Hulle het sedert einde verlede jaar beplan om vakansie te gaan hou op die prentjiemooi Maledive-eilande. “Dit is ’n plek op ek en Toks se emmerskoplys. Ons het elke keer asem opgehou as daar ’n vlakverskuiwing was weens covid-19,” vertel Carol aan Huisgenoot. 

Hulle het eindelik besluit om in Junie saam met vriende op die eiland te gaan vakansie hou. Hulle het op 5 Junie daar aangekom en sou op 12 Junie terugkeer, maar nou is hulle steeds op die eiland. 

View this post on Instagram

A post shared by Toks Van Der Linde (@toks6902)

“Die dag voor ons moes terugvlieg is ons almal vir covid-19 getoets. Dis per Suid-Afrikaanse regulasie om te kan terugkeer huis toe,” vertel Carol. “Dieselfde aand het Toks ’n oproep van die hospitaal gekry om te sê hy is positief,” voeg sy by.

Volgens Carol het sy en hul vriende negatief getoets vir die coronavirus en het sy aanvanklik verward gevoel toe sy hoor haar man het positief getoets. 

“Ek moes dadelik my tasse pak om na ’n ander kamer te trek. Ons het met niemand in aanraking gekom behalwe by die lughawe en op die vliegtuig nie. Skielik het dit gevoel asof ons sprokie ’n nagmerrie word,” sê sy. 

Hulle albei is nou reeds ses dae in kwarantyn. “Ons villas is oorkant mekaar op die eiland. Die regering hier het gesê ons mag die 25ste terugvlieg Suid-Afrika toe.” 

Vir nou doen hulle gereeld video-oproepe om met mekaar te gesels. “Dis baie maklik om gou na mekaar te gaan en net ’n drukkie te gee, maar ons respekteer die virus en die protokol. Die foon is op die oomblik ons enigste manier van kommunikasie met mekaar en ons mis mekaar vreeslik,” sê sy. 

“Dit gaan al beter, maar ’n ou bly moeg,” vertel Toks oor sy toestand. 

“Ek het verlede week Vrydag positief getoets, so dis al amper ’n week. Ek voel al baie beter en die dokter op die eiland is ongelooflik goed vir my. Hy kyk baie goed na my en my vrou en hulle is 24/7 aan diens.” 

Dit was vir hom ook ’n groot skok toe hy die uitslae kry. “Hierdie ding tref enigiemand. Ek glo altyd die liewe Vader het ’n doel met alles. Dis tyd om 'n bietjie jou selfrespek terug te kry, om 'n bietjie selfondersoek te doen en net 'n bietjie te reflekteer oor jou lewe. Dis wat my ook baie help hier.”

Hy vat dit dag vir dag, sê Toks. “Ek en my vrou het vandag gehoor dat ons volgende Donderdag weer getoets word en as ons negatief is, kan ons volgende Vrydag huis toe gaan, anders moet ons nog 14 dae bly. 

“Ons kan regtig nie kla nie, dit kon soveel erger gewees het,” sê Carol. Die verlange na hul huis, familie, vriende en hondjie bly groot.   

“Gelukkig het ons ’n groot groep ondersteuners wat ons in hierdie tyd dra. Dankie aan elkeen, ons harte is dankbaar vir almal se omgee,” sê sy. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe