontmoet. Ek het toe die wêreld vol gereis met my Private Dancer-­toer, wat my baie min tyd vir ’n persoonlike lewe gelaat het.

Nie dat ek ooit baie kêrels gehad het nie – ek was my hele jeug saam met Ike – en ná my egskeiding was dit dikwels meer moeite om met mans uit te gaan as wat dit werd was.

Ek was nooit een van daardie vroue wat moes seks hê, maak nie saak wat nie. Eerlikwaar, ek sou soms ’n jaar lank daarsonder klaarkom.

In daardie week in 1985 was my volgende optrede in Keulen, Duitsland. Toe ek en my bestuurder, Roger, daar land, is ek moeg en ’n bietjie bedruk terwyl ek dink aan die uitmergelende toerprogram wat voorlê.

Ons stap deur die lughawe toe ’n jong man van agter ’n pilaar uitkom om ons te groet. Ek dink eers hy’s dalk ’n aan­hanger, maar Roger groet hom hartlik.

Erwin Bach, ’n uitvoerende beampte van EMI, my platemaatskappy in Europa, het ’n verrassingsgeskenk van Roger aan my kom oorhandig – ’n nuwe Mercedes-­sportnutsvoertuig, die skaars G-Wagon. Maar die eintlike verrassing is nie die motor nie, maar die man.

My hart begin skielik BOEM, BOEM, BOEM klop en doof alle ander geluide uit. My hande is yskoud. Dan is dit wat hulle liefde met die eerste oogopslag noem, dink ek. Liewe Vader, ek is nie reg hiervoor nie.

Erwin en Tina in 1985 in Hollywood, kort nadat hulle begin uitgaan het.

Roger spring in ’n wagtende limousine en ek klim saam met Erwin in die G-Wagon sodat hy my op pad hotel toe alles daaroor kan vertel. Ek bestudeer sy profiel. Hy is jonk, omtrent 30, raai ek, en hy is baie aantreklik, maar nie op die konvensionele manier nie. Donker hande, baie mooi hande. Sy hande betower my . . .

Skielik voel ek onseker oor my eie voorkoms. Ek dra ’n Issey Miyake-langmoutop by leerjeans – ruk-en-rol-drag – en my hare is ’n groot, welige bos. O, en asof die hare nie erg genoeg is nie, is ek 46, geskei en die ma van twee seuns en twee stiefseuns wat al so te sê self volwasse mans is.

'n Begeerlike vrou

Wat gaan deur Erwin se gedagtes?

Later, veel later, sou ek uitvind hy het dieselfde onverklaarbare elektrisiteit tussen ons gevoel. Toe hy na my kyk, het hy vertel, het hy nie die “ster” of my velkleur of enige ander besonderheid raakgesien nie. Hy het net ’n baie begeerlike vrou ­gesien.

In die G-Wagon is ons gesprek ’n bietjie gespanne. Ons kry dit reg om hortend oor die instrumentpaneel en ander on­skadelike dinge te praat tot ons by die hotel aankom. Nadat ons gegroet het, val ek op my hotelbed neer en dink: “Hemel, hy’s wonderlik. Regtig wonderlik. Wat doen ek nou?”

Toevallig kry ek Erwin weer by ’n paar aandetes te sien wat EMI gereël het. Die tweede keer sit ons langs mekaar. Ek sê toe vir myself: Ek gee nie om nie; ek gaan hom net vra.

“Erwin,” fluister ek, “wanneer jy Amerika toe kom, wil ek hê jy moet met my liefde maak.”

Hy draai sy kop stadig en kyk my aan asof hy nie sy ore kan glo nie. Ek kan ook nie glo ek het dit gesê nie.

Later het hy vir my gesê ’n vrou het hom dit nog nooit tevore gevra nie. Sy eerste gedagte was: “Sjoe, die Kaliforniese vroue is wild.” Maar ek was nie wild nie. Ek het nog nooit tevore so iets gedoen nie. Ek het myself nie herken nie.

Eindelik kom Erwin Los Angeles toe vir sake, en ek kry hom weer by ’n aandete te sien. Daarna nooi ek almal na my huis. Dis toe dat ons ware romanse begin.

Musiek speel, die ander gaste dryf weg, die soenery begin en ons soen die hele pad tot in die slaapkamer. Erwin bly die aand by my oor.

'n Briesende Tina

Die volgende oggend moet hy op ’n sakereis na Hawaii vertrek. Twee dae lank boer hy in my gedagtes – en toe bel hy en noem terloops sy reis is gekanselleer.

Hy het heeltyd ’n paar kilometers van my in Malibu saam met sy kollegas uitgehang en nie daaraan gedink om dit vir my te sê nie. Ek probeer kalm bly, maar in my binneste is ek briesend.

’n Paar maande gaan verby. Ek loop Erwin raak terwyl ek Private Dancer in Basel, Switserland, bemark, en al my gevoelens kom met mening terug.

Ek huur ’n huis in Gstaad vir die vakansie en nooi hom en van die ander mense van EMI om te kom kuier. Een aand daag Erwin alleen op. Hy dra ’n vreemde Duitse hoedjie en straal ’n manlikheid uit wat ek onweerstaanbaar vind.

Teen die einde van die aand besluit ek om sak en pak by hom in te trek. Daarna sou my tuiste wees waar Erwin ook al is. So begin my liefdesverhaal met ’n man wat 16 jaar jonger as ek is. Maar dit is nooit vir my ’n kwessie nie.

Vir die wêreld is Erwin dalk Tina se “jonger man”, maar eintlik is hy in sy hart 60 en ek 16. Hy was nog altyd ’n ou siel. En hy is baie meer volwasse as ek: Hy dink vooruit en is versigtig, terwyl ek eerder sal inspring sonder om te kyk.

Op 46 het ek in elk geval nie ouer as Erwin, toe 30, gelyk nie. En ek sou later ook nie ouer as hy begin lyk nie. Ek dink nooit oor die ouderdomsverskil nie. Ek voel ook nie eens ek hoef moeite te doen om mooi te lyk in die bed nie; ek is verby daardie stadium.

Wat het liefde daarmee te doen? Baie!

Dit sou later blyk ek het die regte besluit geneem toe ek my 10 Louis Vuitton-­tasse pak en by Erwin se tweevertrekwoonstel in Keulen intrek. Daar merk ek op dit het ’n wonderlike klankstelsel, maar weinig meer.

'Ons verskil hemelsbreed'

Toe ek Erwin ’n bietjie beter leer ken, kom ek agter “minimalis” is sy middelnaam: Hy verpes ’n klomp goed wat rondstaan. Ek sal weer op elke oppervlak boeke, kerse, ­foto’s, potpourri, enigiets neersit om dit persoonlikheid te gee.

Al verskil ons dekorsmaak hemelsbreed, is ek halsoorkop verlief op Erwin. Vir die eerste keer voel ek ek is waarlik in ’n verhouding. Dit is hoe dit veronderstel is om te wees, sê ek vir myself.

In 1989, met my 50ste verjaardag wat nader kom, vra hy my die jawoord. Maar ek is nie seker hoe ek oor die huwelik voel nie. Die huwelik kan dinge laat verander en in my ervaring nie altyd ten goede nie.

Die volgende paar jaar bring ons baie tyd saam in Keulen deur en in ’n huis wat ek in die suide van Frankryk koop. In 1995, toe Erwin gevra word om die EMI-­kantoor in Switserland te bestuur, het ek hom soos ’n goeie Duitse frau vergesel. Ons trek by ’n ou villa aan die Zürich-meer in, waar ons vandag nog woon.

In 2008 vertrek ek op my 50th Anniversary-toer om my halfeeu as sangeres te vier. Ek is opgewonde om weer te werk, maar ek kom agter ek is nie so energiek soos ek altyd was nie.

Dis waar; ek is 69 en op ’n veeleisende wêreldtoer. En ek het hoë bloeddruk, waarvoor ek sedert 1985 medikasie gebruik. Is dit waarom dit elke druppel energie van my verg om elke aand my vertoning te lewer?

Nadat ek soveel jare so hard gewerk het, is ek reg om op te hou. Aan die einde van die toer hang ek my dansskoene op en gaan huis toe. Uit die staanspoor geniet ek aftrede. Ek wil net kos koop, saam met Erwin gaan stap, in my tuin werk, kyk hoe die seisoene by die meer verander en, bowenal, die stilte geniet.

'n Weerligstraal

Ek voel goed. Ek het nooit gerook of dwelms gebruik nie. Ek is nog viets en fiks ná 50 jaar van strawwe oefening op die verhoog. Ek lyk ook nog heel goed: In 2013 vra die Duitse Vogue my trouens om op hul voorblad te verskyn. Ek dink ek kan met veiligheid sê op 73 is ek toe die oudste “voorbladmeisie” in Vogue se geskiedenis.

Die vorige jaar vra Erwin my weer om te trou en dié keer sê ek met oorgawe ja. Dit is ’n verbintenis wat nie vir my maklik is om aan te gaan nie, maar ek weet hy is die liefde van my lewe.

Maar as jy die noodlot wil uitdaag, moet jy planne beraam.

Op ’n doodgewone Oktober­oggend in 2013, net drie maande ná ons wonderlike troue, word ek wakker en voel ’n weerligstraal my kop en regterbeen tref. Ek probeer praat, maar kry geen woord uit nie.

Dis ’n beroerte.

Dit is ’n groot slag vir my liggaam: My hele regterkant voel lam. Ek moet met ’n fisioterapeut saamwerk om weer te leer loop, sê ’n dokter vir my, en dit sal ’n probleem wees om my regter­hand te gebruik. Maar die sielkundige uitwerking is nog erger. Ek voel mistroostig.  

Maar ek sit nie net met die nagevolge van die beroerte nie: My dokter is bekommerd my hoë bloeddruk kan my niere aantas. Hy verwys my na ’n spesialis. Dr. Jörg Bleisch, ’n uitstekende nefroloog, lig my in my niere funksioneer net 35% normaal.

Ons moet dit fyn dophou, sê hy, en skryf nog medisyne voor om my bloeddruk te beheer. Ná ’n ruk begin ek ’n weersin in al die medisyne ontwikkel; ek is seker dit laat my minder op en wakker voel.

Koebaai, konvensionele medisyne

Toe ’n vriend ’n homeopatiese dokter in Frankryk aanbeveel, besluit ek om my vertroue in ’n genesing van ’n ander soort te stel. Die homeopaat vervang my konvensionele medisyne met homeopatiese middels en sê die gifstowwe in die water by Chateau Algonquin tas my liggaam aan.

Gretig om ’n nuwe benadering te volg, al klink dit ook hoe vergesog, vervang ek al die pype in die huis en laat ons water met kristalle suiwer.

Die nuwe behandelings laat my werklik beter voel. Die moeilikheid begin toe ek vir nog ’n ondersoek na dr. Bleisch gaan. Ek voel piekfyn en verwag goeie nuus. Daarom besluit ek dit is tyd om te bieg oor wat ek gedoen het.

Groot fout. Hy lyk geskok en skepties. My versuim om my hoë bloeddruk te behandel, sê hy, het basies my niere vernietig.

As ek maar net met die medikasie aangehou het. As, as, as . . . My dwase besluit spook by my, maar Erwin verwyt my nie een keer daaroor nie.

Kort hierna begin my gesondheid weer agteruitgaan. Ek word te swak om uit die huis te gaan. Ek moet al my krag inspan om van die slaapkamer na die badkamer te steier.

Dié keer word ingewandskanker in ’n vroeë fase by my gediagnoseer – ’n karsinoom en verskeie kwaadaardige poliepe.

Terwyl ek op ’n operasie wag, huil ek by Erwin: “Is jy nie jammer jy het met ’n ou vrou getrou nie?” Gelukkig straal hy altyd selfvertroue uit en dit help my kalm bly.

’n Maand ná my diagnose laat ek ’n deel van my ingewande verwyder. Die dokters is optimisties en ek kry weer ’n greintjie hoop.

Maar teen Desember 2016 is my nierfunksie op ’n nuwe laagtepunt van 20% en dit daal vinnig. Ek het twee keuses: gewone dialise of ’n nieroorplanting. Slegs die oorplanting bied my ’n baie goeie kans op ’n feitlik normale lewe, maar die kans om ’n skenkernier te kry is skraal.

In dié stadium is Switserland se syfer vir orgaanskenking een van die laagstes in Europa. Dit beteken dat ek op 75 waarskynlik nooit tot boaan die waglys sal vorder nie.

Dr. Bleisch reël dat ek met dialise begin. “O nee, nee, nee,” sê ek vir hom. “Ek leef nie op ’n masjien nie.”

Dit is nie my idee van die lewe nie. Maar die gifstowwe in my liggaam begin die oorhand kry. Ek kan nie eet nie.

Ek oorleef, maar leef nie.

’n Voordeel van die lewe in Switserland is dat bystand­selfdood wettig is, al moet die pasiënt self die dodelike middel toedien. Verskeie organisasies kan die proses vergemaklik, soos Exit en Dignitas. Ek sluit by Exit aan, net ingeval.

'My toekoms is ons toekoms'

Dis toe dat die idee van my dood vir Erwin ’n werklikheid word. Hy is emosio­neel daaroor dat hy my nie wil verloor nie. Toe skok hy my. Hy sê hy wil vir my een van sy niere gee.

Die enormiteit van sy aanbod oorweldig my. Maar omdat ek hom liefhet, is my eerste reaksie om hom te probeer ompraat om nie so ’n groot en onomkeer­bare stap te doen nie.

Hy is ’n jong man. Waarom so ’n risiko loop om vir ’n ouer vrou ’n paar ekstra jare te gee? Sê nou hy het eendag ’n probleem met sy oorblywende nier? Maar Erwin is vasbeslote. “My toekoms is ons toekoms,” sê hy vir my.

By die universiteitshospitaal in Basel kry ons bemoedigende nuus: Toetse wys ons het dieselfde tipe A-bloedgroep.

Ons groot dag word vir 7 April 2017 beplan. Twee operasiesale word voorberei, een vir die skenker en een vir die ontvanger, twee chirurgiese spanne, twee van alles.

Erwin se operasie word eerste uitgevoer. Dit is te verstane dat ek angstig is oor die oorplanting, maar my grootste kommer is oor hom. Ná sowat ’n uur is dit my beurt.

Toe ek wakker word, is ek so deur­mekaar, alles voel soos ’n droom. Dit neem ’n ruk voor ek verstaan ek is in die waaksaal. Die volgende dag, nadat ek ’n paar keer versigtig my vingers en tone gestrek het, besef ek ek voel piekfyn.

Teen 2016 was Tina se niere so swak, sy moes dialise ontvang. Erwin het toe gesê hy sal vir haar een van sy niere skenk.

Die beste oomblik is toe Erwin in sy rolstoel in my kamer ingery kom. Hy kry dit reg om goed te lyk, selfs aantreklik, terwyl hy my met ’n opgewekte “Haai, liefling!” groet. Ek is baie emosioneel; gelukkig, oorweldig en verlig dat ons dit oorleef het.

Ek word ná net sewe dae ontslaan en Erwin herstel nog vinniger. Hy is dadelik weer sy ou self en sedertdien volstoom aan die gang.

Maar ek beleef hoogte- en laagtepunte. My liggaam probeer aanhoudend my nuwe nier verwerp, wat nie ongewoon is ná ’n oorplanting nie. Dit beteken ek moet sterk dosisse immuun­onderdrukkers drink om my teen­liggaampies te verswak en te keer dat dit ’n orgaan aanval wat dit nie herken nie.

Soms behels die behandeling, wat duiseligheid, vergeetagtigheid en angs­tigheid veroorsaak, dat ek weer in die hospitaal opgeneem moet word.

Verlede jaar kort voor Kersfees het ek energieker begin voel. Maar ek probeer nie die noodlot tart nie; ek weet my mediese avontuur is nog lank nie verby nie. Dit blyk ná ’n oorplanting wag altyd nog ’n toets, nog ’n doktersafspraak of biopsie.

Maar ek is nog hier. Ons albei is nog hier, nader aan mekaar as wat ons ons ooit kon voorstel, en dit is rede vir ’n viering.

Vroeër vanjaar saam met haar man, Erwin Bach, by die Paryse Modeweek in Frankryk. Hy is 16 jaar jonger as sy en hulle is al 27 jaar saam.

Erwin weet die ou Tina is eindelik terug toe ek daaroor opgewonde raak om Kersornamente op te hang en nuwe tafels vir die leefvertrek te bestel.

Ná soveel jare van bang en siek wees verlustig ek my in die louter vreugde daarvan om te leef.

’n Vertaalde en geredigeerde uittreksel uit My Love Story deur Tina Turner; uitgegee deur Century.
Beskikbaar teen R245 by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, VERSKAF
Tina en Ike

Ike, gebore Wister Turner, het in 1956 'n tiener genaamd Anna Mae Bullock ontmoet. Hulle het twee jaar later getrou en die metamorfose van Anna Mae na Tina Turner het begin. Hulle het as die Ike & Tina Turner Revue opgetree en 'n string treffers het gevolg.



Maar Tina het Ike in 1976 gelos nadat sy dekades lank deur hom mishandel is. In haar outobiografie I, Tina wat in 1986 gepubliseer is, vertel sy meer oor die aard van die mishandeling.

Die fliek What's Love Got To Do With It (met Angela Bassett as Tina en Laurence Fishburne as Ike) wat in 1993 uitgereik is, is op haar outobiografie gegrond.

Op 8 Oktober 2006 trou Ike met Audrey Turner in Las Vegas. Sy was sy 14de vrou. Dus is dit seker nie vreemd dat die seremonie net deur die bruidspaar en die huweliksbevestiger bygewoon is nie.

Ike het op 12 Desember 2007 in sy San Marcos-huis in Kalifornië gesterf. Hoë bloeddruk en emfiseem het sy gesondheid belemmer nadat hy 'n oordosis kokaïen geneem het.

En in 2016 publiseer Audrey haar biografie getiteld Love Had Everything To Do With It. Daarin vertel sy meer van die mishandeling waaronder sy deurgeloop het, maar dat sy "verstaan" hoekom hy haar mishandel het.

Bykomende bronne: biography.com, afro.com, amazon.com